‘VREUGDE EN VREDE’ – JOHANNES 16:16-33; 14:27
9 APRIL 2020
OPENING
Vandag is dit Wit Donderdag – ‘n dag waarop ons terugdink aan Jesus en Sy dissipels by die laaste avondmaal. Kom ons word saam rustig.
Steek ‘n kers aan aan die begin van hierdie Bybelstudie.
Wit Donderdag is ‘n dag van voorbereiding vir die Paasfees. As moderne mense berei ons nie eintlik voor vir die Paasfees soos die dissipels nie. Maar ons kan op ons eie manier voorberei daarvoor. Gebruik die volgende riglyne tot en met 12 April (Opstanding Sondag), maar kleur dit in soos jy wil:
o Kies om swart klere te dra. Dit simboliseer die pad van lyding en rou.
o Sonder jouself af vir ‘n stilgebedsoomblik elke dag.
o Steek ‘n kers aan met elke ete, om die somberheid van Jesus se laaste maaltyd te simboliseer.
o Volg die volgende lectio divina patroon elke dag of selfs ‘n paar keer gedurende die dag (bv. 7:00 | 12:00 | 19:00):
Lees: Johannes 3:16-17
Dink na oor die teks: Wat beteken dit vir jou?
Bid tot die Here
Reflekteer: Hoe verander dit jou lewe?
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met gebed.
YSBREKER
Dink terug aan die Bybelstudies wat ons tot dusver gehad het. Dink terug aan al die dinge wat dit jou geleer het. Onthou die temas: opoffering, aanbidding, diensbaarheid, verraad, hulp, gebed, ontevredenheid, afhanklikheid en God se heiligheid.
# Watter tema het by jou gebly?
# Hoe dink jy pas hierdie temas in by Jesus se pad van lyding voor Paasfees?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing.
As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Op Wit Donderdag sing ons nie lofliedere nie. Ons berei voor vir die routyd van Paasfees. Sit dus gemaklik en rustig by die kers en aanbid die Here met die volgende liedere:
Wit Donderdae aanbiddingsliedere:
- Oh sacred head now wounded (https://www.youtube.com/watch?v=UgkVTtT-0xg)
- Oh come, come Emmanuel (https://www.youtube.com/watch?v=h3M9JKmUecY)
- Pie Jesu (https://www.youtube.com/watch?v=qfN8j9r-jGQ)
- As ek voor U voete val (https://www.youtube.com/watch?v=E2LSuRtYZVU)
- In hierdie oomblik, Heer (https://www.youtube.com/watch?v=Qs4MjlbCH1I)
Alternatiewe musiek:
Aanbidding
LB 232 Die o God, diep neergeboë
LB 284 Laat, Heer, u vrede deur my vloei
LB 354 O Christus ons verlange
TEKS
* Lees Johannes 16:16-33 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Johannes 16:16-33 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Hierdie teks kan ons baie deurmekaar laat voel. Ons is nie heeltemal seker wat Jesus bedoel of waaroor die teks gaan nie. Maar miskien is dit juis die doel van die teks: miskien beeld dit die verwardheid van die dissipels uit. ‘n Verwardheid wat ons tot vandag toe ook met hulle deel. Daarom is vers 33 vir ons so belangrik, want dit gee vir ons iets om aan vas te hou:
Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
Te midde van die verwardheid wat die dissipels moes voel in hierdie tyd, praat Jesus steeds oor God se vrede. Dit is ‘n vreemde boodskap, siende dat Jesus nie in vrede gelewe of gesterf het nie. Maar dit is dalk juis die kern van vrede!
Wanneer ons praat oor vrede en vreugde, veral die vrede en vreugde wat God vir ons gee, wil ons dit gebruik as ‘n front. Ons plak ‘n vredevolle glimlag op ons gesigte of gooi ons arms in die lug as ‘n simbool van vreugde. Terwyl alles binne in ons dalk nie so vol vrede of vreugde is nie. Ons het miskien in die gewoonte gekom om te dink dat God se vrede en vreugde beteken dat ons glad nie moet sukkel nie.
Maar ons sukkel. Ons is verward soos die dissipels. Ons is bang soos wat Jesus bang was voor Sy dood. Hoe kan ons dan steeds mekaar wil aanspoor met vrede en vreugde?
Die antwoord lê in vers 33 – Jesus sê nie dat alles gaan maklik wees net omdat ons vrede en vreugde in Hom vind nie. Nee, Hy sê self dat ons gaan moeilikheid kry. Maar ons moet moed hou, want die oorwinning is reeds Syne. Dít is die boodskap van Wit Donderdag – dat ons hier in afwagting op die toekoms steeds sal moed hou. Ons hou nie moed met valse idees van vreugde en vrede nie, maar eerder met die wete dat te midde van dit alles, is Jesus steeds Heer.
Daarom gaan ons nou die tyd van rou in. Ons staan nou by die deur voor die begrafnis. Ons rou en ons is hartseer. Maar ons hou moed, want ons is nie alleen nie. Die Here se teenwoordigheid is by ons. Daarin vind ons ons vreugde en vrede. Miskien nie ‘n vreugde wat nou maak dat ons ons arms in die lug gooi nie. Miskien ook nie ‘n vrede wat ons nou rustig maak nie. Maar vreugde en vrede wat ons dapper genoeg maak om moed te hou. Want ook hierdie is nie die einde nie.
