top of page
Search
Writer's pictureNG Margate

DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS

OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks


6 JULIE 2020

1 KORINTIËRS 12:12-26

ONS KOM VOOR GOD…

Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.

Haal diep asem: in en uit.

Wanneer jy reg is, bid tot die Here.


YSBREKER

# Hoekom dink jy het goed soos die Reformasie of kerkskeuring plaasgevind?

# Hoe dink jy oor die eenheid van die kerk? Is dit ‘n sigbare eenheid?

# Dink jy eenheid in ‘n Teologiese sin kan verskeidenheid ook akkommodeer?

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing

Kom ons loof die Here met die volgende liedere:

Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

- Ek sal nie bang wees nie (https://www.youtube.com/watch?v=M-ZEQNwZVh0)

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 154 Kom nou tesaam, laat ons vergader

TEKS

* Lees 1 Korintiërs 12:12-26 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees 1 Korintiërs 12:12-26 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

Eendrag. Eenvormigheid. Eenders.

Dit is dalk elkeen van ons se wens vir hierdie wêreld: dat mense net meer soos ek moes dink oor goed; dat meer mense net soos ek kon voel oor goed; dat meer mense maar net soos ek was. Waar kom hierdie gevoelens vandaan?

In die Sielkunde leer ons dat die eerste menslike reaksies op die omgewing die vorming van die self is. Jy leer waarvan jy hou, wat jou bang maak, wat jy nodig het en hoe jy dink. Dit is net natuurlik om dan ander uit te soek met dieselfde of eenderse patrone. Dit is die vorming van ‘n groep – die “ons”. Maar soos die self en die “ons”-konsep groei, groei die “hulle”-konsep ook. Dit wat nie pas by die “ons” nie word gesien as die ander. Maar daarna is die self en die “ons” veronderstel om te groei en te ontwikkel sodat die “ons” en “hulle” uitgefaseer kan word daar ‘n nuwe, diverse, groep kan ontstaan. Ongelukkig haak ons meestal net vas by die “ons” en “hulle” stap.

Christelike kerkeenheid is ook ‘n konsep wat vasgehaak het by “ons” en “hulle”. Ons stry en twis en skeur en hervorm en reformeer. Soms vir geldige redes, soms vir minder geldige redes. Ek dink nie dat kerkgroepe verkeerd is nie. Ek dink daar is iets moois aan die keuse om in te skakel by NG, Hervormd, Gereformeerd, Katoliek, Baptisties ens. Maar ongelukkig stop ons nie by die “ons gaan ons eie gang nie.” Nee, ons neem so dikwels deel aan wat ons noem “church bashing” – ons sê ander kerke sleg; ons lag vir hulle manier van doen; ons skinder en is lelik met hulle. Hoeveel keer het jy nie al immers die woorde gehoor: “Jy weet daai happy, clappy, kerk…” of “Ons tieners word gesteel deur daardie mense…

Miskien voel ons bedreig in ons manier van kerkgaan, wat ook al dit mag wees, omdat ons steeds daarop gefokus is om mekaar iets te leer. Ons wil so graag vir iemand anders leer wat die regte ding is om te doen. Ek wonder hoe sou dit lyk as ons eerder gefokus was daarop om by mekaar te leer. Sou ons kon leer oor die belangrikheid van eksegese en kritiese denke in die NG kerk? Sou ons kon leer oor die belangrikheid van dissipline in die Hervormde kerk? Sou ons kon leer van die skoonheid van rituele in die Katolieke kerk? Of van atmosfeer in die Charismatiese kerk?

Of sal die oor vir die hand sê: “Omdat ek nie ‘n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie.”

Of sal die oor sê: “Omdat ek nie ‘n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie.”

Miskien as die oog en die hand en die kop en die voet vir mekaar sê: “Ek het jou nodig, nie om vir jou iets te leer nie, maar om by jou iets te leer,” sal ons dalk saam kan bly wees.

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Ons is dikwels bang vir die boodskappe wat ander Christelike kerke kan verkondig, soms vir geldige redes. Maar dit beteken steeds nie dat ons ander kan sleg sê nie. Hoe dink jy moet ons eerder optree?

# Martin Luther is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat gemeen het dat mense self ook moet dink oor God en die kerk, eerder as wat daar vir hulle voorgesê word. Dink jy dit is belangrik om krities om te gaan met die geloofsboodskappe wat jy hoor selfs in jou eie gemeente?

# Hoe dink jy moet ons eerder geloofsverskille oplos?

# Hoe dink jy kan ons die eenheid van die Kerk (nie die kerk) behou saam met verskillende kerke?

UITDAGING

Dink na oor ‘n Christelike kerk wat goed doen op maniere waarvan jy nie hou nie. Lees op oor die kerk en kry een ding wat jy wel by hulle kan leer.

AFSLUITING

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Mag die Here wat sosiale grense afbreek by jou wees en jou versterk. Mag die Here wat jou insluit en jou uitnooi by jou wees. Mag die Gees van hierdie transformerende God by jou wees. Amen.

95 views1 comment

Recent Posts

See All

1 Comment


Willem Schoombee
Willem Schoombee
Jan 09

Die verskillende denominasies kerke is nie die lede van die liggaam nie. Ons as Christene in die kerk is die lede, en die kerk is die liggaam. As ek katoliek is en vir Maria prys, dan beteken dit nie ek is steeds deel van Christus se liggaam nie. As ek 'n Christen is wat fokus op suiwer woord, dan is ek 'n ledemaat, wat saam met ander Christene die kerk, of liggaam, vorm.


Met hierdie stuk kan mens argumenteer dat Jehovas/Jode ook deel is van die liggaam van God, wat baie ver van die waarheid af is.


Waarmee ek saamstem is dat mens iets by hulle kan leer in hulle kerkwees/geloof uitleef - maar definitief nie in wat hulle glo…

Edited
Like
bottom of page