top of page
Writer's pictureNG Margate

SOSIALE STATUS

OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks


1 JULIE 2020

LUKAS 14:16B-23


ONS KOM VOOR GOD…

Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.

Haal diep asem: in en uit.

Wanneer jy reg is, bid tot die Here.

YSBREKER

# Wat beteken sosiale status?

# Hoekom het dit ‘n groot invloed op ons lewens?

# Hoekom is dit vir jou belangrik?

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing

Kom ons loof die Here met die volgende liedere:

- You’re the God of this City (https://www.youtube.com/watch?v=cEFGr1S8SkA)

Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 530 Praat ek mense eng’le tale

TEKS

* Lees Lukas 14:16b-23 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees Lukas 14:16b-23 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

Hou jy van fantasieverhale?

Ek is gaande daaroor en van my gunstelinge sluit in Harry Potter, Lord of the Rings, Narnia en The Hunger Games. Ek hou van fantasieverhale omdat dit ‘n ander, meer verbeeldingryke beeld skep van werklike probleme in die samelewing bv. gierigheid, wreedheid, streotipering, boelie en sosiale ongeregtigheid. Hierdie laaste probleem word vir my die beste aangespreek in The Hunger Games. As jy nie weet waaroor The Hunger Games gaan nie, nooi ek jou uit om dit te lees, maar ek vertel dit ook so kortliks: dit gaan oor mens wat na die laaste Wêreldoorlog afgesonder word in verskillende distrikte. Die hoofdistrik is waar die rykste van die rykstes bly – hulle geniet al die voordele soos lekker kos en mooi klere. Hoe verder jy van die stad beweeg, hoe erger word die armoede en die sosiale ongeregtigheid. Dit beteken dus dat distrik 12, waar die verhaal begin, die ergste vorm van sosiale ongeregtigheid beleef.

Maar ten spyte van die wreedheid, verwoord The Hunger Games die oogklap-effek die beste. Almal kan die armoede en die ongeregtigheid raaksien – niemand wil dit egter raaksien nie. Die gevare van die armes word gesien as hulle probleem. “Out of sight, out of mind.” En dit is presies wat sosiale status doen – hoe meer status, hoe minder is dit jou probleem. Maar dan vertel Jesus die gelykenis in Lukas 14. ‘n Gelykenis wat presies die teenoorgestelde sê.

In hierdie gelykenis ontmoet ons ‘n ryk, “urban-elite”, Joodse man wat ander mense van sy sosiale status na ‘n ete toe nooi. Hy stuur twee uitnodigings uit, soos wat die gebruik was, maar almal verskoon hulself van die fees. Hoekom het almal (nie net die drie) nie opgedaag vir die fees nie? Hulle is tog in dieselfde “klas” as die man?

Die probleem vir hierdie ryk man het plaasgevind met die uitstuur van die uitnodigings. In daardie dae (baie soos vandag) was die gebruik om eers te hoor wie het almal dieselfde uitnodiging gekry het. Dit is bietjie soos om te hoor of die “cool” persoon by die werk of in die sosiale groep ook na die partytjie toe wil gaan. As daardie persoon hulself verskoon, verloor die partytjie ook die status van “cool-ness” en dan wil niemand dit meer bywoon nie. Niemand wil immers ‘n onpopulêre partytjie bywoon nie.

So toe die ryk man sy uitnodiging uitstuur en niemand daag op nie, het hy die boodskap helder en duidelik ontvang: “Jy is nie populêr genoeg nie. Ons het ‘n hoër sosiale status as jy. Ons kuier nie met sulke mense nie. Ons is meer belangrik.” Nadat die gasheer hierdie antwoord kry, word hy kwaad. Tog tree hy op ‘n vreemde, verrassende manier op. Hy besluit om eerder nie deel te neem aan hierdie Hunger Games-eer-kompetisie of geselekteerde wederkerigheid nie. Nee, hy stuur sy slaaf en hy nooi die onrein mense wat buite die grense bly na sy feesmaaltyd toe. Deur hierdie te doen verwerp die gasheer al die idees van sy konteks en hy vervang die geselekteerde wederkerigheid met ‘n algehele wederkerigheid. Hy breek die mure van sy samelewing af en verklaar hulle as nietig.

Daarom is hierdie gelykenis ‘n getuienis van hoe ons soos Jesus kan lief hê, want die getuienis dui op die eienskappe van Jesus:

· Jesus leef vanuit die die perspektief van die Koninkryk van God en in hierdie Koninkryk is dit nie dié met menslike eer wat genooi word nie. Dit is diegene wat die waardes van die gasheer voortsit: om te gee vir diegene wat nie kan teruggee nie; om grense (mure, reinheid-onreinheid) te oorbrug en; om almal soos familie te beskou, sonder om bang of skaam te wees daaroor. Die konsep van menslike eer of reinheid wat ‘n samelewing kan verdeel, het dus geen houvas in die Koninkryk van God nie.

· In die Koninkryk van God gaan dit oor algehele wederkerigheid, uitdaging tot uitsluitende sisteme, die nietigverklaring van status, die broeder/sustersbond in God, want Jesus het Homself geassosieer met diegene wat ‘onrein’ verklaar is en Hy het selfs saam met die ‘sondaars’ geëet. Jesus was dus Iemand wat geen eer en skaamte gehad het nie – iemand wat nie die grense van Sy sosiale samelewing gerespekteer het nie. En dit is die waardes van iemand wat deel is van die Koninkryk van God.

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Hoekom dink jy hou ons vas aan sosiale statusse?

# Hoe sal ons wêreld lyk as ons nie daaraan vas gehou het nie.

# Hoe is die Koninryk van God anders as dié van die wêreld?

# Hoe kan ons in ons gemeenskappe mure van sosiale ongeregtigheid afbreek?

UITDAGING

Gaan lees hierdie teks weer’n slag deur en gesels met die Here daaroor. Kyk of jy ‘n manier kan kry waarop ons in ons gemeenskap sosiale ongeregtigheid kan aanspreek.

AFSLUITING

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Mag die Here wat sosiale grense afbreek by jou wees en jou versterk. Mag die Here wat jou insluit en jou uitnooi by jou wees. Mag die Gees van hierdie transformerende God by jou wees. Amen.

62 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comments


bottom of page