‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
‘VERTROUE’ – 29 APRIL 2020
MARKUS 4:35-41
INGENOOI DEUR GOD
Kom ons word vir ‘n oomblik rustig in die teenwoordigheid van die Here.
Maak dalk vir jou ‘n lekker koppie koffie en gaan geniet dit in die tuin.
Ervaar die rustigheid van die natuur. Die goedheid daarvan.
Maak nie saak hoe baie die mens verander nie, die goedheid van God bly staande.
* Open hierdie Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
YSBREKER
# Het jy al ooit iemand vertrou wat jou in die steek gelaat het?
# Het jy al ooit gevoel dat God jou in die steek laat?
# Het jy al gewonder hoekom daar soveel pyn en lyding in die wêreld is?
# Het dit jou al ooit ongemaklik gemaak wanneer iemand sê: “Ag vertrou net,” ?
* Ons dra baie pyn saam met ons omdat ons dikwels al in die steek gelaat is. Ons het al almal ons vertroue in die verkeerde mense / situasies geplaas. Ons het ook al ver en verstoot deur God gevoel. Om hierdie emosies te ignoreer is nie goed nie. Daarom spreek ons dit eerder aan. Gebruik dus hierdie geleentheid om ‘n brief aan God te skryf waarin jy gesels oor hierdie hartseer en pyn…selfs al is jou worsteling met God-self.
“It takes strength to acknowledge our anger, and sometimes more strength to express it in a healthy way. It takes strength to face our sadness and to grieve and to let our grief flow in tears when they need to.” – Fred Rogers
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
- Daarom (https://www.youtube.com/watch?v=jBj2llUb-ek)
- Op vaste fondamente (https://www.youtube.com/watch?v=2jPWB7cAC70&list=PL03j8ikrWZdSWA2uE2GlKWHBOQJqDNDPG&index=4)
- Because He lives (https://www.youtube.com/watch?v=-LwBqG7uXbY)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- Kom o Skepper Gees (https://www.youtube.com/watch?v=vvY1-Kb_1O0)
- Hemelvader ons aanbid U (https://www.youtube.com/watch?v=u4rjsIL6PwY)
- Oceans (https://www.youtube.com/watch?v=6GGFb6LcX3U)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 478 Op vaste fondamente
LB 159 God is hier teenwoordig
LB 284 Laat Heer u vrede deur my vloei
TEKS
* Lees Markus 4:35-41 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Markus 4:35-41 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Om te vertrou op God is ‘n boodskap wat ons al dikwels in die kerk en in ons lewens gehoor het. Maar dit is seker een van die moeilikste goed wat ons moet doen. Want die wêreld maak dit nie maklik nie. Soms maak die dinge wat met ons gebeur dit ongelooflik moeilik om te vertrou. Ons sien almal die negatiewe en vreesaanjaende goed wat met ander gebeur. Ons is ook dikwels geskok wanneer aaklige goed met ons gebeur, want “ek het gedink dit sal nooit met my kon gebeur nie.”
In plaas daarvan dat ons nou ‘n lys van lelike goed noem, kom ons fokus eerder op die maniere waarop ons met hierdie goed leef. Sommiges van ons kies om dan eerder die TV en sosiale media af te skakel, want die negatiwiteit is oorweldigend. Terywyl ander dalk kies om te reageer op hul kwaad, pyn en hartseer deur te baklei met ander. Maar miskien moet ons ‘n ander, gesonder manier kry om ons emosies van kwaad, hartseer en pyn te hanteer. Dit is waar vertroue gebeur.
Vetroue is nie ‘n apatiese aksie wat ons gebruik net omdat ons magteloos voel of nie weet wat om te doen nie. Om te vertrou op God is om te glo dat God steeds goed is wanneer dit voel asof die lewe nie goed is nie. Om te vertrou is om te glo dat God goed is, selfs al gaan dit nie goed met ons nie. Dit is ons gevoelens van kwaad, pyn en hartseer wat ons paniekerig maak. Dit is daardie gevoelens wat ons dryf om onweerlegbare bewyse vir God se welwillendheid te probeer vaspen. Maar vertroue is om te glo dat God selfs groter is as my prentjie van “vertroue”. Want ons soek steeds vertroue in bewyse.
Wel…
“The injustice of our anger towards God is exposed through the justice of God’s compassion towards us in Jesus Christ.”
Die verhaal van Markus 4:35-41 wys ons iets van hoe God te midde van die storm by die mense is. Is God die storm? Is God die rede vir die storm?
Nee, maar God is by die dissipels te midde van die storm.
Dikwels wil ons vir mekaar vertel dat God pyn en lyding stuur sodat ons ‘n les moet leer. Miskien is dit weereens ons manier om kwaad, pyn en hartseer te hanteer. Maar vertroue beteken dat ek steeds glo dat God goed is ten spyte van die slegte goed wat met my gebeur. God is by my in die storm. Daarom vertrou ons dat God selfs ‘n storm ten goede kan meewerk.
Die enigste les wat ons dan kan leer is hoe om in hierdie vertroue op te staan en die regte ding te doen. Nie vir faam of glorie nie, maar sodat dieselfde slegte ding dalk nie met iemand anders hoef te gebeur nie.
“God whispers to us in our pleasures, speaks to us in our consciences, but shouts in our pains. It is his megaphone to rouse a deaf world.” – C.S. Lewis.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Watse beeld van God word geskep in die verhaal van die dissipels in die boot?
# Watse beeld word dikwels van God geskep wanneer ons praat oor pyn en lyding.
# Hoe dink jy reageer mense wat pyn en lyding ervaar?
# Wat dink jy is ‘n gesonder manier om om te gaan met pyn, lyding en hartseer.
# Hoe troos die boodskap van God se teenwoordigheid ons in ‘n tyd soos hierdie?
# Hoe spoor hierdie boodskap ons aan tot ‘n lewe van dissipelskap?
UITDAGING
Mindfulness is ‘n terapeutiese tegniek om sin te maak van ons eie psigiese welstand. Daardeur fokus ons op hede; ons erken ons emosies en ons aanvaar ons emosies, denke en sensasies.
Kom ons probeer die volgende mindfulness – oefening:
· Word bewus van die emosie wat jy beleef. Probeer om vas te stel waar in jou lyf jy dit ervaar.
· Probeer om vir die emosie ‘n naam te gee. Sê vir jouself: “Ek voel nou kwaad,” of “Ek voel nou hartseer.”
· Moenie terugdeins vir jou emosies nie. Erken dit en aanvaar dat jy so voel.
· Probeer vasstel waar die emosie vandaan kom. Wat het jou so laat voel?
· Word bewus van die tydelikheid van jou emosies. Selfs al voel dit nou so nie, sal hierdie emosie ook met tyd weg gaan.
· Stel jouself oop om verander te word deur die rustigheid van jou kalm atmosfeer. Laat gaan van die behoefte om jou emosies te beheer, maar laat dit ook toe om uit jou te vloei.
AFSLUITING
Mag jy die Here se teenwoordigheid in hierdie stormagtige tye beleef. Mag God vir jou ‘n lig van hoop en vertroue wees. Deur alles wat tydelik is, is God ons een konstante. Mag die Heilige Gees jou met vertroue, insig en wysheid vervul sodat jy as dissipel ook in hierdie tyd kan leef.
Amen.
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Comments