top of page
Writer's pictureNG Margate

VERWAGTINGE VAN DIE BYBEL 15 Mei 2020

Updated: May 23, 2020

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks

15 Mei 2020

INGENOOI DEUR GOD Voor jy begin met die Bybelstudie, raak eers bewus van waar jy nou is. Haal lekker diep asem. Ontspan. Bid dan: “ Here, verlig my verstand en my interpretasie. Here, verlig my oë en die manier waarop ek kyk. Here, verlig my mond en my woorde. Here, verlig my hart en dit wat ek bedink. Here, wees met my in hierdie tydjie waar ek oor u nadink en verder deur die dag.”


YSBREKER Gesels saam of dink by jou eie oor die volgende: “ Wat is jou geliefde Bybelvers / Bybelgedeelte en hoekom is die gedeelte vir jou so spesiaal?”


LOFPRYSING EN AANBIDDING Lofprysing Jy kan saam of alleen na die volgende lied luister of die woorde van die Liedboek jou eie maak deur dit op jou eie of in die groep voor te lees. Skakel na You Tube: U is die lig wat in die donker skyn.

https://www.youtube.com/watch?v=iNfJteqoOyU Liedboek lied: Liedboek 255. Woord van God, woord van die lewe.


TEKS ** Lees en gesels dan saam uit Hebreërs 4:12en 13. Lees die gedeelte desnoods twee of driekeer deur. Oorweeg die sleutelgedagte. Probeer jou indink wat die teks beteken het vir die eerste lesers. Wat sê God vir jou deur die gedeelte? Is dit ’n waarskuwing, ’n opdrag, ’n stuk vertroosting, of nèt inligting? Dink na oor die teks deur die dag of as jy later gaan slap, lees dit net voor jy gaan slaap.


BOODSKAP Oor die Bybel kan ons dae lank praat en skryf, nee jare lank. Dis ’n bundel van 66 boeke en geskrifte wat van Genesis tot Openbaring elke keer in elke geslag nuut met ons praat. Ons hoop om in die Bybel te hoor van turksvy vrae soos mag genadedood, of mag kloning van mense. Die Bybel bied ons egter geen sistematiese verhandeling oor die ekonomie, wetenskap, kuns of politiek nie. Inteendeel as die Psalms sê dat die aarde op pilare gegrondves is en nie wankel nie (Psalm 75:4 ou vertaling), wil dit nie sê dat die aarde plat is nie. Dit was die bepaalde wêreldbeeld van destyds. Ons moet vra wat die boodskap destyds beteken het en wat dit in vandag se konteks beteken. God se skepping is in Hom veranker sou ek wou sê is die boodskap daar.

Alles word fundamenteel deur die boodskap van die Bybel geraak. Niemand wat die Bybel lees word daardeur onaangeraak nie. Ons praat van die Bybel as die Woord van God. Die Bybel is God se Woord in mensetaal. Dit is die woord van bevryding en genesing van die ganse mens, sy verstand, sy wil, sy gevoel, sy liggaam en siel. Heugelike tyding, evangeliewoord, sing ons. Die boodskap van die Bybel is nie verpak in ’n misterieuse orakeltaal nie. Dit is nie net bedoel vir die ingewydes nie. Die hart van die Bybel se boodskap is Jesus Christus en Sy koninkryk. Die boodskap van die Een wat sou kom, die Messias, loop van Genesis tot Openbaring soos ’n goue draad deur die Bybel.

Die Bybel is ’n brug -’n brug tussen hede en verlede, hede en toekoms, ewigheid en tyd, tussen God en mens. Die Bybel is bedoel vir ’n tweerigting verkeer. Ons lees van Adam en Eva en God wat na hulle soek na die sondeval. En skielik kry die figure wat ons daar ontmoet die vermoë om met ons te praat. Ons word deur die boodskap van die Bybel aangespreek. In die Bybel ontmoet ons Dawid, maar daar ontmoet hy ons ook. Dis die werk van die Heilige Gees.

Die Bybel kom van God, al is dit deur gewone mense geskryf. Dit is die plek waar God Homself en Sy wil aan ons bekend maak. Deur die lees van die Bybel kom ons tot ’n nuwe verstaan van onsself en die lewe. Die Bybel informeer ons nie net nie, maar wil ons transformeer (nuut maak). Die Bybel vra daarom van ons ’n antwoord en gehoorsaamheid.

