“SOEKE NA GOD” ‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
27 April 2020
INGENOOI DEUR GOD Word stil voor die Here vir ’n minuut. Haal rustig en diep asem. Bid dan die volgende gebed: ”Genadige Here, bring tog in hierdie tyd my gedagtes en gemoed tot bedaring. Vandag is ’n geskenk uit U hand. Ek neem dit nou aan. Maak my nou stil Heer, ek wil na U luister.”
YSBREKER Kan jy aan iemand dink wie se toewyding aan ’n saak (aan die Here of aan andere) ’n blywende indruk op jou gelaat het? Wat staan vir jou uit in die persoon se lewe? Deel met iemand anders hoekom jy so sê.
LOFPRYSING EN AANBIDDING U kan saam of alleen na die volgende lied luister of die woorde van die Liedboek u eie maak deur dit op u eie of in die groep voor te lees. Jesus ons lof U (https://youtu.be/fyZpxJD6nE0) Liedboek lied: Liedboek 209
TEKS ** Lees Eksodus 3:1-14 en gesels saam oor wat in die teks vir jou / julle uitstaan.
BOODSKAP Moeder Theresa, wat geroep is om onder die armstes van die armes in Indië gewerk het, is gebore in Macedonië. Op driejarige ouderdom is sy gefassineer deur sendelinge se lewensverhale. Geïnspireer deur die verhaal van Therese Lisieux stel sy haarself later voluit in God se diens as sendeling. Vir twintig jaar werk sy in Calcutta. Op ’n treinreis raak sy oortuig daarvan dat sy onder die armstes van die armstes in Indië moes werk. Dit was vernederende en swaar werk. Sy wen later die Nobelprys vir vrede vir haar onbaatsugtige naastediens.
Ons lees in die Bybel van ’n ander roepingsverhaal, die van Moses. Moses, van wie ons in ons teks lees, pas sy skoonpa se kleinvee op toe die Here hom roep om Sy volk uit die slawerny van Egipte te lei. Daar by die brandende doringbos het alles verander. Die roeping om die volk te lei, was ’n geweldige groot uitdaging en taak. Moses was goed opgelei in die paleis van Egipte. Hy was egter voortvarend en in vleeslike krag slaan hy ’n Egiptenaar dood. Hy moes vlug vir sy lewe. Hy pas veertig jaar skape op in die woestyn. Die woestyn tyd leer hom nederigheid en diensbaarheid.
Toe Moses hoor wat God van hom verwag, om die volk Israel uit slawerny na die beloofde Land toe te lei, deins hy terug vir die groot taak. Hy is vol verskonings. “Wie is ek dat ek dit by die Farao sou waag en dat ek die Israeliete uit Egipte sou lei?” Hy voel nie bekwaam nie. Hy dink hy is nie goed genoeg om vir die Here te werk nie. Hy sê in H 4:1 dat hy nie opgewasse is vir die taak nie. Hy het te min krag. Verder reken hy dat hy nie goed kan praat nie. Die Here moet iemand anders stuur. God dink anders. “Ek sal by jou wees, sê die Here in Hy 3 vers 12. My teenwoordigheid sal jou dra. Ek sal jou bekwaam Moses. God se roeping is groter as ons tekorte. God vra nooit van ons iets waartoe Hy ons nie die krag gee nie. Hy vra nie die onmoontlike van Sy kinders nie. Hy bemagtig ons.
Die Here rus ons altyd toe vir ons roeping, wat dit ook al mag wees. Sien ook Efesiërs 4:9-13. God roep altyd mense vir Sy diens. Dis nie net om in die gemeente te werk nie. Jy kan ook Christen bouer, of Christen ouer, of Christen onderwyser of Christen skolier wees. Ons het almal die roeping om die vlag van God se koninkryk êrens te laat wapper. As jy nog werk is jy in diens van die Here, al het jy jou eie besigheid of werk vir ’n maatskappy, ook daar in die kompleks of aftreeoord of klub waar jy is. As jy afgetree is, kan jy steeds diensbaar wees soos so by pro Deo, of help met begrafnisse, of by die jeug, of op die Kerkraad dien of deur jou dankoffers die koninkryk help uitbrei of met jou gebede God se koninkryk laat kom. Die punt is dat waar jy nou geplaas is, is waar God wil hê jy moet blom. Jy is vir ’n tyd soos hierdie geroep na die Suidkus en hierdie gemeente, die NG kerk Margate. (Ester 4:14).
Moet nie die fout maak om te dink jy is nie goed genoeg nie. Onthou, die Here gebruik skaapwagters soos Dawid om koning van Israel te word, Psalms te skryf, of ’n slawe meisie met die naam Ester, om Israel van ondergang te red en mee te werk aan die koms van die Messias, van Jesus Christus.
Laat toe dat die Here jou gebruik, ook al is die taak vir jou soveel groter as waarvoor jy op hierdie oomblik in jou lewe kans sien. Dit geld ook vir ons jongmense. God gebruik ’n paar vissies en broodjie, die padkos van ’n jong kind, om vyfduisend te voed. Hy roep jou tot Sy diens. Sê vandag ja vir Sy roepstem, Hy sal jou bekwaam.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP: # Op Margate gemeente se kanselkleed is die gemeente se leuse / visie wat baie jare gelede vasgestel is, naamlik: “Margate leef vir Christus.” Wat sê die woorde vir jou oor jou roeping in die gemeenskap en die gemeente? # Hoekom dink jy is jy in ’n tyd soos hierdie na Margate omgewing toe gestuur deur die Here? # Weet jy watter gawe die Here aan jou gegee het om in Sy diens te gebruik? (lees weer Efesiërs 4:9-13). Dit kan enige gawe op die lys wees, maar onthou diensbaarheid omvat baie dinge, soos om by begrafnisse te help skink of om op te ruim na tee skink, kospakkies te pak, leiding te gee, jou geld te gee. Lees ook die lys van gawes in Romeine 12:3-18. # Hoe werk die Here met mense wat deur Hom geroep is en afgedwaal het, om weer hul roeping te herontdek? Lees Jesus se hantering van Petrus wat Hom verloën het in Johannes 21:15-17.
UITDAGING Bid hierdie week elke aand tot Vrydag so: “Here, waar het u my met my gawes en talente geroep om vir u ’n verskil te maak? Doen slegs u wil Heer, u wil met my. Vorm my en maak my, net soos u wil. Op u bly wag ek, nederig en stil.” Sou dit vir jou duidelik word na die week van gebed dat die Here jou vir ’n bepaalde taak in ons gemeente of gemeenskap roep, meld aan vir diens by Anette ons saakgelastigde.
AFSLUITING Eien die seënbede toe: Die genade van ons Here, Jesus Christus; die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees is en bly by ons. * Lees die seënbede vir jouself of groep en sluit daarna af met gebed.
Comentários