top of page
Writer's pictureNG Margate

PAASFEES TUISGELOOF BYBELSTUDIE – DAG NA PAASFEES

Updated: May 23, 2020

‘TWEEDE KANS’ – LUKAS 23:34

13 APRIL 2020



Wat gaan jy benodig vir hierdie Bybelstudie:

- 'n Papier en pen

- 'n Kers en vuurhoutjies


OPENING

Word rustig in die teenwoordiheid van God.

Volg die volgende lectio divina:

Lees: Johannes 3:16-17

Dink na oor die teks: Wat beteken dit vir jou?

Bid tot die Here

Reflekteer: Hoe verander dit jou lewe?

* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.

** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met gebed.

YSBREKER

# Het jy al ooit ‘n tweede kans gekry? Gesels daaroor / dink na daaroor.

# Het jy al ooit iemand ‘n tweede kans gegee?

# Hoekom dink jy is dit moeilik om werklik vir iemand ‘n tweede kans te gee?

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing.

As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.



Lofprysing:

Tree in gebed voor julle die volgende liedere sing/kyk

Aanbidding:

- You’re the God of this city (https://www.youtube.com/watch?v=cEFGr1S8SkA)

- Ek sien ‘n nuwe toekoms kom (https://www.youtube.com/watch?v=CBOONBIU2yQ)

Alternatiewe musiek:

Lofprysing

LB 175 Majesteit

LB 201 Lofsing die Heer

LB 203 Loof die Heer, al wat lewe

TEKS

* Lees Lukas 23:34a en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees 23:34a en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

Wat beteken dit om vir iemand ‘n tweede kans te gee?

Gewoonlik beteken dit dat jy genade betoon teenoor iemand wat jou te na gekom het. Dit is ongelooflik moeilik om werklik iemand ‘n tweede kans te gee. Ons kan nie so maklik laat gaan van daardie emosies van verraad nie. Selfs al probeer ons, is dit steeds nie so maklik om ons vertroue in die persoon te stel nie. Daar is nie verniet spreekwoorde wat soos die volgende klink nie:

“Trust is earned, respect is given, loyalty is demonstrated. Betrayal of any one of those is to lose all three.”

Maar dan kry ons die Paasboodskap…

Hierdie boodskap vertel hoe een dissipel Jesus verraai het; ‘n ander wou nie saam met Hom gesien word nie; en aan die kruis het Hy gehang – vertroue, respek en lojaliteit is alles verlore. Tog is Jesus se antwoord nie een van haat nie. Al wat Hy sê is: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”


Dit is so ongelooflik kragtig dat Jesus hier nie woorde van wraak spreek nie, maar eerder woorde van vergifnis. Daarmee saam sê Jesus ook: “… want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Jesus se woorde van vergifnis het nie net betrekking tot wat die mense op daardie oomblik gedoen het nie. Jesus se woorde vergewe nie net die kruisiging nie. Die Griekse woord wat gebruik word vir “hulle weet nie” is geskryf in die Perfektum-verbuiging. Die Perfektum-verbuiging word verduidelik as: “…indicates an ongoing result…” Dit beteken dat die toestand van die mens wat “nie weet nie” steeds aanhou. Die mense van Jesus se tyd het nie geweet wat hulle doen nie…ons weet nie wat ons doen nie…ons sal nooit weet wat ons doen nie.

Tog vergewe God ons vir alles wat ons nie weet nie.

Ons dra geen sondelas nie, want Christus het ons in werklikheid ‘n tweede kans voor God gegee. Sodat ons skoon en rein en goed voor God kan staan. Nie uit ons eie verdienste nie, maar alleen deur die genade van Christus.


Daarom moet ons elke dag leef met die wete dat ons ‘n duurbetaalde geskenk van ‘n tweede lewe gekry het – ‘n lewe in Christus.

Daarom stel ons ons vertroue op God, ons respekteer God, ons is lojaal teenoor God. Want ons weet dat selfs al struikel ons op een of meer plekke, sal God ons nooit laat verlore gaan nie.

Dít is ons tweede kans op lewe… ‘n ewige lewe.

Amen.

BESPREKING

# Hoe verstaan jy die tweede kans op lewe van God vir jou gee?

# Wat is die lewe wat jy dink God van ons vra om te leef?

# Hoe voel jy daaroor dat ons waarskynlik altyd nie sal “weet wat ons doen” nie.

# Hoe dink jy sou die geskiedenis van die mensdom anders gelyk het as ons elke dag besef het dat ons “nie weet wat ons doen nie”?

# So as ons dan nou nie “weet wat ons doen nie” – waarin vind ons dan ons sekerheid?

NAGMAALSHERINNERING TYDENS ONTBYT

Vandag vier ons ons Nagmaal by ons huise. Ons vier dit op ons tyd. Ons vier dit in ons gewone klere. Ons vier dit by ons gewone etenstafels. Ons doen alles net soos gewoonlik.

Hierdie is nie ‘n teken van disrespek nie, maar eerder ‘n teken dat die Nagmaalboodskap so deel is van ons nuwe, tweede lewe dat dit nie geskei kan word van wie ons normaalweg is nie. Ons kom voor God net soos ons is.

Daarom doen ons ‘n Nagmaalsherinnering.


- Neem jou papier en skryf vir jouself ‘n brief. Maar jy moet hierdie brief skryf asof dit ‘n gesprek is tussen jou en God. Skryf die woorde neer wat jy in jou hart voel die Here vir jou sal sê. Die papier is die teken dat Christus se liggaam vir ons verniel is, amper soos wat die ink die papier se waarde verminder. Maar die boodskap en die woorde is egter die teken dat die papier nou meer waardevol is as ooit vantevore, want dit behels die Paasboodskap. Hou jou brief by jou. Lees dit wanneer jy herinner moet word aan jou tweede kans.


- Neem jou kers en doen hierdie belydenis saam:

[Steek jou kers aan en sê hardop]

Ek glo in God die Vader, die Lig en die Lewe. Ons God wat regeer

En ek glo in Jesus Christus ons Heer. Lig uit Lig. Seun van God en self God. Jesus wat vir my kom sterf het. Jesus wie se bloed vir my gevloei het.

[Blaas jou kers dood]

Sodat ek nooit die ewige dood sal kry nie, maar die ewige lewe. Ek verdien dit nie. Ek weet nie wat ek doen nie, maar my Here het my ‘n tweede kans gegee.

[Steek jou kers weer aan / steek mekaar s’n aan]

Daarom loof ek die Here.

Die Here leef!

Ja, waarlik, die Here leef.

Amen.

As teken van die hoop wat ons in die nuwe môre vind, eet nou saam / alleen ontbyt in die Here se teenwoordigheid.

AFSLUITING:

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Ontvang dan nou die seën van die Here:

Mag jy elke dag opstaan deur die krag van ons Here. Mag jy die wonder van alles rondom jou raaksien. Mag jy jou tweede kans geniet. Genade en vrede vir ons elkeen.

Amen.

118 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

留言


bottom of page