‘AFHANKLIKHEID’ – JOB 42:1-6
7 APRIL 2020
OPENING
Word rustig daar waar jy/julle kies om die Bybelstudie te doen.
Haal vyf keer diep asem: in en uit.
Voel hoe jou fokus op Gog gerig word.
Voel hoe die fokus weg van jou af gaan.
Voel die rustigheid om jou.
Maak jou hart oop om God te ervaar. Fokus jou oë om God nuut raak te sien. Stel jou ore in om God op ‘n vreemde plek te hoor. Maak jou hande oop om God te voel. Maak jou voete bereid om te gaan waar God gaan.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met gebed.
YSBREKER
# Wat is die beste raad wat jy al ooit gekry het?
# Dink jy jy het al ooit goeie raad gegee?
# Wat is die slegste raad wat jy gekry het?
# Dink jy jy het al slegte raad gegee?
# Wat dink jy van hierdie prentjies:
LOFPRYSING & AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing.
As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing:
- I will raise a Hallelujah (https://www.youtube.com/watch?v=e3RRU25dpPg)
- Holy, holy, holy (https://www.youtube.com/watch?v=AgHrNNM23p8)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- Laat my nooit U grond verlaat nie (https://www.youtube.com/watch?v=5PnUbvfwmIU)
- Ons Vader (https://www.youtube.com/watch?v=aefaVKTIoCU)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing
LB 161 Halleluja! Heer, U is ons lewe
LB 158 Bring my na U woning, Here
LB 171 Heilig, heilig, heilig
Aanbidding
LB 266 Ons Vader wat woon
TEKS & BOODSKAP
Afhanklikheid is vir my een van die moeilikste goed. Ek hou nie daarvan om afhanklik van enige iemand te voel nie. Ek hou daarvan om my eie keuses en my eie besluite te neem. Ek is ook ‘n groot ondersteuner van die filosofie dat dit nie die lotval is wat ons beheer nie, maar ons eie keuses.
Tog word ek vandag gekonfronteer met die boek Job. Job het niks verkeerd gedoen nie. Job het nie enige slegte of verkeerde besluite geneem nie. Tog ervaar Job ‘n baie groot stuk pyn en lyding. Hy luister na die woorde van sy vriende en worstel met God daaroor. Todat God aan die einde met Job terugpraat. Daarna antwoord Job met die volgende woorde:
1Daarna het Job vir die Here gesê: 2“Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. 3Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie. 4U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat, Ek sal vra, antwoord jy My. 5Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, 6en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.”
Alhoewel hierdie woorde glad nie bemoedigend klink nie, troos dit my. Job vind in groot pyn en hartseer troos in die geloof dat God besluit en dat God ook dit wat God besluit het, uitvoer.
In die tye waarin ons leef wil ons ‘n rede vir alles gee – redes vir onverklaarbare hartseer en lyding. Job se verhaal kom spreek egter boekdele oor ware afhanklikheid. In Job gaan dit nie oor keuses nie. Dit gaan daaroor om met wysheid na te dink oor dit wat met ons gebeur. ‘n Wysheid wat nie vasgevang kan word in maklike antwoorde nie. Job 42:1-6 wys vir ons dat daar meer wysheid daarin is om in sak en as voor God te sit as wat daar is om God se bedoelinge te probeer verklaar of om oor dinge te praat wat ons nie verstaan nie.
Verstaan ons werklik hierdie tipe afhanklikheid? ‘n Afhanklikheid waarin ons metafories in sak en as voor God sit. Ons doen dit nie, noodwendig, omdat ons rou nie, maar ons doen dit omdat ons besef dat ons maar nietig en klein is. Ons verag onsself.
Miskien is dit hierdie Job-wysheid wat weer na vore kom in hierdie Lydenstyd. Wanneer Jesus gereed maak vir die Paasfees, is dit nie met groot woorde of die skryf van boeke nie. Dit is nederige aksies van gemeenskap, verhoudings en gebed. Dít doen Jesus alles om op Goeie Vrydag nie verhef te word nie, maar verag te word. Ons Koning – gekruisig, gesterf en begrawe.
En vanuit daardie diepe, Goddelike wysheid, daardeur spruit ons afhanklikheid. Ons is afhanklik van God, want as dit nie vir God was nie, het ons steeds die hele punt van lewe gemis.
Amen.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Ervaar jy soms tye waar mense praat asof hulle reeds namens God oor iets besluit het? Gesels daaroor of skryf dit neer.
# Hoe dink jy beїnvloed vers 2 en 3 die kwessies in die bg vraag?
# As ons hoofstuk 42 sou verder lees, sou ons lees dat God kwaad is vir Job se vriende. Job se vriende wou heeltyd redes soek vir dit wat met Job gebeur het. Daarom skryf Job in 42:5 dat hy tot nou toe net gehoor het wat die mense sê oor God, maar dat hy nou self God gesien het. Dink jy dat daar baie boodskappe oor God is? Wat dink jy is die rol van jou eie geloofslewe in die nadenke oor wie God is?
# Hoe dink jy kan ons op beter maniere met mekaar praat oor God?
# Hoe help hierdie teks jou om sin te maak van wat nou met ons gebeur?
UITDAGING:
Neem ‘n oomblik om rustig na te dink oor die volgende.
Ons beeld van God kan met tyd baie verander. Ons dink waarskynlik nie dieselfde oor God as wat ons het toe ons vyf jaar oud was nie. Kom ons maak ‘n tydlyn en probeer terug dink aan hoe ons oor God gedink het:
- Hoe het jy oor God gedink toe jy ‘n kind was?
- Was daar ‘n prominente oomblik waar jy God ervaar het?
- Is daar iets in jou beeld van God wat verander het toe jy ‘n jong volwassene was?
- Hoe dink jy nou oor God?
- Hoe dink jy gaan jy dink oor God in die volgende 5 jaar?
AFSLUITING:
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Ontvang dan nou die seën van die Here:
Mag die wysheid van die Here deur jou vloei.
Mag die troos van die Here vir jou insig bring.
Mag jy altyd die Here se teenwoordigheid ervaar.
Amen.
Kommentare