Erediens vir 3 Mei 2020 Prediker 3:1-8
Hallo! Ons is nogsteeds in lockdown! # Hoe voel jy daaroor? Gelukkig kan ons nog oor die foon met mekaar gesels en selfs Bybelstudies doen. Hierdie Bybelstudies elke Sondag het ons gehelp om te leer wat die “erediens” is. Kan jy nog onthou? So vandag gaan ons nog iets byvoeg by ons erediens. In ‘n erediens is daar ‘n paar goed wat gebeur. Vandag leer ons die eerste ding wat gebeur: die votum. Dit is ‘n snaakse woord né! # Weet jy wat beteken votum? Die votum is die woorde wat ons sê sodat ons kan onthou hoekom ons in die erediens is. Dit is die woorde waarmee ons God vra om by ons te wees. # Dink jy ons doen dit omdat God nie by ons is nie? Nee, ons doen dit juis om onsself te herinner daaraan dat God altyd by ons is. Dit klink amper soos die betekenis van die Christus-kers! Maar die verskil is dat die votum saam gedoen kan word. Gaan ons probeer… Reg, kom ons begin met ons erediens. Votum Vandag gaan ons die votum responsories doen. Dit beteken dat iemand lees as die “leser” en dan gaan almal anders antwoord as die “gemeente”. Julle kan die woorde vooraf leer voordat julle die votum saam sê. Kom ons probeer: L: Moenie bang wees nie. G: Ons is nie bang nie. L: Die is Here is by jou. G: Ons is nie bang nie. L: God sal jou nooit verlaat nie. G:Ons is nie bang nie. Amen. Daarsy! Nou het ons nog iets geleer. So kom ons gaan aan met ons erediens. Rustig word Word nou net daar waar julle is saam rustig. Miskien wil julle mekaar se hande vashou. Haal drie keer diep asem: in en uit. Vra iemand om te bid. Seëngroet Onthou julle nog hoekom ons mekaar groet in die kerk? Gee vir elke persoon nou die geleentheid om die seëngroet te sê. “Hallo! Jesus is baie lief vir jou. Ek is ook baie lief vir jou.” Steek die Christuskers aan Vanoggend steek ons die kers aan as ‘n herinnering dat God altyd by ons is, daarom hoef ons nie bang te wees nie. Vra iemand om die kers aan te steek. Of julle kan elkeen julle eie kers aansteek. Lofprysing Kom ons staan en ons loof die Here met alles in ons! - He’s alive (https://www.youtube.com/watch?v=N29pfecIiYE) - Ek het sy vreugde (https://www.youtube.com/watch?v=SwJpwZGCHfg) - Sing Hosanna (https://www.youtube.com/watch?v=nBo9BM6QVxs) - Hy hou die hele wêreld (https://www.youtube.com/watch?v=GIIvIku8Zew)
Wat beteken dit om “soepel” te wees? # Het jy al ooit Mulan gekyk? # Het jy al ooit Mulan 2 gekyk? Mulan 2 is die beste fliek om te leer wat beteken dit om “soepel” te wees. Kom ons kyk gerus die video: https://www.youtube.com/watch?v=A3lvmq-iG4c In hierdie video sien ons hoe Mulan die kinders ‘balans’ leer. # Weet jy wat is balans? Om gebalanseerd te wees, beteken dat mens nie maklik kan omval nie. Soms beteken dit dat jy so hard soos ‘n klip moet wees, of so stewig soos ‘n groot boom. Maar dit beteken ook dat ons so sag soos ‘n wolkie moet wees, of so soepel soos blare in die wind. # Wat dink jy beteken dit nou om “soepel” te wees? Om soepel te wees beteken dat ons saam met die vloei kan gaan. Ek moet kan beweeg… Wat dink jy sal gebeur met ‘n groot skip as dit in die teenoorgestelde rigting as die see se water wil gaan? Dit sal omval! Om soepel te wees beteken dat ons saam met die beweging van die lewe gaan. # Nou wat op die aarde is die beweging van die lewe!? # Kan jy dink aan maniere hoe lewe beweeg? Kom ek help jou… - Is daar net een seisoen? - Is daar net een dag? - Is dit altyd net dag? # Sien jy nou die beweging van die lewe? # Kan jy aan nog voorbeelde dink?
