JOHANNES 14:1-6, HEBREËRS 6:19,20
10 APRIL 2020
As ‘n voorstel kan u hierdie liturgie tydens skemer op Goeie Vrydag doen. Die skemerson herinner ons aan Christus se sterfte, maar die sekerheid van die sonsopkoms verlig ook ons harte.
- Sieger Kӧder
OPENING
Welkom gemeente by ons eerste Nagmaalserediens.
Ons maak gebruik van twee hulpmiddels vandag: (1) hierdie Bybelstudie en (2) ‘n video-erediens op Facebook of MP3 stemopname op WhatsApp. Ons vra dat u die riglyne sal volg, maar u is ook meer as welkom om dit in te kleur soos u wil.
Wat gaan u benodig vir hierdie erediens:
- Ons vier vandag die Nagmaal op verskillende plekke, maar steeds as ‘n eenheid in Christus. Daarom dek ons almal vandag ons etenstafels as ‘n Nagmaalstafel. Op Goeie Vrydag gebruik ons donker kleure om die tafel te dek. Ons gebruik geen blomme of helder kleure nie. Ons is nou in die tydperk van rou.
- U gaan u Nagmaalsete benodig. Onthou dat dit oor die boodskap van die simbole gaan en nie die fisiese simbole nie. Gebruik wat tot u beskikking is.
- ‘n Bybel.
- ‘n Bak water en ‘n handdoek.
- 5 Kerse en vuurhoutjies.
Ons verstaan dat nie almal toegang tot Internet het nie, daarom maak ons ook daarvoor voorsiening. Gebruik dus asseblief gerus net dit wat vir u gemaklik en tot u beskikking is.
* Open hierdie tuisgeloof liturgie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof liturgie te open met gebed.
VOORBEREIDING VAN DIE TAFEL
* As jy toegang tot die Internet het, kan jy hierdie musiek as stemmingsmusiek gebruik: https://www.youtube.com/watch?v=AiuC_CaObbI
Gebruik hierdie geleentheid om u Nagmaalstafel in gereedheid te bring. U kan ook die volgende op u tafel dek:
- U Bybel,
- 5 Kerse en vuurhoutjies,
- Bak water en handdoek,
- U Nagmaalsete,
- Toerusting om die video te volg (bv. selfoon)
VIRTUELE GOEIE VRYDAG EREDIENS
Gebruik hierdie geleentheid om die elektroniese Goeie Vrydag erediens te kyk of te luister.
U is meer as welkom om die video op verskeie plekke te “pause” indien u langer teksgedeeltes wil lees. Ons vra ook dat u op die aangewese plekke u kerse sal aansteek.
U is ook meer as welkom om die liturgie saam te volg:
Begin die video / die MP3 stemopname
Seëngroet
Votum
Steek u eerste Nagmaalskers aan
JOHANNES 18:4-5; 12
Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?” “Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom. “Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle. Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei.
Steek u tweede Nagmaalskers aan
JOHANNES 19:1-5
Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gesel. Die soldate het 'n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom 'n pers mantel aangetrek en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap. Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”
Steek u derde Nagmaalskers aan
Skuldbelydenis
Steek u vierde Nagmaalskers aan
JOHANNES 19:17-19, 28-30
Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.
Gebed
Steek u laaste Nagmaalskers aan
Diens van die water
As u die vrymoedigheid het, kan u ook hierdie handeling by die huis doen.
- Ons glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde wat met ons, Godskinders, ‘n genadeverbond sluit.
- Ons glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God ons Here, wat vir ons, Godskinders, gesterf het sodat ons ingelyf kan wees in Sy dood en ook Sy opstanding.
- Ons glo in die Heilige Gees wat ons, Godskinders, omvou, in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig. Amen.
Nagmaal
Gebruik gerus die Nagmaalsete wat u voorberei het.
Gebed
Prediking
Seën
Comments