OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS
‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
29 JUNIE 2020
Klaagliedere 3:1-33
ONS KOM VOOR GOD…
Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.
Fokus op jou liggaam waar jy nou sit. Haal rustig asem en beleef die oomblik
Wanneer jy reg is, bid tot die Here.
YSBREKER
# Vertel vir mekaar van ’n tyd in jou lewe waar jy deur diep waters gegaan het. Luister goed na mekaar, sonder om die ander te onderbreek.
# Probeer in jou eie woorde jou reisgenoot se mededeling(van die diep waters waardeur hy of sy is) weergee. Waar was God in daardie tye?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
- Daar was ’n houtkruis – Danie Botha (https://youtu.be/1hSVik4Uv8Y)
- Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
Soos die arend- Piet Smit
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 576 Moet jy stry teen moeilikhede!
TEKS
* Lees Klaagliedere 3:1-33 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.kyk veral na verse 18-25
** Lees Klaagliedere 3:1-33 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.Kyk veral na verse 18-25
BOODSKAP
Die onderwerp van pyn en lyding is nie ’n tema waarvan die meeste mense hou om op hul tafel te hê nie. Die Korona pandemie konfronteer ons egter met die ou-ou vraagstuk van “waarom Here?” Pyn en lyding laat ons uitgelewer voel. Ons het met baie vorme van lyding te maak, of dit nou fisies, psigologies, ekonomies, sosiaal of geestelike lyding is. Hierdie is ’n tyd waarin mense baie vorme van pyn ervaar en waar verwarring heers en gepaardgaande geloofsvrae gevra word. Ons moet begrip hê vir mense se belewenisse, al verskil dit van ons s’n.
Soms word daar moeilike vrae, veral oor God gevra. Op die vraagstuk van lyding is daar ook nie maklike antwoorde nie.
Die skrywer van Klaagliedere neem vrymoedigheid om sy gevoelens van angstigheid en magteloosheid in tye van lyding en ontbering te verwoord aan God se adres.
Soos Israel hier in Klaagliedere, worstel ons ook maar met pynlike vraagstukke in ons lewens. Soms is ons pyn die gevolge van verkeerde keuses in ons lewe en dit bring ekstra lyding mee. Tog is daar duidelike Skrifgedeeltes soos Psalm 73 wat vertel van iemand wat sy kant skoon gehou het en tog lyding beleef het. So ons moet waak teen simplistiese verklarings oor lyding of dit probeer wegpraat of kleiner maak nie. Lyding is nie altyd te verklaar na mense se verkeerde keuses nie. Dink maar net aan Job in die Bybel wat ly al hou hy sy kant skoon.
Ons teks in Klaagliedere 3 gee ons perspektief op lyding. Dit vertel vir ons van God wat die broosheid van mense verreken, van Sy sagtheid, wat vertel dat hy omgee as mense swaarkry, al is dit soms vanweë hulle eie verkeerde keuses. Klaagliedere het in die tyd na die val van Jerusalem ontstaan in 586 v.C. Dit was ’n tyd van verskriklike lyding, soos die teks vertel. Alles waarop die gelowiges hul geloofslewe gebou het, het in duie gestort. Hulle het begin vra of die Here van hulle vergeet het? Waar is God as daar soveel ellende oor Sy mense kom? Dis vrae wat gelowiges vandag ook vra as lyding oor hulle pad kom.
Klaagliedere 3:18-25, is die skrywer se belydenis oor God as anker in tye van angs en lyding. Waar alles sinloos word, kan daar teruggegryp word na ou belydenisse. Belydenisse oor God se hulp in die verlede maak dit moontlik om daarop te hoop vir die toekoms. Die skrywer van Klaagliedere bely dat die liefde van die Here hulle van totale ondergang red. Hy bely ook dat die Here die beskermende en ontfermende God is.
God se ontferming is grensloos. Dit is elke môre nuut. Geen lyding kan dit ongedaan maak nie. Hy onthou en bely ook dat die Here ten spyte van alles getrou aan Homself en aan Sy beloftes om by Sy kinders te wees, bly. Die feit dat ons midde-in lyding nog kan opkyk na die Here bring hoop. Die teks sê tog dat dit teen God se sin is om mense in ellende en beproewing te bring. God skep nie behae in mense se leed nie. In hierdie tyd van Korona mag ons weet dat die Here saam met die lydendes treur, dat Hy aan die kruis gehuil het toe Sy Seun in ons plek die lydensbeker gedrink het. Jesus is ons enigste troos in lyding, ja ons enigste troos in lewe en in sterwe.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Hoe voel jy oor die volgende stelling: “Mense wat swaarkry het nie antwoorde nodig nie, hulle het liefde nodig.” Motiveer jou antwoord.
# Die Bybelse opdrag is dat Christene as Jesus se hande en voete in ’n stukkende wêreld kan optree. Hoe kan jy as gemeentelid laat waar word?
# Christene is “verwonde genesers.” Bespreek die opmerking aan die hand wat jy weet van Jesus se bediening aan verwonde mense.
# Vergelyk Klaagliedere 3 met Psalm 73. Watter ooreenkomste /verskille vind jy tussen die twee tekste?
UITDAGING
As jy terugdink aan ’n moeilike tyd in jou lewe waardeur jy gegaan het, of dalk nou gaan, water verskil sal dit maak as jy in plaas van die vraag ”waarom” te vra, jy eerder sal vra, “waartoe?”. Bespreek jou antwoord met iemand na aan jou.
AFSLUITING
* Bid die gebed vir jouself en daarna vir die groep.
“ LB 578:’Jesus wat my lief het, Heer, ek vind by U vrede, rus. Druk my sorge my soms neer, word ek meer van U bewus. U’s die rots waarop ek bou, al kom voor en teenspoed. U wil ek voor oë hou, selfs instorm of watervloed.”
Comments