top of page
Writer's pictureNG Margate

VERWAGTINGS VAN TYD

Updated: May 23, 2020

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks

VERWAGTINGS VAN TYD

18 MEI 2020

ROMEINE 5:8

INGENOOI DEUR GOD

Kom ons neem ‘n oomblik om rustig in die teenwoordigheid van God te word.

Kom ons haal diep asem: in en uit. Maak gebruik van hierdie geleentheid om ‘n grounding oefening te doen. Moenie daardeur jaag nie, maar gebruik die tyd om die verskil in jou gemoesdtoestand te ervaar:

5 – Dink aan vyf dinge wat hierdie week gebeur het. Dink daaraan, maar moenie daaroor tob nie. Laat dit verby jou vloei.

4 – Skryf vier dinge neer wat vir jou voorlê en waaroor jy dalk bekommerd is. Laat dit met elke asem uit jou lyf geblaas word.

3 – Fokus op hierdie drie liggaamsdele: jou wenkbroue; jou skouers en jou maag. Voel hoe elke deel ontspan.

2 – Sien twee goed raak wat vir jou mooi is.

1 – Voel ‘n tekstuur wat naby jou is. Miskien hou jy ‘n warm beker koffie vas. Miskien voel jy die koel wind teen jou wang. Gebruik die geleentheid om te fokus op jou tassintuie.

* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.

** Vra iemand om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met ‘n opregte gebed tot God.

YSBREKER

# Hoe sal jy tyd aan iemand wat nie weet wat dit is nie, beskryf?

# As jy “tyd” moes inkleur, watter kleur sou jy kies?

# As jy enige tyd kon oor ervaar, wat sou dit wees? * Probeer om ‘n kort tydlyn van jou lewe saam te stel. Gebruik dalk die volgende riglyne en dink na oor die gebeurtenisse: die grootste gebeurtenis van jou kinderlewe (voorskool); die grootste gebeurtenis tydens Laerskool en dan weer vir Hoërskool; lewe na skool; die grootste beroeps-gebeurtenis; die grootste verhoudings-gebeurtenis ens.


LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing


Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.


Aanbidding


Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 188 Kom dank nou almal God

LB 203 Loof die Here, al wat lewe

LB 209 Heer, met my hele hart

TEKS

* Lees Romeine 5:8 in die verskillende vertalings en dink na oor die een waarmee jy aanklank vind.

** Lees Romeine 5:8 in die verskillende vertalings en gesels oor die vertalings waarmee julle aanklank vind.

Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (1983)

maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (1933/53)

“Maar Christus het gesterf om ons te red toe ons sondaars was. Daarom weet ons dat God baie lief is vir ons.” (ABA – Die Bybel vir Almal)

“Maar God is heeltemal anders as ons. Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was.” (DB – Die Boodskap)

“God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.” (NLV – Nuwe Lewende Vertaling)


BOODSKAP

Dit is wonderlik dat ons so maklik na die verskillende vertalings van die Bybel kan kyk m.b.v. die tegnologie. Dit is egter soveel meer kosbaar dat daar wel, herhaaldelik, gewerk word aan die vertaling van die Bybel. Dit wys iets van die boodskap wat nooit stiltstaan nie.


Tog kan ons so bang wees vir iets wat nie stilstaan nie. Dit is baie makliker om te kyk na die diere in ‘n museum as wat dit is om te kyk na die evolusie-teorieë. Ons skrik dikwels vir dinge wat beweeg. Miksien is dit omdat ons ‘n diep, interne vrees het dat ons agtergelaat gaan word. Miskien is ons so bang dat alles so vinnig sal beweeg, dat ons alleen en magteloos op die sypaadjie sal agterbly.


Dit laat my dink aan die fliek “Up”.