Jy kan nie die Bybel lees en dan toemaak nie. Wat jy doen met die woord wat jy ontvang het, is jou antwoord, selfs as jy neutraal teenoor die boodskap bly. Die verhale van hierdie boek wat ons die Bybel noem, wil ons persepsie van wat moontlik is in die lewe uitdaag en verhoog.


Dit wil ons geloof versterk en daarmee ons hoop en liefde rek, sodat ons groter kan dink en doen en droom oor wat God moontlik maak in hierdie lewe. Wie die Bybel lees en staatmaak op die leiding van die Heilige Gees, sal die krag daarvan ervaar.

Kom ons let op ons Skrifgedeelte in Hebreërs. As jy regtig erns met God se woord maak, raak jy in ’n tweegeveg betrokke wat jy nie kan wen nie. Die woord word lewend en kragtig. In ’n wêreld vol dooie en futiele boodskappe blits die swaard van die woord met sy twee snykante (4:12). Wanneer God se Woord met jou begin werk, dring dit deur siel en gees. Dit lê jou donker kant (siel) en ligkant (gees) bloot.

Dit sny deur gewrigte en murg (Heb 4:12), dit wil sê, dit beoordeel nie net wat jy met jou spiere doen nie, maar ook die dryfvere (murg) daaragter. Die verskuilde positiewe of negatiewe bedoelings en gedagtes van die hart (4:12) kom aan die lig. Wie die Bybel lees word self deur die Bybel gelees. Mag die Here deur Sy Gees jou verander sodat jy al meer aan die beeld van Christus gelyk word hoe meer jy met die Bybel omgaan. Mag jy ontdek dat die Woord van God ‘n krag tot redding is vir elkeen wat glo (Rom. 1:16). Sola Scriptura, slegs die Woord van God is genoeg, nie allerhande visioene of stemme of openbarings nie.

Mag jy as jy die Bybel lees en oordink, opgeneem word in God se sending na die wêreld.


BESPREKING VAN DIE BOODSKAP: # Dink jy die Bybel het aanvulling of toevoeging nodig? Indien wel, wat sou jy wou toevoeg of weglaat? Hoe sou dit jou nader bring of verder van Christus verwyder. # Lees jy ’n storieboek van die middel af of van die begin af? Wat gebeur as mens net hier en daar ’n sinnetjie in ’n boek sou lees? Dink jy jy sal die boek geniet? Is dit nie dalk die rede hoekom mense die Bybel uit verband aanhaal nie? Bespreek die spreekwoord: ‘Elke ketter het sy letter.’ # Daar is moeilike gedeeltes in die Bybel. Die geheim is om die moeilike gedeelte in die lig van die makliker gedeeltes te verstaan. Byvoorbeeld: In Hebreërs 10:26-31 (lees dit) lyk of kinders van die Here wat sondig kan verlore gaan. Tog sê 1 Johannes 2:1 en 2 iets anders. (Lees dit)

# Het jy sal die Bybel deurgelees? Probeer dit ’n slag doen. Dit sal help dat jy die groter prentjie van God se reddingsplan verstaan. Laai gerus ’n “Bybel toep” op jou selfoon af met die titel: You version. Daar is sulke leesplanne beskikbaar daar. Vra iemand om jou daarmee te help as jy sukkel daarom van Google of Apple af te laai.


UITDAGING Hier is ’n oefening in die lees van ’n Bybelteks. Lees die hele boek Jona op een slag deur. Moenie jaag nie. Beskryf in jou eie woorde God se verhaal met sy profete van begin tot einde. Kyk hoe Jona se karakter al hoe meer na vore kom deur die loop van die vier hoofstukke van die boek. Wat leer jy in elke hoofstuk oor God? Hoekom is dit nodig om Jona van begin tot einde deur te lees om binne hierdie boek te verstaan hoe God is en hoe Hy met Sy kinders en met sondaars handel?


AFSLUITING Eien die gebed van Anneli van Rooyen vir jouself toe. https://www.youtube.com/watch?v=RBmUqfmkPdk Die Here is voor jou, sy Lig op jou pad. Hy neem jou na waters van rus Die Here is langs jou, jou Vesting en Rots. Hy laat jou staan op die hoogtes Die Here is om jou, die duister word Lig, Hy laat jou lamp helder skyn Die Here is bo jou van Hom kom jou Hoop. Jou siel sal Hy ewig bewaar Hy is by jou. Sy seën gee Hy uit en Hy leer jou Sy Waarheid Hy stuur sy engele na jou. * Lees die seënbede vir jouself of groep en sluit daarna af met gebed.



48 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comments


bottom of page