‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
VERWAGTINGS VAN GOD – 4 MEI 2020
GENESIS 12:1-3 & GENESIS 18:1-15
WELKOM BY ONS NUWE REEKS
Kom ons wees eerlik – ons het almal daardie prentjie in ons gedagtes van hoe die perfekte lewe lyk. Selfs ‘n prentjie waar jy nie gekoppel is aan hierdie idee van perfektheid nie, is ‘n gedagte oor hoe jy graag jou lewe wil inrig. Ons skep vir onsself idees van wat ons wil hê en van wat ons nie wil hê nie. In hierdie tuisgeloof Bybelstudie-reeks gaan ons vir die volgende ses sessies nadink oor ons verwagtings. Wat verwag ons van God, van die kerk van ons self en selfs die Bybel? Deur hierdie en ander vrae te vra gaan ons dalk agterkom watter prentjies ons wil behou; watter moet verander en watter prentjies ons moet laat gaan.
Groete,
Dr Mike Heaney & Ds Lerisa Meyer
INGENOOI DEUR GOD
Laat ons stil word in die teenwoordigheid van God.
Gebruik hierdie geleentheid om saam Psalm 23 te lees.
· Hoe word God beskryf in hierdie Psalm?
· Wat is God se belofte in hierdie Psalm?
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met ‘n opregte gebed tot God.
YSBREKER
# Wanneer jy die woord ‘verwagting’ hoor, watter emosie ontstaan in jou hart?
# Hoekom kan ons soms ‘n negatiewe emosie koppel aan ‘verwagtings’?
# Hoekom dink jy maak dit ons so seer wanneer iemand nie aan ons verwagtings voldoen nie (bv. wanneer iemand belowe om op te daag, maar nooit kom nie ens.)?
# Verwagting kan egter ook goed wees, want dit gee ons ‘n beeld vir die lewe – ‘n droom om na te strewe. Hoe voel ons wanneer ons verwagtings oortref word?
# Gebruik hierdie geleentheid om jou verwagtings vir die lewe neer te skryf.
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
How Great is our God (https://www.youtube.com/watch?v=wDgmJFw6F64)
Shout to the Lord (https://www.youtube.com/watch?v=-uMeuhxftiQ)
Kom, Jesus Kom (https://www.youtube.com/watch?v=zAG4YgmQ4d8)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- It is well with my soul (https://www.youtube.com/watch?v=zY5o9mP22V0)
- Wees stil en weet (https://www.youtube.com/watch?v=ui8FVlY-j1o)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 577 Die Heer, my herder, sorg vir my
LB 208 Ek wil die Here loof en prys
LB 519 Wees stil en weet Ek is die Heer
TEKS
* Lees Genesis 12:1-3 & Genesis 18:1-15 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Genesis 12:1-3 & Genesis 18:1-15 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Ons het al dikwels teksgedeeltes gelees oor die beloftes van God (Ps.119:41; Spreuke 30:5). Selfs die hele Psalm 23 gaan oor die beloftes van God. God belowe om met ons te wees, ons te lei, ons te help en ons te onderhou en nog soveel meer. Hoe meer ons hoor oor die belofte van God, hoe meer skets dit vir ons ons beeld van God. Dit vorm ons gedagtes aangaande God en dit skep by ons sekere verwagtings van God.
Dit klink dalk vreemd om te sê dat ons verwagtings van God het, maar elkeen van ons het ‘n prentjie van God – ‘n skets van hoe ons dink God moet wees. Miskien lyk God vir jou soos die herder van Psalm 23 of die helder lig van ‘n Skepper… of selfs soos ‘n beerwyfie (Hos.13:8). Die Bybel skets ook bepaalde beelde van God. God as Skepper, as Versorger, as Verlosser, as Trooster ens. Om oor God in beeldspraak te praat help ons om na te dink oor God. Dit help ons ook om die emosies van ons geloofslewe te beskryf. Somtyds voel God soos die Trooster en ander kere voel God soos die Redder.
Hierdie beelde het egter ook by ons verwagtings van God geskep. Daarom is ons dikwels deurmekaar wanneer ons gekonfronteer word met ‘n beeld wat nie inpas by ons eie geloofsvertsaan/geloofsbeeld van God nie. Ek kan onthou hoe ontsteld ek was toe ek die eerste keer bewus geword het van die geweldadigheid van die tiende plaag (Eks.11).
