‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
11 Mei 2020
2 Korintiërs 3:1-3
INGENOOI DEUR GOD Christelike meditasie help ons om intens bewus te word van God se woorde en dade. Gaan sit hierdie week (vandag ingesluit) drie keer iewers ʼn paar minute in stilte. Sit jou foon se klank af, of sit dit neer waar jy dit nie kan sien of hoor nie. Maak jou oë toe. Haal normaal asem. Probeer om jou gedagtes stil te maak. Wees net rustig. Ná ʼn tyd van stilte, herhaal die volgende woorde vyf tot ses keer in jou gedagtes sonder om jou oë oop te maak: “Soos ’n kindjie tevredenheid by sy moeder gevind het, so het ek by U tevredenheid gevind, Here.” Sit dan nog ʼn rukkie so in stilte. Wanneer jy voel jy is gereed, sê amen.
YSBREKER Dink bietjie na oor die volgende twee vrae en bespreek dit met iemand as jy iemand by jou het: “Waarom het jy na die Suidkus toe verhuis?” Die ander vraag vir die ysbreker sessie is: “Wat verwag jy moet die gemeenskap hier aan die Suidkus vir jou doen?”
LOFPRYSING EN AANBIDDING Lofprysing Jy kan saam of alleen na die volgende lied luister of die woorde van die Liedboek jou eie maak deur dit op jou eie of in die groep voor te lees. Skakel na You Tube: God is liefde: https://youtu.be/CPJeDvM1-90
Liedboek lied: Liedboek 284. Laat Heer, U vrede deur my vloei.
TEKS ** Lees 2 Korintiërs 3:1-3 en gesels saam oor wat jy dink die hoofgedagte is van die teks. Begin dalk so: “ Ek dink die Here sê in hierdie teks......(En dan vertel jy wat jy gehoor of ervaar het toe jy die teks lees.)
BOODSKAP
Daar is die ou-ou verhaal van die man wat baie ongelukkig was in die klein gemeenskappie waar hy gewoon het. Almal het geskinder en elkeen het uitgekyk vir hom of haarself. Hy besluit toe om te trek na ’n ander gemeenskap toe, maar gaan verken toe eers die gemeenskappe in die omgewing. Hy kom by die eerste dorpie en vra ’n man onder ’n boom: “Sê my, skinder die mense ook maar hier so baie?” Ja, kom die antwoord. Hy kom by die volgende dorpie: “Leef elkeen net vir homself hier, vra hy?” Ja, kom die antwoord. Hy besluit toe om die vraag om te keer. By die volgende dorp vra hy: “Is die mense hier ook gelukkig?” Ja, kom die antwoord. So gaan dit ook by die volgende dorp waar hy vra of almal gelukkig is. Hy is toe maar terug na sy eie gemeenskap. Die punt van die storie is dat die gemeenskap waar jy woon, nie verantwoordelik is vir jou geluk nie. Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk.
Dit bring ons by die tema van vandag: “Verwagtinge van die gemeenskap.” Paulus praat met die gemeente van Korinte in ons teksvers oor hulle rol in die gemeenskap van Korinte. Hy sê dat die gemeente ’n ope brief van Christus is vir almal om te lees. Wat was die konteks waarbinne die Korintiërs hul destyds bevind het? Dit was nie ’n maklike plek om kerk te wees nie. Korinte was ’n ryk en kosmopolitaanse hawestad en geen model stad nie. Inteendeel. Die rykdom en weelde het tot morele en sedelike verval gelei. Om “soos ’n Korintiër te leef,” het verwys na die dronk orgies in die stad. Die stad was ook gekenmerk deur die baie afgodstempels vir die verskillende gode wat daar aanbid is. Wat sou jy as Christen in Korinte van so ’n gemeenskap wat in hulself gekeer is, kon verwag?
Kom ons bring die vraag nader aan die huis? Wat verwag jy van die gemeenskap waar jy woon, hetsy dit Port Edward, Margate, Uvongo, Shelly Beach is? Miskien is dit dat daar teerpaaie sonder gate is, dat die mense vriendelik is, dat mense na mekaar toe uitreik, dat die een vir die ander mooi dinge in die lewe gun, dat mense jou sal nooi na hulle huise toe? Ek dink ons het almal verwagtinge van die gemeenskap waar ons in lewe. Die vraag is of ons bereid is om die verwagtinge wat ons van die gemeenskap het self te gaan uitleef?
