Om lief te hê soos Jesus
‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
19 JUNIE 2020
Lukas 7:36-50
ONS KOM VOOR GOD…
Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.
Fokus op jou liggaam waar jy nou sit. Haal rustig asem en beleef die oomblik
Wanneer jy reg is, bid tot die Here.
YSBREKER
# Voltooi die sin: ”Vergifnis beteken...”
# Bespreek die stelling: “Om te vergeef is om ’n gevangene vry te laat en te ontdek die gevangene is die hele tyd jy.”
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
- Tel my op- Flam (https://youtu.be/4ckWnYxBzXY)
- Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
Amazing love - Chris Tomlin
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 334 God is liefde, juig ons harte!
TEKS
* Lees Lukas 7:36-50 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Lukas 7:36-50 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Ons het lief, want God het ons eerste liefgehad. Die hele lewe van die kind van die Here gee uitdrukking aan sy of haar liefde vir die Here. So koppel die skrywer Lukas liefde en vergifnis aan mekaar. Lukas gaan ’n stappie verder en toon aan dat by die ware geloof, vergifnis en liefde onlosmaaklik deel is van mekaar. Daar is drie hoofkarakters in Lukas se storie, Jesus, Simon die Fariseër en vlgns Lukas, ’n onbekende vrou.
Simon die Fariseër weet nie wat dit is om Jesus lief te hê nie. Alhoewel hy nie vyandig teenoor Jesus is soos van die ander Fariseërs nie, het hy waarskynlik bybedoelings met sy uitnodiging gehad. Ons weet nie of dit was om ’n “celebrity” soos Jesus as gas te hê of wat sy motivering was nie. Dis wel duidelik dat hy nie vir Jesus liefgehad het nie. Hy ag Jesus nie eers die alledaagse eerbewyse waardig om Sy moeë voete te laat was en sy kop met olie te salf nie. Daarmee het die Oosterse gasheer sy respek en agting vir ’n besoeker wat met sandale heeldag op stofpaaie gereis het. Simon se liefde, as daar was, was selfliefde.
Die onbekende vrou wat deur Simon as sondares uitgewys word, sê optrede is die teenoorgestelde. Sy val voor Jesus neer, maak haar hare los wat ’n vrou in goeie geselskap nie gedoen het nie. Haar liefde vir Jesus maak dat sy nie omgee vir mense se opinies nie. Sy neem haar kosbaarste besitting, die duur albaste fles met olie wat vroue om hul nekke gehang het en was Jesus se voete met haar trane, bedek dit met soene en droog dit met haar hare af. Hoekom? Want sy het liefgehad. Haar sondebesef het haar na Jesus gedring. Sy het in Jesus se bediening vir gebroke mense soos sy, God se vergifnis, liefde en aanvaarding ontdek.
Daarteenoor het Simon nie ’n sondebesef gehad nie. Hy het nie ’n Redder nodig gehad nie, die vrou wel. Simon kon nie aan Jesus liefde betoon nie, want hy was selfgerig. Hy het gedink as hy al die reëls en wette nakom, sy saak met God in orde is. Daarin het hy geroem. Die vrou het niks gehad om in te roem nie. Al wat sy wou hê is om vry te kom van ’n slegte gewete en van die sondebande wat haar gebind het. Sy het daardie genade en bevryding, wat onbeskryflik groot was, by Jesus ontvang. Daarom het sy met alles in haar liefgehad, met hart en siel, wil en verstand. Sy gee alles wat sy het.
Verstaan ons nog wat vergifnis is? Dalk moet ons weer ’n slag let op die kruis. Besef ons hoe duur die prys vir sondevergifnis was wat Jesus vir ons betaal het by die kruis? As ons verstaan hoe baie ons vergewe is, sal ons dalk makliker liefhê. Die vrou in ons verhaal het leeg, net met haar sondelas, aan Jesus se verdienste vasgehou, aan Hom wat eenmaal haar en jou voete sou was, ja skoon sou was met Sy kosbare bloed. Ek wat vergifnis Heer ontvang het, sing dankbaar my verlossingslied, met my hele lewe.
Amen
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Hoe voel jy oor die volgende: “Wanneer ek besluit om te vergewe, kies ek om nie wraak te neem vir die skade wat mense my berokken nie.”
# Bespreek: “Ek trek voordeel uit vergifnis, selfs as die persoon wat ek vergewe nie omgee of vergewe wil word nie.’
# Waar in die verhaal wat ons vandag behandel het, sou jy jouself plaas, by Simon of die onbekende vrou? Hoekom?
# Hoekom sou jy sê is vergifnis en liefde vir Jesus twee kante van dieselfde muntstuk?
UITDAGING
Neem gerus hierdie oomblik om een van hierdie uitdagings aan te gryp (of albei te doen):
1. Maak kontak met of Dr Mike of Ds Lerisa as jy voel jy het die behoefte daaraan om met iemand oor vergifnis te gesels.
2. Vra Dr Mike of Ds Lerisa of daar nie iemand is met wie jy kan kontak maak om iemand wat sukkel om ander te vergewe te help nie.
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
“ Genade, onbeskryflik groot, het u aan my bewys. Verlore seun ’n wegloopkind, weer in die Vaderhuis.”
Comments