OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS
‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
8 JULIE 2020
EFESIËRS 5:25-27
ONS KOM VOOR GOD…
Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.
Fokus op jou liggaam waar jy nou sit. Voel die stoel waarin jy sit en jou voete op die grond. Haal rustig asem en beleef die oomblik
YSBREKER
# Kyk vir so ’n minuut of twee na die skildery van Frans Claerhout hierbo.. Dit is die skildery van ’n ma wat ’n kind vashou. Ervaar in jou lyf wat jy voel en beleef. Wil jy iets vir die Here sê in gebed?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
- Laat ons sing van ons Verlosser (https://youtu.be/D3kXFFkXKrQ)
- Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
Houtkruis-prophet
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 322. God se liefde so oneindig
TEKS
* Lees Efesiërs 5:21-33 (veral 25-27)en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Efesiërs 5:21-3 (veral 25-27) en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Dit mag dalk na ’n vreemde teks klink om te gesels oor Christus se liefde vir Sy kerk. Waar anders as juis in die pragtige deel oor die riglyne vir ’n Christen huwelik in Efesiërs. Paulus noem hier dat die huwelik ’n afskaduwing is van die verhouding tussen Christus en Sy kerk. Ons gaan egter nie oor die huwelik spesifiek gesels nie. Behalwe dalk om te sê dat die onderdanigheid beginsel en die liefde beginsel wat hier vermeld word op beide man en vrou betrekking het. Hier vind wel ’n verbesondering plaas van die twee beginsels. Jesus se liefde vir die kerk word as voorbeeld voorgehou vir die verhouding tussen man en vrou.
God gebruik die Christen se huwelik om ander iets te laat begryp van die wonderlikheid van die verhouding tussen ons as bruid en ons Bruidegom Jesus Christus. Hoedanig was Jesus se liefde?
Jesus se liefde vir Sy kerk is opofferend, reinigend, sorgsaam en onbreekbaar.
· Ons verdien nie Jesus se liefde nie, maar Hy offer alles op, Hy gee Sy lewe aan die kruis om ons te red. Hy het ons nie lief omdat ons oulik is nie, maar omdat God liefde is. Hy reik altyd na ons toe uit, al is ons soms ondankbaar. Hy was ons voete al vertrap ons soms daardie liefdesbewyse.
· Sy liefde reinig, want al verdwaal ons soms in die varkhok van die lewe, die bloed van Jesus reining ons van elke sonde, selfs sewentig keer sewe. Ons breek baiekeer die Here se hart. Jesus se liefde hou egter nie boek van die kwaad nie. Hy het ons nie lief sodat Hy iets by ons kan kry nie. Hy het lief omdat Hy so besluit het.
· Jesus se liefde is sorgsaam. Jesus sorg nie vir Sy bruid, sy gemeente hier op aarde omdat die een hand die ander was nie. Hy doen dit nie omdat ons eers ’n klomp dinge vir Hom gedoen het nie. Hy begin elke dag van vooraf met ons, omdat Hy wil, dit deel is van Sy ewige verbintenis aan ons. Hy het lief, al ken hy ons eie gebrekkige liefde.
· Jesus se liefde is onbreekbaar. Selfs al het hy geweet al Sy dissipels sou die rug op Hom draai, daardie aand toe Hy deur Judas verraai is, brand Sy liefde vir hulle te sterk. Daar is niks wat ons kan doen wat kan maak dat God ons meer lief het nie en niks wat ons kan doen wat maak dat God ons minder lief het nie. Hy het lief al verag ons soms daardie liefde, al byt ons soms die hand wat ons versorg. Onthou dat kort voordat Hy verraai is, Jesus Judas, die verraaier se voete was. (Sien Johannes 13). Hy kon Judas ordentlik aanspreek sonder uitbarstings. Jesus se optrede laat die deur oop vir Judas om Hom te kon liefhê. Jesus het nie toegelaat dat emosies Sy optrede bepaal nie.
· Wat beteken die liefde van Jesus dan vir ons in ons huwelik, in ons verhoudings met ander, veral teenoor mede-gelowiges? Christene vra nie wie hulle liefde verdien nie. Jy het lief. Jesus sterf immers vir onverdienstelikes.
· Christene het lief en reik uit na andere al voel hulle nie so nie. Liefde is immers nie ’n gevoel alleen nie, dit loop uit op ’n daad van oorgawe. Jesus se liefde loop risiko’s, dit loop uit op Golgota. Ja, ons kan nie op presies dieselfde wyse as Jesus liefhê nie. Ons struikel so baie kere. Daarom moet ons nie peil trek op ons emosies nie. Erken teenoor die Here dat jy sukkel om lief te hê. Vra dan dat Sy liefde jou vul, die liefde wat so onmeetbaar, onpeilbaar groot is, dat dit bereid was om vir jou die kruisweg te gaan.
BESREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Lees Paulus se bede in Efesiërs 3: 18 en 19 in stilte en biddend deur. Dink daaroor na Wat beteken dit vir die tema van die Bybelstudie: “Christus se liefde vir die kerk.”
# Hoe lyk ’n gemeente waar die lidmate deur die liefde van Christus gedring word se betrokkenheid by die gemeente se lewe? Hoe lyk jou liefde vir die gemeente?
# Hoe lyk ’n kerk wat deur die liefde van Christus gedring word se uitreik na die wêreld? Dring die liefde van Christus jou om uit te reik na andere?
UITDAGING
Watter implikasies het die liefde van Jesus vir jou as lidmaat van die kerk, Sy liggaam op aarde? Identifiseer een gawe in jou lewe wat die Here aan jou gegee het wat jy tot Sy eer kan gebruik, solank jy nog gespaar is hier op aarde.
AFSLUITING
* Bid die gebed vir jouself en daarna vir die groep.
Here, U Woord sê dat U liefde is. Tog slaag ek nie eens daarin om aan die wete, dat U liefde is, vas te hou nie. En tog is U liefde. Maak nie saak in watter rigting ek daarvan probeer wegkom nie. Dit is die een ding waarvan ek nooit vry sal wees nie. Die wonderlike wete dat U liefde is. Daarom kan ek nie, wil ek nie vashou aan U liefde nie-is dit juis U liefde wat my vashou, o oneindige liefde. Amen
(Gebed van Kierkegaard)
תגובות