‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
8 MEI 2020
PSALM 139
INGENOOI DEUR GOD
Kom ons neem ‘n oomblik om rustig in die teenwoordigheid van God te word.
Gebruik hierdie geleentheid om rustig iewers te sit of selfs op jou rug te lê.
Fokus op jou asemhaling; elke asem in is soos helder lig en elke asem uit is sorge wat verdwyn.
Word bewus van jou eie teenwoordigheid. Voel jou liggaam en die bloed wat daardeur vloei. Dit is jou vingers en jou tone. Kyk dalk vir ‘n oomblik na jou hande en die fyn aartjies. Kyk net hoe goed het God jou geskep.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met ‘n opregte gebed tot God.
YSBREKER
# Hoe voel jy oor jouself?
# Hoe dink jy beїnvloed jou gevoelens oor jouself ander mense se gevoelens teenoor jou?
# Hoe dink jy voel God oor jou?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
- Die Een wat my sien (https://www.youtube.com/watch?v=CTwBZZyo6XA&list=PLzuXwzCkOX13eGnbwQlY56ANh223aMgdJ&index=8)
- I will come to You (https://www.youtube.com/watch?v=8C3WQ1G1Uso)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- You’re gonna be okay (https://www.youtube.com/watch?v=LjF9IqvXDjY)
- Ek soek U o God, my God (https://www.youtube.com/watch?v=yQwI9VRJKVE)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 540 Onthou jul nog
LB 169 Heilig, heilig, heilig,
LB 269 God bly met ons waar ons ook mag gaan
TEKS
* Lees Psalm 139 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Psalm 139 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Die eerste verhouding wat ons ooit het is die verhouding met onsself. Maar vir baie van ons is die “ek-self” nog meer duister as iemand anders se persoonlikheid. Wat maak die “ek” werklik ek. Dit is seker een van grootste vrae in die lewe en ‘n klomp mense het daaroor geskryf. Die bekende René Descartes het immers geskryf: “I think therefore I am.” Vir hom word die “self” geformuleer vanuit die vermoë om daaroor te dink.
Maar Psalm 139 (veral vers 14-16) vertel van ‘n dieper dimensie tot ons menswees – die dimensie van lewe voor kognitiewe denke. ‘n Fetus, alhoewel gestimuleerd, het nie die ontwikkeling om te dink oor die “self” nie. Maar tog is daar die bewuste van die “self”. Dit maak God nog net soveel meer indrukwekkend, want God kom gee aandag aan ‘n “iemand” wat nog nie eers, volgens baie mense soos Descartes, ‘n “iemand” is nie. God dink aan ons nog voordat ons dink aan wie ons is.
Maar wat Psalm 139 verder spesiaal maak, is dat hierdie kosbare beeld van God eers in die middel van die Psalm voorkom. Die Psalm bestaan uit ‘n wisselwerking tussen die verwondering wat ons ervaar en die onrustigheid wat ons beleef. Soms wil ons die Psalm opdeel en net op sekere verse fokus. Dit is wat ons met onsself ook doen.
Ons is so geneig om wanneer ons vra “wie is ek” ‘n enkelvoudige byvoeglike naamwoord as antwoord te verwag. Maar ons is nie net een ding nie. Ons is nie net goed nie. Ons is nie net sleg nie. Die Psalm dui vir ons op die wisselwerking in ons “self”: ons kan God verwonder (139:1-5), maar oorweldig voel deur God (139:6-12); naby aan God voel (139:13-18), maar ver van God voel (139:19-24). En ons is steeds dieselfde mens. Maar ons het hierdie verwagting van onsself dat ons, ten minste in geloof, konstant en eenvormig moet wees.
Miskien as ons alleenlik met kognitiewe denke (soos Descartes) op geloof gefokus het, het hierdie sin gemaak. Maar wanneer ons besef dat ons honderde, nee duisende, emosies gelyktydig kan ervaar, dan maak Descartes se redenasie al hoe minder sin. Want dikwels is wat ek voel en wat ek dink nie dieselfde nie. My gedagtes word die verwagting waarna ek strewe – ek verwag van myself om ‘n goeie Ma te wees; ek verwag van myself om suksesvol te wees; ek verwag van myself om ‘n lewe te leef wat so lyk [vul die blokkie in]. Maar dikwels is dit ons emosies en ons reaksies op alles rondom ons, wat ons lei in ‘n rigting. Ons is dus meer as net ons verwagting van onsself.
Maar wat doen ons wanneer ons te hoë verwagtings vir onsself stel en wanneer ons emosies so oorweldigend is? Daarmee help die Psalm-digter ons ook.
Wanneer dit voel asof alles te veel word; wanneer dit selfs te veel is om te dink of te voel, dan besef ons dat ons terug is in daardie plek “waar (ons) gevorm (word) waar niemand dit (kan) sien nie,” (139:15). Wanneer die “self” selfs vir ons te veel word, gaan ons terug na daar waar net God ons kan sien. God staan steeds en kyk na ons, nie met verwyt omdat ons nie die merk kon haal nie, maar met genade.
Daarom roep die Psalmis in vers 23: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart…” Want God kom skep ons oor-en-oor. Ons “self” is steeds nie klaar gevorm nie. Ons groei nog elke dag. Mag ons daarom groei in die teenwoordigheid van ‘n God wat ons deurgrond en wat ons deelmaak van God se Grootste Werk.
Amen.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Sien jy die vloei in die Psalm raak tussen die “goeie” en die “slegte”?
# Dink jy ons verwoord periodes in ons lewens ook in hierdie vorm van polariteit? M.a.w. dat sekere dele van ons lewens net sleg of net goed is?
# Is daar ooit iets soos net ‘n goeie/slegte tyd?
# Die Psalm wys dat die goeie en die slegte vermeng is. Hoe laat dit ons dink oor ons “self”?
# As ons dan wil praat oor verwagtings vir onsself, wat kan ons saam met ons vat vanuit die Psalm?
UITDAGING
Maak ‘n tydkapsule van hierdie afgelope tyd. Kyk of jy van die volgende items in ‘n boks kan sit om hierdie tyd te gedenk, want dit is beide goed en sleg:
- ‘n Voorbeeld van die maskers wat ons nou moet dra
- ‘n Beskrywing van hoe ons kerk hou
- ‘n Brief vir jouself oor wat jy ervaar in hierdie tyd
- Foto’s as jy het (stoor dit iewers op jou rekenaar/foon)
- ‘n Beskrywing van wat jy vir ontspanning doen
- ‘n Berig oor die tyd van inperking
- ‘n Winkelstrokie
AFSLUITING
Mag jou geloofsreis nooit vir jou stilstaan nie. Mag jy die vloei van die lewe beleef, beide die goeie en die slegte. Want mag jy deur die alles herinner word daaraan dat God jou op ‘n wonderbaarlike manier geskep het. God is by jou. God sal jou nooit verlaat nie. God het jou geskep – dáárom is jy, jy.
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Comments