‘HULP’ – JOHANNES 14:15 -17 & 27
3 APRIL 2020
OPENING
Op hierdie dag wil ons God in ons harte innooi. Ons wil die rustigheid van God ervaar.
Neem dan nou hierdie oomblik om diep asem te haal: in en uit.
Voel hoe die gewig van stres en spanning verdwyn.
Gebruik die tyd om in ‘n ander mindset te kom – ‘n ingesteldheid wat op God gefokus is.
Dink na / gesels oor die volgende vrae:
# Het jy al ‘n tyd in jou lewe ervaar waar die Heilige Gees jou gehelp en gelei het? Gesels met mekaar daaroor of skryf jou getuienis neer.
# Gaan jy nou deur ‘n moeilike tyd waar jy hulp van die Helper nodig het? Gesels met mekaar daaroor of skryf jou getuienis neer.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met gebed.
YSBREKER
# Het jy al ooit hulp van iemand ontvang? Vertel dit vir mekaar of skryf dit neer?
# Dink jy dat sekere hulpgebare ons langer bybly as ander? Hoekom?
# Dink jy ons kan werklik hulp aanvaar as ons nie toelaat dat dit ons intiem en persoonlik kom aanraak nie?
# Dink jy ons kan steeds die Here se hulp hê as ons te swak is om daarvoor te vra?
Lees die volgende woorde van 2 Korintiërs 12:9-10 saam:
Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.
* Identifiseer ‘n frase wat vir jou uitstaan. Jy kan ‘n mooi boekmerk maak met hierdie woorde op wat jy na die lockdown vir iemand kan gee.
** Identifiseer ‘n frase wat vir jou uitstaan. Maak saam met mekaar boekmerke wat julle tussen mekaar kan uitruil.
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing.
As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing:
- Praise You in this storm (https://www.youtube.com/watch?v=0YUGwUgBvTU)
- Skouers (https://www.youtube.com/watch?v=26WfYXvVlIY)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- I surrender (https://www.youtube.com/watch?v=jgsqfjRslzA)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing
LB 281 Lei ons, Here, groot en magtig
LB 305 Aanbiddelike God, drie-enig
Aanbidding
LB 578 Jesus wat my liefhet, Heer
TEKS:
* Lees Johannes 14:15-17 & 27 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Johannes 14:15-17 & 27 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP:
Meeste van ons ken die bekende verse van Psalm 121: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”
In die eenvoud van hierdie twee verse vind ons eintlik ‘n baie belangrike geloofsoortuiging: die oortuiging dat ons hulp nie net kom van die Here af nie, maar van die Almagtige Skeppergod en Here. Dit is wonderlik dat ons kan weet dat ons hulp nie net sommer van enige, lukrake plek af kom nie, maar van die Heer van die ewigheid.
Daarom wil ons die Here se opdragte ook uitvoer, want ons is lief vir die Here. So ook verwoord Johannes 14:15 hierdie oortuiging van ons. Die woorde “…sal julle my opdragte uitvoer…” is nie soseer ‘n opdrag nie, maar ‘n belydenis van ons ingesteldheid (mindset) waaraan ons onsself vandag opnuut weer kan toewy. Omdat ons die Here liefhet, leef ons met die ingestelheid van Sy opdragte. Ons voer die opdrag van die Here uit, nie omdat ons behep is met die wet of die onderhouding daarvan nie, maar omdat ons in ons diepste wese die Here liefhet. As ons dit verstaan, kan ons dalk iets van Jesus se volgende woorde verstaan.
Jesus openbaar nog voordat Paasfees aanbreek dat Hy vir die Vader sal vra om vir ons ‘n ander Voorspraak te stuur – die Gees van waarheid. Weereens, vanuit Jesus se liefde, vanuit wie Jesus is, tree Jesus vir ons in. Hy doen dit nie omdat ons aan sekere gebooie gehoorsaam was nie, maar omdat Sy genade ons toevou.
Daarom word daar ook na die Heilige Gees verwys as die ‘Parakleet’ – die Gees wat jou omvou, jou bystaan, jou troos en jou lei. Jesus tree weer vir ons in en gee vir ons die hulp wat ons nooit self sou kon kry nie.
Maar omdat ons die Here liefhet; omdat ons die Here ken; omdat ons na die berge opkyk en bely dat ons hulp alleenlik van die Here kom – kan ons ook hierdie Parakleet ken (vs. 17). Hierdie ‘ken’ is meer as net kennis en waarneming. Hierdie ken is relasioneel – “…it is knowing something because of an experience that allows you to intimately and personally know it.” Die Parakleet is dus vervleg deur ons menswees en ons kan nooit sonder die Parakleet wees nie. Dít is die groot hulp van die Here.
Daarom gaan vers 27 verder en vertel oor die vrede wat hierdie wete van die Parakleet vir ons gee. Dit is nie die ligte, fake vrede van die wêreld nie, maar die diepe vrede van God. Vrede wat net soos die Parakleet, vervleg word in ons eie wese. Ons hoef nooit sonder die vrede van God te wees nie. Want:
In vrede het God ons geskep.
Vir vrede het Christus vir ons gesterf.
En ons kan hierdie vrede ken deur die altyd-teenwoordige Parakleet.
Amen.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Dink jy ons vra maklik om hulp? Dink jy ons aanvaar maklik die hulp wat ons aangebied word?
# Dink jy ons aanvaar hierdie diepe hulp van die Here?
# Wat dink jy keer ons om baie keer die omhelsing van die Parakleet te ervaar?
# Hoe dink jy kan ons meer doelbewus ‘n lewe van hierdie “ken van God” leef?
# Hoe dink jy sal dit ons wêreld beїvloed?
# Wat gebeur met jou emosies as jy dink dat Christus hierdie diepe ken van God verduidelik het voordat Hy gesterf het? M.a.w. dat Christus hierdie verduidelik het vir mense wat nog nie Pinkster beleef het nie; wat sou sien hoe Jesus gekruisig word; wat sondaars is?
# Hoe voel jy daaroor dat Christus steeds hierdie hulp vir elke sondaar aanbied?
# Dink na / gesels oor die volgende stelling:
Ons wat in die gemeente is, is nie minder sondaars as diegene buite ‘n gemeente nie. Ons is wel heilige sondaars. Ons is nie heilig in die sin van God of Christus of die Gees nie, maar heilig in die sin daarvan dat ons onsself oopstel sodat hierdie “ken van God” naby ons kan kom, sodat ons God Drie-enig intiem en persoonlik kan ervaar. Daarom bely ons ook in die Apostoliese Geloofsbelydenis dat ons “…glo in die gemeenskap van die heiliges,”.
UITDAGING:
Kom ons probeer om die res van die lockdown elke dag hierdie eenvoudige oefening te doen:
5 – Dink aan vyf goed waarvoor jy dankbaar is.
4 – Dink aan vier maniere hoe jy iemand vandag kan bystaan / help.
3 – Dink aan drie persone met wie jy vandag kan gesels.
2 – Dink aan twee goed wat jy vir iemand kan skenk hierdie maand.
1 – Bedank God vir God se hulp en bystand.
AFSLUITING:
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Ontvang dan nou die seën van die Here:
Mag jy die Here ken.
Mag jy die hulp van die Here ontvang.
Mag jy hulp aan ander bewys.
Amen.
Comments