Daar is baie beweging orals om ons. Selfs die aarde staan nie stil nie, maar draai baie stadig in die rondte! Die see staan nooit stil nie en ek en jy ook nie. Selfs wanneer ons slaap, beweeg ons, want ons haal altyd asem. So wat dink jy sal gebeur as ons nie saam met daardie beweging gaan nie? Wat sal gebeur as ons net heeltyd ons somerklere dra selfs in die winter? Of as ons net altyd wakker is en nooit slaap nie? Ons sal nie baie lank kan uithou nie né! Nee, ons moet pas by die beweging van lewe. Daar is ‘n tyd vir alles Daarom lees ons vandag uit die boek Prediker. Die woord “Prediker” beteken letterlik “Onderwyser”. Die Prediker was dus ‘n Onderwyser wat die mense iets wou leer. Kom ons kyk wat hy vir hulle wou leer (Pred. 3:1-8, ABA): Daar is ’n regte tyd vir alles, elke ding in hierdie wêreld gebeur op die regte tyd. Daar is ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf, ’n tyd om te plant en ’n tyd om plante uit te trek. Daar is ’n tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak, ’n tyd om af te breek en ’n tyd om te bou. Daar is ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag, ’n tyd om te rou en ’n tyd om te dans. Daar is ’n tyd om klippe weg te gooi en ’n tyd om klippe bymekaar te maak, ’n tyd om iemand te druk en te omhels en ’n tyd om iemand nie te omhels nie. Daar is ’n tyd om te soek en ’n tyd om iets te laat wegraak, ’n tyd om iets op te pas en ’n tyd om dit weg te gooi. Daar is ’n tyd om te skeur en ’n tyd om vas te werk, ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat. Daar is ’n tyd om lief te wees en ’n tyd om te haat, ’n tyd om oorlog te maak en ’n tyd om vrede te maak. Sien julle hoe het die Prediker die mense geleer van die beweging van die lewe? Hy skryf dat daar ‘n tyd is om alles te doen. Ons moet pas by daardie beweging. # Maar hoe weet ons wat om te doen? Dit kan soms baie moeilik wees om te weet hoe ons by die beweging kan pas, want ons kan nie altyd die beweging sien nie (soos die aarde wat draai). Ons moet dan vir God vra wat om te doen. Daarom moet ons altyd met God gesels oor die dinge wat met ons gebeur. Wanneer ons rustig luister na God, dan kan ons die beweging van die lewe sien. En dit sal ons help om die regte besluite te neem. Amen.
Gebed Vra iemand om te bid. Dankoffers Gebruik nou die dankoffer-geldjie wat jy in die kerk sou ingooi en gooi dit in ‘n houer. Wanneer ons weer kerk het, kan jy jou houer saambring en dit alles daarin gooi. Of julle kan nou ‘n elektroniese betaling aan die kerk maak 😊: ABSA BANK MARGATE - TJEKREKENING REK NO: 329 0144 212 TAK NO: 528 628 Aktiwiteit Ons gaan vandag ‘n beweging-speletjie speel! Jy moet jou naam en van spel met die letters en die letters se bewegings! Is julle reg? * Ps. as jy dit regtig interessant wil maak, hou ‘n kompetisie om te sien wie doen dit die vinnigste of probeer om mekaar se name te spel.
A: spring 10 keer op en af
B: draai 5 keer in die rondte
C: hop 3 keer op jou regtervoet
D: hardloop na die naaste deur toe en terug
E: loop vir 5 tellings soos ‘n beer
F: doen 3 wawiele
G: doen 10 jumping jacks
H: hop 8 keer soos ‘n padda
I: balanseer op jou linkerbeen vir 6 tellings
J: hop op jou linkervoet vir 6 tellings
K: marseer soos ‘n soldaat tot in jou kamer en terug
L: maak asof jy tou spring vir 5 tellings
M: doen 3 bollemakiesies
N: probeer om iets op te tel sonder om jou hande te gebruik
O: stap agteruit tot in die kombuis en terug
P: loop soos ‘n krap vir 8 tellings
Q: seil soos ‘n slang tot in die sitkamer
R: grom soos ‘n leeu vir 8 tellings
S: buk af en raak jou tone vir 3 tellings
T: maak asof jy fiets ry vir 10 tellings
U: balanseer ‘n boek op jou kop vir 5 tellings
V: maak soos ‘n voël vir 4 tellings
W: maak asof jy swem vir 10 tellings
X: probeer die wolke raak vir 4 tellings
Y: loop op jou knieë vir 8 tellings
Z: gaan gooi vir almal koeldrank in 😊
Neem gerus ‘n video en stuur dit vir Lerisa aan 😊!
Comments