‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
VERWAGTINGS VAN DIE WÊRELD
13 MEI 2020
JOHANNES 17
INGENOOI DEUR GOD
Kom ons neem ‘n oomblik om rustig in die teenwoordigheid van God te word.
Gerbuik hierdie geleentheid om ‘n rustige liedjie te Youtube of sommer net op ‘n rustige plek te sit. Geniet die teenwoordigheid van hierdie oomblik. Ons sal nooit weer so oomblik ervaar nie. Elke sekonde van die lewe is uniek.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met ‘n opregte gebed tot God.
YSBREKER
# Waaraan dink jy as ons sê die “wêreld”.
# Wat het jou beїnvloed om hierdie gedagtes te dink wanneer jy die woord “wêreld” hoor?
# Dink jy dit is ‘n goeie prentjie of is daar sekere leemtes?
# Dink jy almal het dieselfde prentjie van die “wêreld”?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
- All things new (https://www.youtube.com/watch?v=Wz45cFnr66A)
- So seker (https://www.youtube.com/watch?v=tHrhiz5M6NM)
- Die liefde van Jesus (https://www.youtube.com/watch?v=5nTftyJ_M98)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- Seënbede (https://www.youtube.com/watch?v=MUS2fQHbHVQ)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 205 Bring lof aan die Vader
LB 324 So lief het God die wêreld
LB 488 Helder skyn ons lig vir die nasies
TEKS
* Lees Johannes 17 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Johannes 17 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Toe ek ‘n kind was, was daar ‘n storie op TV waarvan ek al vergeet het. Dit het my ‘n goeie uur geneem om weer op die storie af te kom! Al wat ek kon onthou is een gedeelte van hierdie kinderreeks wat vir my treffend was.
In die reeks The Journey of Allen Strange sien ons hoe Allen – ‘n ruimtewese – perongeluk op die aarde agter bly. Kort-voor-lank maak hy vriende met ‘n meisie en ‘n seuntjie en gaan ook saam met hulle skool toe. Maar in hierdie episode, wat my jare lank nogsteeds by bly, moes Allen, Robbie en Josh ‘n geskiedenis projek vir skool aanpak. Daarom leer Robbie vir Allen van al die wonderlike goed wat mense gedoen het. Toe Allen egter op ander geskiedenis boeke afkom, besef hy dat die wêreld ook ‘n baie donker kant het. Die verhale van oorloë, slawerny, korrupsie en rassisme oorweldig vir Allen. Hy wil terug gaan na sy eie planeet toe en weg van mense wat sulke goed aan mekaar kan doen.
Ek kan onthou dat Robbie hom aan die einde oorreed dat daar steeds hoop in die wêreld is en dat alles nie so sleg is nie. Maar ek kan nie onthou wat sy gesê het nie. Al wat ek kan onthou is Allen se ontnugtering met die wêreld.
Dit is seker iets wat ons al almal beleef het – daardie ontnugtering wanneer mens sekere waarhede van die lewe ontdek. Sommige kan laf wees, soos om te leer dat daar geen tandemuis is nie. Ander is groot lewenslesse – soos om te leer dat ons ouers net gewone mense is. Die ergste een vir my was om te leer dat die slegte dinge van die wêreld ook met my kan gebeur. Ek wou, nes Allen, eerder op ‘n ander planeet gaan bly het. Sulke ontnugetringe skep by mens ‘n ander verwagting oor die wêreld. Waar die wêreld dalk eens ‘n plek van vreugde en opwinding was (soos wanneer mens ‘n kind is), kan die wêreld maklik ‘n plek van donkerte en oorweldigende krisisse word.
Miskien is dit hoekom ons soms tekste soos Johannes 17 met ‘n “ander-planeet”-mentaliteit benader. Ons gebruik Jesus se woorde oor die wêreld om onsself af te sonder van die wêreld. Ons skep vir onsself die illusie dat die wêreld en die wêreldse dinge nie vir ons belangrik is nie. Ons kyk vanuit die verwagting dat alles van die wêreld sleg en boos is en daarom voer ons aan dat ons eerder ‘n ander tuiste het – daardie plek waarheen ons eendag gaan gaan, wanneer al hierdie verby is.
Maar is dit wat Jesus bedoel wanneer hy verwys na die wêreld? Wat bedoel Hy wanneer Hy in vers 14 sê: “Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie,”?
