top of page
Writer's pictureNG Margate

VRIENDSKAP

OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks


03 JULIE 2020

Johannes 15:9-17


ONS KOM VOOR GOD…

Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.

Fokus op jou liggaam waar jy nou sit. Haal rustig asem en beleef die oomblik

Wanneer jy reg is, bid tot die Here.


YSBREKER

# Kan jy dink aan ’n vriendskap wat vir jou baie beteken het in jou lewe? Deel met iemand hoekom dit vir jou so kosbaar was en hoe jy ook so ’n vriend vir iemand kan wees.


LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing

Kom ons loof die Here met die volgende liedere:

- This is the air i breathe – Michael W Smith (https://youtu.be/mEDcKZB7r2A)

- Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

Wat ’n vriend het ons in Jesus. Rina Hugo

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 495 Jesus, U verbly my

TEKS

* Lees Johannes 15:9-17 sowel as Johannes 13: 34-35 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees Johannes 15:9-17 sowel as Johannes 13:34-35 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.


BOODSKAP

Hoe sal jy vriendskap definieer? Ek lees die op Internet: “Goeie vriende is lojaal en aanvaar jou vir wie jy is. Hulle staan by jou in goeie en slegte tye. Goeie vriende is eerlik, eerlik genoeg om jou te vertel as jy self nie ’n goeie vriend is nie. Vriende spandeer tyd saam en is nie afgunstig op mekaar nie.” Ek is seker jy sou nog ’n langer lys kon maak van kenmerke van vriendskap.

Die probleem is dat nie almal ’n magdom vriende het op wie hulle kan staatmaak nie. Inteendeel sommige mense het dalk net een of twee vriende en ander is eensaam uitgesluit, sonder dat mense noodwendig daarvan weet.

Die Here Jesus Christus se woorde aan Sy dissipels in Johannes 15:15 tref mens: ‘Ek noem julle nie ondergeskiktes nie, ek noem julle vriende.” Jesus het ruimte gemaak vir mense. Sy twaalf dissipels is uiteenlopende persoonlikhede. Hy sluit hulle in by Sy vriendelys, selfs vir Judas wat Hom later in die rug sou steek. Dit is nie maklik om ruimte te maak vir ander mense in jou lewe nie. Dit vra selfverloëning. Dit kan wees dat ons jare lank in ’n gemeente lidmate kan wees en steeds uitgesluit voel. Dit gebeur baie maklik dat gemeentes net hul harte oopmaak vir mense wat hulle heersende kultuur en gebruike ondersteun. Die kerk word dan ’n klub vir eendersdenkendes. Mense wat anders dink bedreig die geloofsfamilie en word nooit eintlik verwelkom nie.

Jesus sê dat ons onderlinge liefde vir mekaar nie so moet wees nie, maar dat ons meer moet doen as wat normaalweg gevra word. Dit vra buitengewone selfverloëning, ’n gemeente waar elke lid diensbaar aan die ander is. Die band wat ons as gelowiges in ’n gemeente het is selfs groter as die band wat ons met ons eie bloedfamilie het.

Jesus noem Sy volgelinge vriende. Dit sluit elke ware gelowige in. Jesus neem Sy vriende in Sy vertroue. Hy is altyd daar vir ons en sal ons nooit in die steek laat nie. Hy aanvaar ons. Hy vergewe ons sewentig maal sewe. Hy maak Sy planne en drome aan ons bekend in Sy Woord. Hy vermaan ons as ons afdwaal. Hy maak ons deel van ’n geloofsgemeenskap waar ons tuis kom. Meer as dit: aan die kruis lê Hy Sy lewe af vir sy vriende. Jesus noem ons wat ons vertroue in hom stel, vriende...

Vir wie is jy ’n goeie Christenvriend? Wie in die gemeente is jou vriende? Wie sluit ons as gemeente in en wie sluit ons uit? Ons kan dae lank oor hierdie tema van vriendskap filosofeer. Ek wonder of die tyd nie gekom het dat ons meer omgeegroepe en Bybelstudie groepe in die gemeente vestig waar lidmate in kleiner byeenkomste, daar kan wees vir mekaar en waarlik mekaar se laste kan help dra, in mekaar se lief en leed kan deel, vir mekaar kan omgee nie?

Ek noem julle vriende, sê Jesus, julle kan op My reken. Ek is daar vir julle, tot die voleinding van die wêreld. Vriende van Jesus is mense op wie jy kan reken. Ons maak Sy hart bly as ons uitreik buite ons gemaksone na ander toe. Ek wonder, is daar iemand in die gemeente wat op jou kan reken? Is jy bereid om biddend ’n nuwe vriend in ons gemeente te soek en die persoon in jou lewe in te nooi?


BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Hoe voel jy oor die volgende stelling uit Spreuke 27:6: “Op ’n vriend wat jou seermaak kan jy reken; iemand wat jou haat is oordadig met sy soene.” Motiveer jou antwoord.

# Is jy bereid om te bid om ’n kleingroep leier te word van sê maar ’n Bybelstudie of omgeegroep waar julle soos vriende vir mekaar kan omgee?

# Jesus het op Golgota Sy lewe vir jou afgelê? Hoe kan jy daarvoor dankie sê?

# Wat dink jy van die feit dat in Jesus se vriendekring daar ook ’n Judas Iskariot, die verraaier was? Wat sê dit vir jou van Jesus se persoon?


UITDAGING

Reik doelbewus uit na iemand buite jou klein vriendskapkring in die gemeente met die doel om die persoon, of gesin beter te leer ken. Jy kan bv. die persoon uitnooi vir ’n koppie koffie/tee na die inperking verby is. Vir nou sal ’n telefoonoproep werk.


AFSLUITING

* Bid die gebed vir jouself en daarna vir die groep.

“.Ons Vader neem ons hande en maak ons een. Versterk U self die bande en gee u seën. Bind ons in u genade aan U o Heer en leer ons om met dade u naam te eer. Leer ons mekaar vergewe, mekaar vertrou. Laat ons die hele lewe op liefde bou. Laat heers oor ons u vrede en bind ons saam. Verhoor tog ons gebede in Jesus naam” Liedboek 532 se woorde.

100 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comments


bottom of page