‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
20 Mei 2020
INGENOOI DEUR GOD
Voor jy begin met die Bybelstudie, raak eers bewus van waar jy nou is. Haal lekker diep asem. Ontspan. Bid dan: “ Here, verlig my verstand en my interpretasie. Here, verlig my oë en die manier waarop ek kyk. Here, verlig my mond en my woorde. Here, verlig my hart en dit wat ek bedink. Here, wees met my in hierdie tydjie waar ek oor u nadink en verder deur die dag.”
YSBREKER
Gesels saam of dink by jou eie oor die volgende: “ Wat is jou geliefde Bybelvers / Bybelgedeelte en hoekom is die gedeelte vir jou so spesiaal?”
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Lofprysing
Jy kan saam of alleen na die volgende lied luister of die woorde van die Liedboek jou eie maak deur dit op jou eie of in die groep voor te lees.
Skakel na You Tube: Jesus is coming soon – Chris Tomlin
Liedboek lied: Liedboek 599. As Hy weer kom
TEKS
** Lees en gesels dan saam uit 1 Tessalonisense 5:1-11. Lees die gedeelte desnoods twee of driekeer deur. Oorweeg die sleutelgedagte. Probeer jou indink wat die teks beteken het vir die eerste lesers. Wat sê God vir jou deur die gedeelte? Is dit ’n waarskuwing, ’n opdrag, ’n stuk vertroosting, of nèt inligting? Dink na oor die teks deur die dag of as jy later gaan slap, lees dit net voor jy gaan slaap.
BOODSKAP
In hierdie tyd van COVID-19 is daar baie vrae en verwagtinge oor die toekoms wat leef in mense se harte. Hoe gaan die toekoms hom uitspeel? Wat sê hierdie tye oor God en Sy koms? Gaan die duiwel of die Antichris die oorhand kry? Is daar ’n toekoms?
Gaan my besigheid oorleef? Gaan ek steeds op my aftreegeld kan oorleef? Daar is ook mense wat nie juis begaan is oor die toekoms nie, want dit gaan met hulle relatief goed. Daar is ook mense vir wie die vraag oor die toekoms en spesifiek Jesus se wederkoms, nie eintlik iets is om oor na te dink nie. Ander verdring weer die denke oor die toekoms, ontken dit, deins van die nadenke oor die toekoms terug. Dit terwyl die boek Hebreërs sê dat God in hierdie laaste dae met ons praat deur die Seun, deur Jesus se lewe en sterwe en opstanding (Hebreërs 1:2). Dit was al tweeduisend jaar gelede. Sedert Jesus se koms leef ons in die eindtyd, in die laaste dae. Vandag is ons laaste dag op die aarde soos ons dit nou ken.
Aan die ander kant is daar weer mense wat weer totaal behep is met gedagtes oor die toekoms. Hulle sien die Antichris om elke draai, elke aardbewing of ramp lui vir hulle die einde in. Daar is by sommige mense ’n onrealistiese, ’n koorsagtige benadering oor die toekoms. Deur hierdie oorbeklemtoning van die toekomstige uitsig, verwaarloos hulle hierdie lewe. So trek hulle die gebeure rondom Jesus se wederkoms skeef. Onthou, jy plant vandag môre se oes. Die Bybel se boodskap is dat die toekoms aan Christus behoort. Hy kom gou. Ongeag hoe hard die brullende leeu Satan brul, hy is noodlottig gewond deur die Leeu van Juda, Jesus Christus. Die laaste vyand leer 1 Korintiërs 15 ons, is oorwin deur die Een wat uit die dood opgestaan het- Jesus Christus.
