"VERWAGTINGS' - ‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie reeks
6 Mei 2020
Johannes 13:34-35
INGENOOI DEUR GOD Word ’n oomblik stil en dink daaraan wat jou geloof vir jou beteken. God is vandag by jou. Glo dit. Jy hoef dit nie te voel nie. Gelukkig is die wat glo al het hulle nie gesien nie. Jesus het beloof om by Sy dissipels te wees elke dag. Die Heilige Gees lei God se kinders in die waarheid. Omdat jy deur Christus in God glo mag jy nou dankie sê God by jou is. Vra dat God die Heilige Gees jou nou opnuut vul.
YSBREKER Kyk bietjie Hoeveel “beelde” of metafore van die kerk in die Nuwe Testament met teksverwysings kan jy opnoem? Dit is m.a.w. ’n manier om van die kerk te praat. Een manier is, “die liggaam van Christus.” 1 Korintiërs 12:27. Dink aan nog ten minste vyf beelde. Die volgende teksverse sal jou help: 1 Petrus 2:9-10; Efesiërs 2:19; 1 Petrus 1:1; 2 Korintiërs 5:18-21; 1 Petrus 4:17.
LOFPRYSING EN AANBIDDING Lofprysing Jy kan saam of alleen na die volgende lied luister of die woorde van die Liedboek jou eie maak deur dit op jou eie of in die groep voor te lees. Skakel na You Tube: https://youtu.be/eZ2MOgyLy_E Liedboek lied: Liedboek 478. Op vaste fondamente.
TEKS ** Lees Johannes 13:34-35 en gesels saam oor wat die implikasie van die teks is vir die kerk as geloofsfamilie. Vermy die woorde: “Ons behoort”...in jou terugrapport. Begin dalk so: “ Ek dink die Here sê in hierdie teks......(En dan vertel jy wat jy gehoor of ervaar het toe jy die teks lees.)
BOODSKAP “Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk,” bely ons Sondae saam met die kerk wêreldwyd. Tog verskil die verwagtinge wat mense van die kerk het, soos dag en nag. Vir party mense is die kerk die kerkgebou. Ons weet egter dat die kerk bestaan uit mense, die Here se mense. Die kerk is God se eiendom, Sy mense. God bewaar en bou Sy mense op en stuur hulle uit na die wêreld. Die kerk is ons almal. Natuurlik is daar baie verwagtinge wat mense het van die kerk. “Wat doen die kerk vir my?” is seker een van die klassieke opmerkings. “Die kerk is skynheilig,” is nog ’n aanklag. Die kerk is die dominee en ’n klompie ander vrywilligers is nog ’n verkeerde opvatting. Die kerk verander gedurig sy standpunt, sê mense ten onregte. Die kerk moet immers gedurig terug na die wortels van die Skrif en in elke konteks soek na die wil van die Here. Ons kan ure filosofeer oor die kerk. Kom ons fokus op een aspek van kerkwees, naamlik die kerk as familie. Is dit nie so dat die Bybel ook veral in die Nuwe Testament die gemeentelede as “geliefdes” of broer en suster aanspreek nie? Ons is ’n geloofsfamilie, die Here se familie. Die kerk is inderdaad soos ’n familie, maar tog ook anders as ander families. Anders waarin? Lees weer Joh. 13:34-35. Dit gaan vir Jesus oor die besondere manier waarop ons mekaar lief het. Dit gaan oor opofferende liefde soos wat Jesus met die voetwassing gedemonstreer het. Mense moet na ons as gemeente kyk en sê: “Ek het regtig nie gedink dat so ’n mengsel van mense met mekaar oor die weg kan kom nie.” Hulle is selfs bereid om hul lewens vir mekaar af te lê. Natuurlik verskil ons van mekaar. Dis die ryke verskeidenheid wat God saamvoeg in een liggaam, Sy kerk.
Daar is ’n verkeerde verwagting by lidmate dat almal oor alles moet saamstem. Liefde vir die geloofsfamilie beteken nie dat ons noodwendig oor alles saamstem nie. Dit gaan daaroor dat ons ten spyte van ons onderlinge verskille, mekaar steeds vashou, respekteer en mekaar se laste dra. Daar is nog ’n verkeerde verwagting oor die kerk as familie van die Here. Gewone families verkies baiekeer om na binne te leef. Die kerk as geloofsfamilie is nie geslote nie. Dit beteken dat ons mense wat die Here insluit sal insluit. Lees gerus die evangelie van Matteus op een slag deur en maak notas van die mense wat Jesus in Sy bediening insluit by Sy liefde. Jy sal verbaas wees. In die Bybel gaan dit juis daaroor dat God vir die swakkes, die vreemdelinge, die armes, die uitgestotene, ruimte maak. Daar is ’n verkeerde verwagting by mense dat die kerk dinge vir my moet doen. In die Bybel word baie van “mekaar’ gepraat. Ons moet mekaar vergewe, ons moet vir mekaar bid, ons moet mekaar se laste dra, ons moet mekaar liefhê, om maar ’n paar uit te lig. Die kerk as God se familie is daar vir Hom en vir mekaar. Die kerk as familie van die Here bestaan nie ter wille van haarself nie. Ons bestaan ter wille van ander. Omdat ons lewe saam met Christus verborge is in God, kan ons dit bekostig om selfverloënend te leef. Omdat ons bedien word deur God met alles wat ons nodig het om te lewe, behoort dit nie vir ons moeilik te wees om ander, ook medegelowiges te dien nie. Hoe lief het jy jou broer en suster in Jesus in die gemeente? Wat van die vreemdeling wat ons op ons lewenspad raakloop? Is die vreemdeling nie iemand wat ons kan innooi kerk toe nie? Is jy bereid om jou verwagtinge van die kerk te toets aan wat die Bybel sê en dan wat die Here van jou vra te gaan uitleef? Wat ’n nuwe dag sal dit nie vir ons gemeente wees, as ons as familie in Christus mekaar se voete was, sê laste dra en mekaar aanmoedig nie? Sal jy die voortou neem in hierdie proses. Jesus het.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP: # Watter verwagtinge het jy van die kerk? Dink jy dis Bybels verantwoordbaar? # Wat dink bedoel ons as ons Sondae bely: “Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk?” # Wat waardeer jy van die NG kerk Margate? Skryf dit neer sodat jy teen die einde van die Bybelstudie vir die Here daarvoor kan dankie sê. # Kyk weer na die ysbreker hierbo wat handel oor beelde/metafore vir die kerk. Kies nou een van die beelde vir die kerk waarmee jy die maklikste identifiseer en bespreek jou rede met iemand naby aan jou. # Bespreek die volgende aanhaling: “Dis nie wat die kerk vir my doen nie, dis wat ek vir die kerk doen?”
UITDAGING Stuur aan iemand ’n whattsapp / sms wat so begin: “Ek is dankbaar om aan die NG kerk Margate te behoort, want....” Voltooi self die res van die sin. As jy nie ’n whattsapp wil stuur nie, sê dan vir die Here dankie vir jou gemeente en noem die rede teenoor Hom.
AFSLUITING Bid die volgende gebed vir jou eggenote, of kind, of vriend of vir iemand wat jy ken in die gemeente: “Mag die Here die pad voor jou gelykmaak. Mag die wind altyd van agter af waai. Mag die son warm op jou gesig skyn. Tot ons weer ontmoet, mag die Here jou in die palm van Sy hand hou.” * Lees die seënbede vir jouself of groep en sluit daarna af met gebed.
Comments