PAASFEES TUISGELOOF BYBELSTUDIE - DAG 6
- NG Margate
- Apr 4, 2020
- 4 min read
Updated: May 23, 2020
'GEBED” – LUKAS 23:44-49 (Veral vers 46); PSALM 31:6
04 APRIL 2020

INGENOOI DEUR GOD
Sluit jou oë en word stil vir drie minute. Fokus op jou asemhaling. Neem in wat jy ruik, of proe of hoor of van bewus raak. As daar iets spesifiek is wat jou ontstel, plaas dit in ’n ballon. (Sien in jou gedagtes hoe jy dit doen). Laat die ballon nou los. Sien hoe dit wegraak teen die hemelruim. Bid nou saggies alleen of in die groep hierdie gebed:
“Heer wees my genadig, Christus wees genadig, Heer wees ons genadig.”
Amen
YSBREKER
# Dink na oor een antwoord op gebed in jou eie lewe waaroor jy dankbaar is. Deel dit met iemand.
# Wat is die grootste struikelblok in gebed wat jy tans ervaar, of al ervaar het? Deel dit met iemand as jy nie alleen is nie.
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing
The heart of worship - Matt. Redman (https://www.youtube.com/watch?v=P-Zp586pvZg)
Aanbidding
Ons Prys u in Aanbidding- Retief Burger (https://www.youtube.com/watch?v=ZrDVGwAao1U)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 203 Loof die Here al wat lewe
LB 207 Eer aan die Vader
LB 209 Heer met my hele hart
TEKS:
SKRIFLESING: LUKAS 23:44-49 (veral vers 46); PSALM 31:6.
BOODSKAP:
Ons is almal kwesbaar en broos. Tye van inperking en onsekerheid soos wat ons nou beleef maak ons bewus van ons eie verganklikheid. Die laaste woorde van iemand op sy sterfbed bly mense by. Jesus se sterwensgebed bly ons by, want Sy gebed is een van afhanklikheid van Sy Vader.
Jesus bid die gebed wat Maria, nes alle Joodsemoeders, hom waarskynlik geleer het as kind. Dis die gebed uit Psalm 31:6 “In U hande gee ek my lewe oor.”

Dis die gebed vir kinders net voor hulle gaan slaap. Op Golgota word dit die gebed vir kinders van God wat gaan sterf. Die donker was besig om oor die wêreld toe te saak, maar die bedliggie word op Golgota aangesteek. Die dood was altyd die grootste vyand. Na Christus is se dood en opstanding is dit nie meer nie. Die Lig het die duisternis verdryf. In 1 Tessalonisense 4:14 praat Paulus na Christus se opstanding oor die dood as slaap. Die dood en die Corona Virus is in Christus nie meer ’n verskrikking nie. Die eerste Christenmartelaar Stefanus bid dieselfde gebed van Jesus as hy sterf in Handelinge 7:59 maar dan tot Jesus: “Here Jesus, ontvang my gees!”
Jesus se sterwensgebed is natuurlik nie net bedoel vir die sterwensoomblik nie. Dis ’n gebed van afhanklikheid wat ons elke dag, ook in ons jeug kan bid. Smôrens en saans. Die lewe is mooi maar soms ook moeilik. Gee jouself, jou lewe, die van ander, elke dag biddend oor in die hande van die Here, die hande waaruit niemand jou kan ruk nie. (Johannes 10:28) God is my Rots. Die Christen se toegang tot die troon van God is nie ingeperk nie. Jy hoef maar net te bid, selfs stilte is gebed.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Drie van Jesus se sewe kruiswoorde was in die vorm van ’n gebed, naamlik Lukas 23:46, Lukas 23:34 en Markus 15:34. Dink na oor die kerngedagte in elkeen van die drie verse en deel met mekaar as julle in ’n groep is.
# Jesus het tydens Sy “inperking” op Golgota vir ander gebid. (Lukas 23:34). Vir watter behoeftes van mense in ons gemeente kan jy/julle die volgende 21 dae bid? Dink aan die bejaardes, siekes, skoliere wat moet tuisbly, dokters en verpleegsters, die dominees. Maak ’n lys en bid elke dag dan vir ten minste een van hierdie kategorie mense wat so pas genoem is. As jy iemand spesifiek ken, noem sy of haar naam voor die Here.
# Kan jy ’n kindergebedjie onthou wat jou ma of pa jou as kind geleer het of saam met jou gebid het? Herroep die gebed in jou gees of deel die gebed met iemand na aan jou.
# Wat in Jesus se sterwensgebed hierbo genoem bemoedig jou?
# Gebed is veral ook om te hoor en te luister na die stem van die Here? Wat dink jy sê die Here vir Sy kinders in hierdie tyd van COVID-19?

# Jakobus 5:16b sê dat die gebed van ’n gelowige ’n kragtige uitwerking het. Watter uitwerking sal die gebede van God se kinders hê uitoefen op die impak van die COVID-19 pandemie in die wêreld?
# Haal vir een minuut nie asem nie. Wat dink jy sal met jou gebeur as jy vyf minute nie asemhaal nie? Iemand het gesê dat gebed die asemhaling van die siel is. Wat gebeur as mense nie meer bid nie?
UITDAGING
Maak ’n nota van die BLESS gebed hieronder en gebruik dit as riglyn om vir ander te bid in die toekoms. Die eerste letters van die woordjie bless word gebruik om as inleiding vir elke deel van die gebed te dien. Dalk kan jy uitvind wie in jou wyk in die gemeente is en begin om so vir die wykslede te bid. Jy kan dit ook vir die twee dominees in ons gemeente en hul eggenotes bid. Na die COVID-19 krisis kan jy die BLESS gebed ook gebruik om in die algemeen vir mense te bid.
Body. Bid vir mense se liggaamlike genesing, ook hulle wat siek is van die virus.
Labour. Bid vir mense se werksomstandighede, ook hulle wie se werk in gedrang is.
Emotions. Bid vir mense se emosionele behoeftes, ook waar daar nou angs is.
Spiritual. Bid dat mense nader aan die Here sal groei in hierdie dae.
Social. Bid vir mense wat alleen is en bid vir die eensames wat nie ’n ondersteunings netwerk het nie.

AFSLUITING:
Eien hierdie gebed van Paulus in Efesiërs 3:16-19 vir jouself en andere wat jy ken toe:
Ek bid dat Hy (God) deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word. Ek bid dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Amen.
Baie dankie vir dag stukke. Dit is wonderlik om so ook deel te wees van ons gemeente.