Die sigbare bestaan en nuwe omgee lewensstyl van die gemeente in Korinte was ’n bewys van die genade van God wat deur die prediking van die apostel hoop gebring het in ’n heidense omgewing. Alhoewel die bestaan van die gemeente in ‘n plek soos Korinte getuienis en bevestiging is van Paulus se apostelskap en werk in die gemeente, is dit ook vir die gemeenskap bewys dat die ware God in hulle midde aan die werk is. Om lewende briewe van Christus te wees is die kerk se identiteit, dis wie ons is in Christus. God het ’n boodskap vir die gemeente, maar ook vir die gemeenskap waarbinne die kerk leef. Daardie boodskap is ek en jy. Die NG gemeente Margate is God se korrespondensie aan die wêreld.
In hierdie tyd van COVID-19 is die voetsool kontak tussen ons en die gemeenskap ingeperk.
Normale gemeenskap en gemeente bedrywighede is afgeskaal. Daar word in hierdie dae egter toenemend verwag dat die kerk sal omgee vir mense in nood. Ons gemeente, Margate gemeente, doen wat ons kan om uit te reik na ander. Ons gereelde kospakkie projek gaan aan. Hande word met hulporganisasies gevat. Ons tree as priesters biddend in vir die gemeenskap. Ons bly vertel van God se goedheid al gaan dit soms moeilik.
Ons tema vandag is: “Verwagtinge van die gemeenskap.” Na die pandemie verby is, gaan ons roeping as kerk teenoor die gemeenskap nie ophou nie. Kom ons wees wat ons is, lewende briewe van Christus: geselsbriewe wat vir mense vertel van die voorregte en seëninge wat ons van God ontvang; liefdesbriewe wat vir mense vertel dat God regtig omgee deur met woord en daad God se liefde prakties te demonstreer; uitnodigingsbriewe wat vir mense vertel wie God is en wat Hy doen; waarskuwingsbriewe wat vir mense betyds keer om verkeerde keuses te maak of gevaarlike afdraaipaaie te vermy.
So gesien, word die vraag” “Wat verwag ek van die gemeenskap, beantwoord met die wedervraag: “Wat is jou en my roeping in die gemeenskap?” Onthou dan wie ons is, lewende briewe van Christus geskryf met die Gees van die lewende God.” Dis wie ons is. Dis ons identiteit. Kom ons wees wie ons is. Die NG gemeente Margate leef vir Christus. Watter boodskap dra ons, jou en my lewe, oor aan die gemeenskap?
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP: # Watter verwagtinge het jy van die gemeenskap waarbinne jy leef? Maak ’n lysie. # Watter van hierdie verwagtinge wat jy nou gelys het, kan jy help waar maak? # Wat beteken dit vir jou om te hoor dat die kerk ’n lewende aanbevelingsbrief van Christus is? # Wanneer die inperkingstyd verby is, hoe sou jy graag by jou gemeenskap (dalk deur die gemeente) betrokke wou raak? Dink aan een praktiese voorstel. Moet nie ’n lang lys maak nie. Skryf dit neer in jou dagboek of maak ’n nota op jou foon, sodat jy kan terugkom na hierdie verbintenis.
UITDAGING Dink bietjie na oor die gemeenskap waarbinne jy leef.
Hoe lyk die samestelling jou onmiddellike woonbuurt?
Is daar baie gegoede mense of ook armer mense?
Hoeveel mense dink jy woon in die Ugu distrik?
Watter uitdagings is daar op die fisiese, maatskaplike of ekonomiese en dan geestelike gebied?
Watter uitdagings bied ons konteks aan die gemeente van Margate t.o.v. ons roeping as kerk?
AFSLUITING Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef. Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede. Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar, sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
* Lees die seënbede vir jouself of groep en sluit daarna af met gebed.
Comments