‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
‘BEGIN’ – 20 APRIL 2020
JESAJA 43:18-19
WELKOM BY ONS NUWE REEKS
In hierdie tyd van inperking, kan ons baie ver van mekaar af voel. Ons kan dalk ook in hierdie tyd baie vrae vir God hê. Daarom gaan ons in hierdie Bybelstudie-reeks vir die volgende ses sessies (20 April – 1 Mei) reis “opsoek na God”. Ons soek nie na God in die sin daarvan dat God ons verlaat het nie. Ons soek God in die sin daarvan dat ons hunker en verlang na God. Ons kan hierdie tyd van inperking doelbewus aanwend om op ‘n geloofsvorming-reis te gaan waar ons opnuut bewus sal word van God se teenwoordigheid…selfs net in die alledaagse lewe.
Groete,
Dr Mike Heaney & Ds Lerisa Meyer
INGENOOI DEUR GOD
Kom ons neem ‘n oomblik van rustigheid in die Here se teenwoordigheid.
Doen gerus die volgende “grounding”-oefening.
“Grounding” is ‘n taktiek om verby ons eie angstigheid te kyk en te fokus op die energie in en rondom ons.
5 – Haal vyf keer diep asem. Stadig in en stadig uit. Jy kan selfs hard ‘sug’ wanneer jy uitasem.
4 – Fokus op hierdie vier dele van jou liggaam: jou gesig, jou hande, jou maag en jou voete. Voel hoe jou spiere ontspan.
3 – Sê drie keer vir jouself die volgende woorde: “Hier is ek Heer, ek sit by U.”
2 – Bedank die Here vir twee goed in jou lewe.
1 – Open hierdie Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
YSBREKER
# As jy die titel van jou outobiografie moet gee – wat sal dit wees?
# Hoe sal die voorblad van jou outobiografie wees? Of in watter formaat sal dit geskryf wees?
# Wie sal jou outobiografie wil lees?
# Met watter verhaal sal jou outobiografie begin?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
- What a Beautiful Name it is (https://www.youtube.com/watch?v=r5L6QlAH3L4)
- Ek is wie U sê ek is (https://www.youtube.com/watch?v=wOmuGypH6uo&t=230s)
- Who am I (https://www.youtube.com/watch?v=C53GgUJ6y-Y)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- Wees stil en weet (https://www.youtube.com/watch?v=ui8FVlY-j1o)
- Ek soek U o God, my God (https://www.youtube.com/watch?v=yQwI9VRJKVE)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 241 Troue Heer van my lewe
LB 280 Here, Redder groot en magtig
LB 292 My enigste troos
LB 296 Jesus, U is my verblyding
TEKS
* Lees Jesaja 43:18-19 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Jesaja 43:18-19 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Dit is soms moeilik om te bepaal hoe ons lewensverhaal lyk. Dit hang ook seker af van waar jy op jou lewenspad staan. Maar dit sal dalk vir almal moeilik wees om te besluit waar ons lewensverhaal begin. Begin dit by ons geboorte? Of miskien by ‘n gebeurtenis wat jou lewe verander het? Hoe lyk jou ‘begin’?
Op ons reis “op soek na God” is die begin dalk die beste plek om te begin. Maar dan is die vraag natuurlik: waar begin God? Sou ons Genesis lees dan sal ons agterkom dat God nie by die skepping van die kosmos begin nie. Nee, God het selfs bestaan voordat God die kosmos geskep het. God is die Een wat skep, tog is God die Een wat nie geskep is nie. God bestaan, want God begin by God.
Maar die mens?
Die mens is deel van die skepping van God. Die mens is geskep deur God. Maar miskien mislei ons Afrikaanse taal ons so bietjie hier, want “geskep” laat dit so finaal klink. Ons is “geskep” laat dit klink asof ons aan die begin geskep en klaar geskep is. Tog is God se skeppingswerk in die wêreld nie iets wat ‘n begin en ‘n einde het nie. God skep en skep aanhoudend en skep steeds vandag. God is die Skepper-God.
Daarom is ons lewensverhale nie verhale wat “set in stone” is nie. Ons werk nie van een prototipe af nie. Ons is nie vasgevang in die lotval nie. Nee, God skep ons, God skep ons aanhoudend – God skep ons vandag nog.
Is dit nie ‘n kosbare manier om na te dink oor ons eie lewens nie? Dan is verandering, vernuwing en aanpassing nie soseer iets wat verlore gaan nie, maar eerder iets wat nuut geskep word. Dit is die manier waarop ons ‘n nuwe begin kry.
Die woorde van Jesaja 43:18-19 getuig van hierdie nuwe begin wat daar in God is – wanneer ons kan laat gaan van die verlede, dan kan ons die nuwe skeppingsaksie van God raaksien.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# As ons aan God dink as die Skeppergod wat steeds aanhoudend skep, hoe beїnvloed dit jou verstaan van die Here se Teenwoordigheid?
# Hoe beїnvloed God se aanhoudende skeppingskrag jou verstaan van God se interaksie met ons en met die kosmos?
# Hoe dink jy keer ons soms die nuut-skepping van God in ons lewens?
# Wat dink jy is die verskil tussen “verloor” en “laat gaan”?
# Hoeveel dink jy moet ‘n dissipel van die Here “laat gaan”?
# Hoe beїnvloed die volgende gedagte die bg vraag:
“As jy selfsugtig aan jou eie lewe vasklou, sal jy dit verloor. Maar as jy dit ter wille van My opoffer, sal jy werklik voluit lewe.”
UITDAGING
God se aanhoudende skeppingskrag werk steeds daagliks in die kosmos. Ons moet onsself net oopstel om dit te ervaar. Ons uitdaging vir vandag om dan juis iets nuut te begin doen. Vra jouself af: wat moet ek begin doen sodat ek God se skeppingskrag in my lewe kan ervaar? Miskien wil jy jou dae begin met gebed. Miskien wil jy ‘n nuwe oefenprogram begin. Of miskien wil jy selfs net begin om met groter vrygewigheid te leef. Kom ons begin net.
AFSLUITING
Mag die God van alles en almal by jou wees.
Mag die Skeppergod jou raaksien en jou vernuwe.
Mag jy die kans aangryp om nuut te begin.
Amen.
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Comments