'ONTEVREDENHEID” – FILIPPENSE 4:2-13; EKSODUS 16:1-8
06 APRIL 2020
INGENOOI DEUR GOD
Sluit jou oë en word stil vir drie minute. Haal lekker diep asem. Wees stil. In hierdie tyd sal ’n klomp gedagtes deur jou kop gaan. Moet hulle nie probeer verdryf nie. Raak bewus van die gedagtes. Laat hulle verbyvaar soos ’n skip wat jy sien wegvaar op die oseaan.
Bid nou saggies alleen of in die groep hierdie gebed: “Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer.” Herhaal dit twee keer. Jy of julle kan dit ook saggies sing. (Liedboek 526)
YSBREKER
# Daar is ’n ou lied wat lui: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een.” Dink aan vyf seëninge waarvoor jy die Here kan dank. Skryf dit neer of deel dit met iemand.
# Wat is die grootste frustrasie wat jy tans in jou lewe ervaar? Deel die rede vir jou ontevredenheid met iemand na aan jou.
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Worship the King – Don Fransisco (https://www.youtube.com/watch?v=XzG8Y7IPzec)
Aanbidding
Koningskind-Juanita du Plessis (https://www.youtube.com/watch?v=OxClPy7YC9w)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 198 God is my lied
LB 197 Wonderbare Koning
LB 502 Vol vertroue vas en veilig
TEKS:
SKRIFLESING: FILIPPENSE 4:2-13; EKSODUS 16:1-8
BOODSKAP:
Die tye waarin ons leef, die inperking van mense, begin nou tel. Hier en daar begin mense so bietjie ongemaklik voel, maar merendeels hou die meeste nog kop bo water. Die apostel Paulus skryf dat hy geleer het om hom in alle omstandighede te behelp.
In die Direkte vertaling se weergawe van die teks staan daar: “Ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees.” Ontevredenheid met jouself en jou omstandighede is iets wat soos klitsgras aan jou kom kleef voor jy dit weet.
Die volk Israel in die Eksodus teks, is deur die Here se sterk hand wonderbaarlik uit Egipte bevry. Op pad na die beloofde land word hulle egter met moeilike omstandighede gekonfronteer. Hulle fokus baie gou nie meer op die bevryding uit Egipte nie maar op die moeilike omstandighede waarin hulle hulself bevind. Hulle vergeet om hul seëninge te tel en raak ontevrede. Probleme van die hede, soos die CORONA19- epidemie laat gelowiges die wonderdade van God in die verlede vergeet.
Ook ons ervaar dat onmiddellike probleme die herinnering aan die Here se verlossingsdade laat vervaag.
Die apostel Paulus het goeie en slegte tye beleef. Goeie tye waarin hy die vrug op sy arbeid beleef en slegte tye waar hy in boeie in die tronk is juis as gevolg van die verkondiging van die evangelie. Hy sê dat die Here hom in goeie en slegte tye geleer het om nie ontevrede nie, maar tevrede te wees. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee, bely hy in Filippense 4:13. Christus is die een wat vir Paulus deur die Heilige gees tevredenheid geleer het, sodat ontevredenheid nie die oorhand oor sy lewe kry nie. Dit het gemaak dat hy nie perspektief verloor het en ’n klakous geword het nie.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Ken jy mense wat met alles ontevrede is? Jy hoef nie hul name te noem nie, maar wat is kenmerkend aan ontevrede mense?
# Wat doen ontevredenheid aan mens se gemoed? Dink aan Israel se gekla daar in die woestyn?
# Kyk na die aanhaling van Heroclitus:
“The content of your character is your choice. Day by day, what you choose, what you think and what you do is what you become.”
Stem jy saam met die aanhaling? Lees weer Filippense 4:4-7 hierbo. Watter rol speel mense se gedagtes in die vorming van gevoelens van ontevedeneheid of tevredenheid?
# Stem jy saam dat die Christen in alles bly kan wees, nie noodwendig vir alles nie? Hoekom dink jy so?
# Hoe kan mens jou bekommernis in gebede omskep? Let veral op Filippense 4:6 en 7.
# Is die vrede wat God aan mens skenk iets soos ’n “salige gevoel” wat oor jou kom of is dit iets anders?
# Hoe het God tot sovêr in jou behoeftes voorsien in die tyd van inperking? Deel dit met iemand.
UITDAGING:
Iemand vra jou: “Is jy ’n vergenoegde mens, ’n tevrede mens?” Hoe sou jy die persoon antwoord? In jou tyd van nadenke oor die vraag, reflekteer oor hierdie tyd van inperking. Hoe kan hierdie tyd van inperking jou leer om ’n tevrede mens te wees?
AFSLUITING:
Bid die woorde van Filippense 4:13 elke dag van hierdie tyd van inperking: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee.”
Amen.
Comments