Ons interpreteer dikwels hierdie vers as die boodskap dat ons nie eintlik deel is van hierdie wêreld nie. Dit skep die verwagting dat al die probleme van die wêreld nie eintlik ons s’n is nie. Iemand anders moet dit maar oplos. Maar solank as wat ons motorkarre ry en elektrisiteit gebruik, is ons wel o.a. deel van die wêreld se klimaatsprobleem. So hoe kan ons hierdie boodskap verstaan?
Wanneer Jesus verduidelik dat Hy nie soos die wêreld is nie, moet ons kyk na dit wat Jesus oor Homself, oor God en dan oor die wêreld sê. Wanneer Jesus in Johannes 17 na Homself en na God verwys gebruik Hy woorde soos verheerliking, volmag, ewige lewe, enigste, behoort, een, volheid, waarheid, liefde en heerlikheid. Wanneer Hy na die wêreld verwys gebruik Hy slegs een woord: haat. Haat is dit wat teen elkeen van Jesus se eienskappe gaan. Daar kan immers geen haat in verheerliking wees nie; geen haat in waarheid; geen haat in volheid nie. Wanneer Jesus dus in vers 11 sê dat Hy nie aan die wêreld behoort nie, beteken dit dat Hy nie aan hierdie haat behoort nie. Hierdie haat is die ondergang van alles, want daar is geen lewe in haat nie. Niks kan oorbly wanneer daar gehaat word nie. Haat doen net een ding – dit haat die idee van herstel en vernuwing. Daarom beskryf Jesus ons ook as mense wat deur die wêreld gehaat word, want ons word deur Christus die nuwe lewe gegee. Deur Christus ontvang ons die absolute ware vernuwing.
Maar ons kan nie hierdie nuwe lewe interpreteer as ons verskoning om nie om te gee oor die wêreld nie. Ons is dalk nie soos die wêreld nie, maar ons is steeds deel van die wêreld. Daarom moet ons ook Jesus se verwagting van die wêreld in vers 20-26 lees. Jesus bid in vers 21 vir die vereniging en die geloof van die wêreld. Want alhoewel daar haat in die wêreld is, kom Jesus met die verwagting dat God steeds alles nuut kan maak.
Ons wil so dikwels hê dat God ons moet kom uithaal en ons op ‘n ander planeet moet kom sit. Maar in vers 23 bid Jesus dat die wêreld kan weet dat God Christus gestuur het en hulle liefhet. Wanneer ons ‘n teks soos Johannes 17 lees, verwag ons dat God eintlik reeds moet wegdoen met die wêreld. Maar Jesus bid steeds vir die wêreld se vernuwing. Dít is Jesus se verwagting vir die wêreld. Selfs al weet Jesus dat die wêreld behep is met haatvolle dinge, bly Jesus Jesus. Hy bid steeds dat God ook in die wêreld ‘n absolute vernuwing bewerkstellig. Selfs al ken die wêreld Jesus nie, bid Jesus vir die wêreld.
Sal dit nie wonderlik wees as ons eerder met hierdie Jesus-verwagting die wêreld tegemoet kan gaan nie?
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Hoe beїnvloed hierdie boodskap jou verstaan van die rol wat die wêreld in ons lewens speel?
# Hoe dink jy kan ons ons verwagtings t.o.v. die wêreld verander sodat Jesus se verwagting vir die wêreld beklemtoon kan word?
# Hoekom is dit belangrik om die onderskeid “nie soos die wêreld nie, maar deel van die wêreld” te tref?
# Hoekom dink jy is dit steeds belangrik dat gelowiges hulleself ag as “deel van” die wêreld?
UITDAGING
Dink aan een negatiewe verwagting wat jy het vir die wêreld, soos bv dat mense ongeskik is / dinge vat langer as wat jy gedink het of selfs dat ander mense dinge nie so goed soos jy kan doen nie. Probeer om vandag die teenoorgestelde van daardie verwagting te doen.
As jou verwagting dus is dat die nuus net negatief is – probeer om ‘n nuusartikel aan te stuur wat positief is.
As jou verwagting is dat mense ongeskik is – probeer om ‘n vriendelike boodskap aan daardie ongeskikte persoon te stuur.
En as jou verwagting is dat die wêreld net vol slegte mense is – probeer om te bid vir hulle. Nie vir jou voordeel nie, maar vir hulle s’n.
AFSLUITING
Mag jy besef dat die heelal, die aarde en alle mense deur God geskep is. Mag jy besef dat geen lewende ding op aarde toe is vir God se verandering nie. Mag jy vashou aan die ongelooflike verwagting van God, eerder as aan die verwagting van haat. Mag God se genade en vrede jou geestesoë verhelder. Amen.
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Comments