‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks oor die kerk.
DIE LOTE & DIE WINGERDSTOK
21 SEPTEMBER 2020 JOHANNES 15:5
ONS KOM VOOR GOD…
K – Kom ons word rustig daar waar ons nou is.
A – Asem diep in en uit (drie keer).
L – Let op hoe jou lyf ontspan
M – Moenie enige gedagtes keer nie, maar laat dit verby jou vloei.
T – Tel in jou kop drie dinge waarvoor jy vandag dankbaar is.
E – “Ek is okay,” – sê dit vir jouself hardop.
Daarna kan jy tot die Here bid.
TEKS
* Lees Johannes 15:5 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Johannes 15:5 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
“Baie geluk, jy het die eindpunt behaal.”
Klink hierdie woorde dalk bekend?
Om die eindpunt van iets te bereik kan ‘n baie lekker ervaring wees: jy het die wenstreep van die maraton bereik; jy het jou kamer klaar geverf; jy het jou Universiteitsgraad ontvang. ‘n Einde kan lekker wees. ‘n Eindpunt kan ons motiveer om harder te probeer en klaar te maak.
Maar ons kan ook vasgevang raak in die “eindes”. Ons kan leef asof die “eindpunt” die ding is wat ons moet bereik. Maar wat kwalifiseer as die “einde” vir ‘n gelowige? Want selfs al antwoord ons: “Die dood,” weet ons steeds dat selfs die dood nie ‘n gelowige se absolute einde is nie. Selfs die dood kan nie keer dat ons by God kan kom nie. Wat is die “einde” vir ‘n gelowige?
Miskien is die einde nie soseer ‘n eindbestemming nie. Die “Hemel” is ook nie die prys wat ‘n gelowige ontvang vir goeie dade wat op aarde uitgevoer is nie. Nee, miskien is die belangrikheid van geloof juis daarin dat dit geen einde het nie. Want God se liefde het geen einde nie. En God se redding het geen einde nie.
Tog raak ons vasgevang in ons wêreld met die idee dat ons “na iets toe” moet werk. ‘n Beter toekoms, “a better tomorrow”. En dit is nie ‘n slegte motivering vir hierdie lewe nie, want ons moet elke dag daaraan werk om môre beter te maak. Ons moet elke dag werk sodat ons môre mekaar meer kan liefhê, mekaar meer kan verstaan en mekaar beter kan ken. Maar ons doen dit nie om “‘n plek te bespreek in die Hemel” nie. Nee, want God se redding het reeds aangebreek. Met Christus se einde het Christus begin.
Dit is die beeld wat ons beter raaklees in die Evangelie van Johannes. Alhoewel ons baie van die beeldspraak van hierdie Evangelie hoor by begrafnisdienste, gaan hierdie Evangelie oor die lewe wat ons nou reeds leef. Ja, dit sê dat God ook in die môre sal wees. Maar meer as dit bevestig die Evangelie dat God ook vir nou is. Die Evangelie beklemtoon dus die ewig-durende en die standvastige en die aanhoudende teenwoordigheid van die Here…by ons…ook in hierdie wêreld.
Daarom hoef ons nie die lewe en redding as iets te sien wat in ‘n verre, “hemelse” hoop vir ons lê nie. Nee, ons lewe en ons hoop is reeds nou gevestig in die teenwoordigheid van God. Daarom skryf die skrywer: “Wie in My bly…” Ons bly reeds nou in die teenwoordigheid van die Here. Dit is interessant dat die skrywer “bly” en “glo” dikwels as wisselterme gebruik – maar albei as ‘n werkwoord. Dit beteken dus dat die skrywer dui op die werklikheid van die “lewe in Christus” en die belofte dat daardie lewe reeds nou geleef kan word.
Wanneer ons dan dink aan onsself as die lote wat deur Christus moet vrug dra, kan ons nie eintlik wag vir ‘n volgende dag nie. Ons kan nie eens wag vir ‘n volgende minuut nie! Ons moet reeds nóú lewe met die wete dat ons leef in die werklikheid van Christus as opgestane Here. Ons moet nie vasgevang word in beloftes dat ons eers eendag sal liefhê of dat ons eers eendag sal vergewe nie. Nee, ons leef nou reeds so. Weereens, nie omdat ons ‘n prys daarvoor verwag nie. Maar omdat ons so toegewyd is aan die Here, dat ons nie eintlik anders kan nie. Wil ons nie immers hê dat ander ook reeds nou van die Goeie Nuus moet hoor nie?
Wanneer ons onsself opnuut toewy aan die kerk, dan wy ons onsself opnuut toe aan die belofte wat ons aan God maak. Ja, die Liggaam van Christus is die Kerk, maar as kerk belowe ons om as gelowiges mekaar aan te spoor in die geloof. Kom ons wy dus onsself vandag nog opnuut toe aan mekaar – wie ook al deel van hierdie “mekaar” is.
Amen.
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Mag jy die Here se Teenwoordigheid vandag tasbaar beleef.
Mag jy die Here se Genade vandag raaksien in die dinge rondom jou.
Mag jy jouself opnuut toewy aan God en saam as geloofsgemeenskap reeds nou werk sodat almal sal weet dat Christus lewe.
Comments