Soms is ons ook bang om te erken dat ons sekere verwagtings van God het, omdat ons diep binne weet dat verwagtings nietig is. Deur jare se teleurstelling het ‘verwagtings’ dalk vir ons begin klink soos prentjies in die wolke – so mooi om na te kyk, maar so vinnig om weg te waai. Daarom is ons bang om na te dink oor wat ons van God verwag, want netnou-netnou waai dit ook weg en bly ons met seer harte en stukkende hande, alleen agter.
Miskien is dit hoe Abraham en Sara op hierdie stadium gevoel het. Abram moes nadat God die verbond met hom gesluit het, seker opgewonde na Sarai toe gegaan het met die nuus. Dink oor die verwagtings wat hulle moes gehad het! Maar die belofte word net nie waar nie. Daarom kom Sara op die punt waar sy lag wanneer sy weer herinner word aan die verwagting wat sy eens gehad het. Omdat ons die verhaal ken, is ons krities oor Sara se optrede, maar ons vergeet dat Sara ook bepaalde verwagtings van God gehad het – verwagtings, wat volgens haar, nie nagekom is nie.
Maar miskien wil die Abraham-, Sara- en Isak-verhaal ons vandag iets leer oor ons verwagtings van God. God tree anders as ons op, want God IS anders. Daarom moet ons verwagtings van God ook anders wees. Sara wat dalk die verwagting gehad het dat God se belofte eers vervul sou word met Isak, het dit dalk gemis dat God se belofte van teenwoordigheid die hele verhaal met hulle saamgaan.
Wanneer ons gekonfronteer word met die perke van ons eie verwagtings, kan dit dalk vir ons voel asof daar perke aan God is. Maar God oortref ons verwagtings. God is meer as wat ons ooit kan verwag. Daarom moet ons nie ons eie idees van hoe goed moet lyk of werk misgis met God se idee van hoe goed moet lyk of werk nie. Ons lag bitter oor dinge wat nie gebeur het soos ons dit verwag het nie, maar dan mis ons ook al die ander beloftes van God wat dalk ook anders lyk as wat ons verwag het.
Dít is wat die Abraham-, Sara- en Isak-verhaal ons leer – dat ons verwagtings wat ons van God het, nie God ‘GOD’ maak nie. God maak God, God. Wanneer ons dan verwagtings van God wil hê moet ons eerder God “verwag” op God se anderste maniere:
Kom ons verwag God op die plekke waar ons nie sou kon raai nie.
Kom ons verwag God se teenwoordigheid daar waar ons is.
Kom ons laat toe dat God ons lei, selfs al is dit na plekke toe wat ons nie sou kon raai nie.
Kom ons verwag God se hulp deur vreemde mense, vreemde plekke en selfs in vreemde omstandighede.
Mag ons ons nie blind vasstaar teen ons eie beeld van God nie, maar mag ons verras word deur God.
Amen.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Dink jy dat ons beeld van God verander oor die jare?
# Hoe lyk jou beeld van God en hoe het dit al verander?
# Hoe verstaan jy God se “andersheid”?
# Hoekom dink jy is dit vir ons so moeilik om God te soek in vreemde dinge (mense wat ons nie ken nie / onbekende plekke / nuwe ervaringe)?
# Hoe dink jy sal dit ons lewe beїnvloed om te laat gaan van rigiede verwagtinge van God en “God toe te laat om God te wees”?
UITDAGING
Ons het aan die begin van hierdie Bybelstudie ons verwagtings vir die lewe neergeskryf. Kom ons gebruik nou die geleentheid om in parallel met daardie brief, God se teenwoordigheid in ons lewens uit te wys.
AFSLUITING
Mag die Here ons God jou verras deur wie God is. Mag God al jou verwagtings oortref. Mag God by jou wees, jou lei, jou help en jou onderhou en mag dit altyd meer wees as wat jy ooit kon raai.
Amen.
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Baie dankie vir nog 'n reeks wat my help om nader aan God te kom en ook my gedagtes gerig hou op my verlosser.