In hierdie fliek sien ons hoe die man so gewoond geraak het aan alles wat gebeur. Hy het stil en behoue bly leef in sy lewe. En tog het hy steeds agtergebly. Dit is hoe tyd werk – selfs al probeer ons ons bes om dit vas te vang en te behou, gaan dit steeds verby. Selfs Enya het ‘n baie bekende lied oor tyd geskryf. Gebruik hierdie skakel as jy gou weer na daardie lied wil luister: “https://www.youtube.com/watch?v=upkYQqbrjSc”.


Die aspek van tyd wat Enya se lied vir my so kosbaar vasvang is dat, alhoewel ons dikwels melankolies oor tyd se kortstondigheid kan word, is tyd steeds speels. Die note in Enya se lied is ‘n mengsels tussen die staccato van die horlosiewysers, maar ook die legato van ervaring. Is dit nie so dat ons tyd beide as kortstondig en as tydloos kan ervaar nie?


Dit is wat Romeine 5:8 vir my uitwys. God tree op ‘n tydlose manier deur die gebeurtenis van Christus op. Alhoewel Christus se kruisiging fisies eenmalig was, is die lewe wat ons in Christus het, tydloos. Wat nog beter is, is dat Christus dit nie gedoen het op die tyd wat ons perfek en reg was daarvoor nie.


Ons het so dikwels die verwagting dat ons moet reg wees vir die tyd wat gebeur. Maar ons is selde reg. Niemand van ons is eintlik voorbereid vir die tyd wat môre gaan kom nie. Maar God kom na ons toe te midde van die tyd wat ons onperfek, gebroke en sondaars is. God kom na ons toe selfs al is ons onvoorbereid. Ons staan soos half gedekte tafels met min om te gee en alles om te verloor, maar steeds sit die Gasheer aan. God kom na ons toe “toe ons nog sondaars was.” God kom na ons toe in ons tyd van gebrokenheid en sonde.


Maar eerder as wat ons dieper daal in selfbejammering vir ons gebroke self, verheug ons onsself daarin dat God juis na ons toe kom in ons onvoorbereidheid. Ons haak so dikwels vas by die sondigheid van die mens. Ons gebruik dit om mekaar te manipuleer, uit te sluit en te veroordeel. Maar miskien moet ons besef dat “sonde” ook nie ‘n tyd is wat stilstaan nie. “Sonde” kan dalk verstaan word as dit wat my keer om die tyd van God te beleef. Want God se onverwagse koms na ons, beklemtoon dat die enigste tyd wat ons nodig het, die tyd van God is. En God is tydloos. God is Altyd Teenwoordig. Ons is nooit sonder God nie.


Dan word tyd nie vir ons iets wat maar net moet kom of gaan of selfs stilstaan nie. Nee, dan word tyd die geleentheid om God se onverwagsheid nou raak te sien. Tyd word ons roeping om elke minuut, elke sekonde met ywerigheid aan te gryp.


Ja, wie weet waar ons sal wees oor ‘n paar dae van nou? Maar die een ding is seker – God sal ook dáár wees.

Amen.


BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Hoe dink jy het ons beheptheid met “sonde” ons gekeer om God se tyd raak te sien?

# Hoe beїnvloed ons verwagting van tyd ons eie ervaring van die lewe?

# Wat dink jy is die positiewe en die negatiewe boodskap oor tyd in die volgende prentjie:

# Hoe dink jy kan ons ons lewens inrig om beter te fokus op die tyd van God?

UITDAGING

Kyk weer na die tydlyn wat jy aan die begin geskryf het. Kyk of jy nou ‘n paralelle tydlyn kan neerskryf waar jy die tyd van God kan aandui.

AFSLUITING

Mag die Teenwoordigheid van die Alomteenwoordige, Groot God by jou wees. Mag jy ‘n lewe leef wat ryk is aan ‘n ervaring van die tyd van God. Mag jy verheug staan in jou nuwe lewe deur Christus. Alle eer aan God. Amen.

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

73 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Komentáře


bottom of page