top of page
Writer's pictureNG Margate

WAARDIGHEID

OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks

10 JULIE 2020

MATTEUS 25:34-40

ONS KOM VOOR GOD…

Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.

Haal diep asem: in en uit.

Wanneer jy reg is, bid tot die Here.


YSBREKER

# Watter mense is vir jou van minder waarde? Mense met tatoeërmerke? Mense wat rook? Mense wat motorfiets ry? Mense wat wyn drink? Prostitute? Bediendes? Tuinwerkers?

# Hoekom dink jy voel jy dat hulle minder waarde het as jy?

# Dink jy God dink so oor hulle?

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing

Kom ons loof die Here met die volgende liedere:

Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 523 Goddelike liefdebande

TEKS

* Lees Matteus 25:34-40 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees Matteus 25:34-40 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

Hierdie is seker een van die bekendste tekste in die Bybel. Ek het dit self al so baie keer gehoor en dit was nog altyd ‘n boodskap wat elke mens oproep tot barmahrtigheid en die versorging van ander.

Maar vanaand voel dit vir my asof ek ook eerder die vraag wil vra: “Here, wanneer het ek U honger of dors of as ‘n vreemdeling of siek of in die tronk gesíén?” Want ek voel bietjie soos die tannie wat aankom by die kinderpartytjie en vir die verjaarsdagmaatjie sê: “Sjoe! Ek het jou lanklaas gesien! Kyk hoe groot het jy geword.” Ons voel soms asof ons die Here lanklaas gesien het. Maar vandag se teks herinner ons daaraan dat ons die Here op baie plekke sien. Die verskil is dat dit dikwels nie is soos om die verjaarsdagmaatjie by die verjaarsdagpartytjie raak te loop nie. Nee. Soms sien ons die Here op vreemde plekke – en dan sien ons Hom nie raak nie.

Dit laat my dink aan Petrus wat Jesus op die water sien loop het en almal het outomaties gedink dit is ‘n spook. Hulle moes sekerlik vir Jesus herken het, maar omdat hulle Hom nie daar verwag het nie, het hulle Hom nie herken nie.

Dieselfde gebeur met die dissipels wanneer Jesus uit die graf opgestaan het. Hulle herken Hom nie, want hulle het Hom nie dáár verwag nie. Hulle het Hom nie só verwag nie.


Ek dink ons doen dieselfde.

Ons roep uit na die teenwoordigheid van die Here, maar is blind wanneer Hy voorons staan, want dit lyk nie altyd soos wat ons verwag het nie. In hierdie teks is die Koning immers nie die een met koninklike klere en ‘n septer en ‘n kroon nie. Nee, die Koning was die Een wat honger en dors was; wat naak en vreemd was; wat siek en in die tronk was. Die Koning het die Beeld van Iemand wat ons nie in ons wildste drome as die Christus sou kon herken nie.

So wat beteken dit vir ons?

Dit beteken eerstens dat ons met ‘n oopheid vir God se teenwoordigheid moet lewe. Ons moet minder onsself toemaak vir dinge wat bo ons verwagtings is. Ons moet keer dat ons vooropgestelde idees en verwagtings vir ons die enigste waarheid word.

Maar tweedens, word ons ook aangespoor om God-vresend te wees. Maar hierdie beteken nie “ ‘n vrees vir God nie”. Om God-vresend te wees, beteken dat ons God die respek en eer gee wat ‘n Almagtige en ganz andere God toekom. Ons word aangespoor om so te leef asof elke mens die beeld van God is.

Want elke mens is die beeld van God. Elke mens is met dieslefde waardigheid geskep. God het geen mens met minder waarde geskep as ‘n ander een nie. God het nie witbroodjies nie. Daarom word ons soveel te meer in hierdie teks opgeroep om mekaar se waardigheid te onthou, te beklemtoon en te koester.

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Hoekom is dit belangrik dat ons ons vooropgestelde idees opsy moet skuif as dit kom by die wil van God?

# Dink jy dat jy ook ‘n klinklare idee van God gaan hê? Of lê die skoonheid van geloof daarin dat ons ons hele lewe lank verwonderd deur die misterie van God kan leef?

# Hoekom dink jy is dit belangrik om te beklemtoon dat God-vresend nie beteken “om God te vrees”?

UITDAGING

Gaan kyk weer na die verrassende maniere waarop Christus te voorskyn kom in hierdie teks. Probeer om vir elke verrassende manier vir jouself ‘n aksie te kry wat jy in die komende week kan uitvoer.

AFSLUITING

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Mag die verrassende Here by jou wees op maniere wat jou in verbaasheid en verwondering sal laat. Mag Hy jou lei om ander te help sodat hulle ook die Naam van die Here sal loof. Mag die Heilige Gees jou versterk in hierdie roeping. Amen.

73 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page