top of page
Writer's pictureNG Margate

PAASFEES TUISGELOOF BYBELSTUDIE – STIL SATERDAG

Updated: May 23, 2020

‘STILTE’ – PSALM 139:1-18

11 APRIL 2020



OPENING

Kies ‘n rustige plek om stil te word.

Volg die lectio divina:

Lees: Johannes 3:16-17

Dink na oor die teks: Wat beteken dit vir jou?

Bid tot die Here

Reflekteer: Hoe verander dit jou lewe?

* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.

** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met gebed.

YSBREKER

# As jy ‘n prentjie moet teken van hoe stilte lyk, hoe sal jou prentjie lyk? # Die volgende prentjies verwoord almal die woord stilte. Gesels / dink na oor die verskillende maniere waarop stilte uitgebeeld word:




# As jy een prentjie moes kies wat nou by jou pas, watter een sou dit wees?

# Op Stil Saterdag herdenk ons die dood van Jesus voor Sy opstanding. In die kontemplatiewe spiritualiteit is daar die gebruik om stil te bly vir spesifieke tye. Kies vir jou ‘n tyd en probeer om stil te bly vir daardie ruk. Dink ook so na oor die dood van Jesus.

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing.

As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.



Op Stil Saterdag dink ons na oor Jesus se dood, maar omdat ons leef vanuit die oë van die Nuwe Testament weet ons ook dat Christus opstaan uit die dood. Daarom sing ons vandag ook aanbiddingsliedere om ons deur die duister van die dood te neem na die Lig.

Alternatiewe musiek:

Aanbidding

LB 378 Jesus Christus Heiland Heer

LB 445 Drie-Enig God, ons wil U eer

LB 387 O Heer, uit bloed en wonde

TEKS

* Lees Psalm 139:1-18 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees Psalm 139:1-18 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

Dit is vandag die dag na Goeie Vrydag – die dag na Jesus se krusiging. Kan jy jouself indink hoe die dissipels op hierdie dag moes voel? Hoe het Maria, die ma van Jesus gevoel? Hoe het Pilatus gevoel? Hoe voel ons?


Dit moes ongelooflik moeilik gewees het om te besef dat Jesus gekruisig is. Onthou dat hulle op hierdie stadium nog nie Jesus se woorde verstaan het nie. Die mense was almal onder die indruk dat dit – Goeie Vrydag – Jesus se einde was.

Kan ons onsself indink hoe dit moet voel om selfs net vir een dag nie te weet dat Christus weer opgestaan het nie? Miskien as ons kan, kan ons die idee van vandag verstaan. ‘n Dag van stilte. Want Jesus is dood.


Dit moes ‘n doodsestilte op die aarde gewees het. Die hele skepping moes sekerlik treur oor Jesus se dood. ‘n God-verlate stilte.


Het jy al ooit daardie stilte beleef? ‘n Stilte waarin jy so ver weg voel, so verdwaald, so eensaam dat dit voel asof Godself jou nie daaruit kan kom kry nie. Ja, ons kies praktyke van stilte om rustig te word en te herlaai. Maar, stilte kan ook ons grootste vyand wees: die stilte van ‘n leë kinderbedjie; die stilte van vier mure rondom ons; die stilte tussen twee mense – hierdie tipe stilte skree naderhand op ons.


Maar verwyder hierdie stilte ons van God?

Nee.

Alhoewel dit voel asof God ons verlaat het, het God steeds nie. Selfs al worstel ons met God, selfs al stoot ons God weg – God bly daar in die stilte. Want God ken ons. Psalm 139 verwoord dit so mooi deur te sê dat ons God nie kan ontvlug nie. Selfs al sou ons soos Jona wou weghardloop in die stilte van die nag, sal God by ons wees.


Dit is kosbaar om te weet dat God by ons is, maak nie saak wat ons voel of dink nie. God word nie gemanipuleer deur ons emosies nie. Maar tog is God ook nie onaangeraak nie. Te midde van daardie stilte wat so dikwels op ons kan skree, kom God en sê: “Ek ken jou. Of jy sit en of jy opstaan, Ek weet dit. Ek omsluit jou van alle kante, jy is Myne.”


Daarom kan ons vandag in hierdie stilte net toelaat dat ons emosies na voorskyn kom. Ons kan net onsself wees. Want selfs al is ons nie genoeg vir onsself nie, is ons altyd genoeg vir God.

Amen.

BESPREKING

# Wat gebeur met jou as jy ‘n paar oomblikke stilsit en niks doen nie?

# Wat dink jy is die verskil tussen die stilte van die lectio divina en ‘n stilte wat ondraagbaar is?

# Hoe dink jy kan jy iemand help vir wie stilte in hierdie tyd van sosiale distansiëring ‘n groot probleem is?

# Maar… wat gebeur met ons as ons nooit ‘n oomblik van vredevolle stilte neem nie?

# Hoe kan jy in jou daaglikse lewe ruimte maak vir ‘n vredevolle stilte?

# Hoe kan jy in jou daaglikse lewe ruimte maak vir wanneer die stilte nie so vredevol is nie?

UITDAGING:

Op hierdie dag van rou dra ons steeds swart, want ons dink op hierdie dag aan Christus se sterfte en begrafnis. Daarom kan ons, buiten vir hierdie Bybelstudie, die volgende uitdaging aanpak:

· Berei in die dag ‘n pot vol grond voor.

· Vir aandete moet ons glad nie die tafel dek nie. Sit net so aan by die leë tafel. Kies selfs kos wat ons met ons hande kan eet.

· Na aandete, doen die lectio divina saam. Gee ook elkeen die geleentheid om ‘n kruisie in die pot te trek. Sê die volgende woorde soos jy dit doen:

“Jy moenie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in Christus. In die huis van God is daar baie woonplek. Daarom gaan Christus om vir ons plek voor te berei.” Amen.

AFSLUITING:

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Ontvang dan nou die seën van die Here:

Mag die Here jou omvou wanneer die stilte te veel raak.

Mag die Here aan jou vrede skenk, sodat selfs die stilte ‘n seën kan wees.

Mag jy die Here se teenwoordheid ervaar in hierdie tyd.

Amen

128 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comments


bottom of page