Dit is ook so dat die gedagte aan die toekoms by die ongelowige mens skeptisisme of vrees inboesem. Veral as hulle herinner word daaraan dat Jesus Christus kom as Regter om te oordeel oor die lewende en die dooies. Die kinders van die Here wat in Jesus Christus glo, kyk egter met hoop en verwagting na die toekoms. Die Regter is hul Verlosser. Ons mag ook nie vergeet dat ons hier geen blywende stad het nie. Ons sien soos Openbaring 21 dit voorstel, uit na die stad met met vaste fondamente, na die nuwe Jerusalem. Ons sien uit na die volmaakte tyd waarin God alles nuut sal maak en ons die volle verwesenliking van die verlossing in Christus sal ervaar. Slegs die Here kan dit bring. Hy is besig om dit te verwesenlik en ons kan daarin deel.
Om ’n oomblik stil te staan by ons teks in 1 Tessalonisense 5. Die gemeente in Tessalonika het ’n probleem gehad met die toekoms en die komende oordeel. Party het gedink jy moet maar nie te veel fokus op môre nie. Ander het gedink die status quo sal maar vir altyd voortduur. Hulle was soos die soldaat wat nooit sy wapenrusting aantrek nie, omdat daar gister geen geveg was nie.
Ander het begin moed verloor of swartgallig begin raak. Hulle het geglo dat vandag erg is, maar dat môre nog erger sal wees.
Paulus se raad oor die toekoms is: Wees gereed vir oorlog. Trek ’n borsharnas aan en sit ’n helm op jou kop. Dit was die gevegsuitrusting van destyds. Leef in vertroue dat die Here die toekoms in beheer het en dat jy aan Sy kant veg. Dit gaan om God se toekoms wat Hy laat aanbreek, nie daardie toekoms waarin ek of jy die hoofrol speel nie. Die regte toekomsperspektief gaan nie oor my gerief, my veiligheid, my finansiële sekuriteit nie. Dit gaan oor God se toekoms vir Sy skepping.
Daarom, dra die helm van verlossing, moet nie hoop vir die toekoms verloor nie. Behou die geloof, met die koeëlvaste baadjie van die geloof. Tree op soos iemand wat die nuwe hemel en aarde al sien kom. Dit is ’n werklikheid. Wat doen ek vandag? Dra ’n koppie sop aan vir die siek buurvrou. Moenie berge van molshope maak nie. Leef ’n lewe van integriteit. Werk steeds hard. Martin Luther het gesê dat as hy hoor dat Jesus môre sou terugkom, hy vandag nog ’n boompie sou plant. Onthou, môre se vrugte word geoes van ’n boom wat vandag geplant is. Kom ons gaan God se toekoms met verwagting in. Kom ons praat mekaar moed in as ons oor die toekoms praat. Dis God se toekoms en ons speel ’n rol daarin. Ons is tog mense wat leef met ’n lewende hoop, Christus is ons hoop! Kom Here Jesus, kom gou!
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Hoe lyk mense wat nie gereed is vir God se toekoms nie, se manier waarop hulle hul dag inrig? (1 Tessalonisense 5:7; Matteus 24:11 en 12; Lukas 21:34). Hoe rig jy jou dag in?
# Dink jy Jesus kan vandag terugkeer? ( 1 Tessalonisense 5:1,2). Hoekom dink jy so? Hoe sal dit jou manier van lewe beïnvloed as jy weet Jesus kom môre terug?)
# Kyk weer na 1 Tessalonisense 5:8 en na die boodskap hierbo. Hoe rig mense wat die borsharnas van geloof en liefde dra en die hoop op verlossing hul lewens in?
# Hoe kan jy jou familie, wykslede, mede gemeentelede moed inpraat in hierdie dae? (Kyk 1 Tessalonisense 5:11). Wees prakties.
# Wat dink jy van ons geloofsbelydenis se woorde: “Ek glo in Jesus Christus ...wat sit aan die regterhand van God, van waar hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het?” ( Kyk ook 1 Tessalonisense 5:9)
UITDAGING
Martin Luther het ’n appelboom gaan plant toe hy hoor Jesus keer die volgende dag terug. Hoe lyk die “appelboompie” wat jy gaan plant?
AFSLUITING
Bid die volgende gebed saam hardop: “Maranata! Kom, Here Jesus, kom gou!”
* Lees die seënbede vir jouself of groep en sluit daarna af met gebed.
Comments