Daarom begin ons hierdie routyd met die woorde van Johannes 14:27:
Nou gaan Ek weg en Ek laat vrede by julle bly. Ja, Ek gee my vrede vir julle. Maar Ek gee nie vrede soos die mense van die wêreld vrede gee nie. Julle moenie bang en ontsteld wees nie.
BESPREKING
# Dink jy mens kan vrede en vreugde beleef selfs al is mens baie hartseer?
# Lees Joh. 14:27. Wat dink jy is die verskil tussen Jesus se vrede en die wêreld s’n?
# Hoe sal jy die diepe vrede en vreugde van die Here kan verwoord aan iemand wat baie eensaam en verstoot voel?
# Watter dinge dink jy “steel” ons vreugde en vrede?
UITDAGING:
In hierdie tyd van sosiale distansiëring kan ons nie saam met mekaar in die kerk Nagmaal vier nie. Daarom gaan ons Nagmaal in ons huise vier.
Die Nagmaal is beide ‘n herinneringsmoment en ‘n viering. Ons dink na oor Jesus se kruisiging, maar ons vier ook die nuwe lewe wat ons deur Christus het. Daarom kan ons ook Nagmaal by die huis vier, want as gelowiges is ons een in Christus – dus is ons nie alleen nie. Ons kan ook deur simbole en rituele die nuwe lewe wat die Nagmaal voorstel, vier.
Daarom kan ons tydens hierdie Paasprogram ook sekere handelinge doen om opreg in ons persoonlike geloofsverhouding met God, die Nagmaal te gebruik. Kyk gerus na ons voorstel, maar kleur dit in soos jy goeddink:
Wit Donderdag:
Ons dink aan die voorbereiding vir die Paasfees. Ons trek swart aan en volg die liturgie van hierdie Bybelstudie. Ons gebruik ons tafel as die punt van byeenkoms vir die Nagmaal. Daarom dek ons vandag ons tafel eenvoudig met geen kleure en blomme. Ons Nagmaal vandag kan ‘n eenvoudige aandete wees alleen of saam met mekaar.
Voordat ons ons ete saam geniet, kan ons die liturgie van Johannes 13 volg:
· Maak ‘n skottel vol water en gebruik die geleentheid om mekaar se hande te was voordat julle saam aan tafel sit. Sê die volgende woorde vir mekaar: “Die Here was jou skoon. Die Here is by jou en jy het deel aan Hom.”
Goeie Vrydag:
Op Goeie Vrydag kan ons steeds swart dra en die lectio divina volg. Ons dink op hierdie dag aan Jesus Christus se sterwe. Ons kan vandag “saam” die Nagmaal by ons huise vier. Ons gebruik ons etenstafel en dek dit met donker kleure. Ons kan ook ons eie Nagmaal voorberei deur ons eie broodjies te bak en koue rooibostee i.p.v wyn te gebruik.
Voordat ons aansit vir die Nagmaal, kan ons die volgende doen:
· Kies om vandag die Nagmaal teen skemer te gebruik. Jy kan die Nagmaal selfs buite gebruik. Dink aan die progressie van die lig na die duisternis.
· Volg die liturgie in die preek van vandag om ook die Nagmaal te vier.
Stil Saterdag:
Op hierdie dag van rou dra ons steeds swart. Ons volg steeds ons lectio divina. Ons dink op hierdie dag aan Christus se sterfte en begrafnis.
· Berei in die dag ‘n pot vol grond voor.
· Wanneer ons die Bybelstudie vir stil Saterdag volg, kies om dit in die aand te doen. Dink oor die donkerte van die dood.
· Moet glad nie vanaand die tafel dek nie. Sit net so aan by die leë tafel.
· Na aandete, gebruik die pot grond en gee elkeen die geleentheid om ‘n kruisie daarin te trek. Sê die volgende woorde soos jy dit doen: “Jy moenie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in Christus. In die huis van God is daar baie woonplek. Daarom gaan Christus om vir ons plek voor te berei.” Amen.
Opstanding Sondag
Vandag vier ons die opstanding van ons Here! Ons trek ons swart klere uit en trek helder kleure van blydskap aan.
Volg gerus die preek op Facebook.
· Dek die tafel met helder kleure en blomme.
Dag na Paasfees
Op hierdie dag neem ons die boodskap van Paasfees in ons normale lewens in. Volg vir ‘n laaste keer die lectio divina.
· Dek die tafel soos wat jy normaalweg sou doen.
· Gebruik die Nagmaal net hier in jou eie eenvoud – net soos jy is.
AFSLUITING:
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Ontvang dan nou die seën van die Here:
Mag die vrede van die Here vir jou die moed gee om aan te hou in hierdie wêreld. Mag die vreugde van die Here jou dapper maak om hoop in die wêreld in te dra. Mag die hele wêreld in jou die vrede en vreugde van God sien.
Amen.
Blaas die kers nou dood.
Comments