'VERRAAD’ – MATTEUS 26:20-25
2 APRIL 2020
INGENOOI DEUR GOD
Wees stil. Praat met die Here. As julle in ‘n groep Bybelstudie doen, vra iemand om met gebed te open. Raak bewus van jou diepste vrese en behoeftes en gee dit aan God oor. Stel nou jouself oop vir God se Woord. As jy die teks lees, let op die beweging van die Heilige Gees in jou hart en gedagtes.
YSBREKER
# Watter emosies roep die prentjie hierbo van twee mense wat met hul rug na mekaar toe staan, by jou op? Deel jou indrukke met iemand by jou of dink net daaroor na as jy alleen is.
# Lees die volgende aanhaling:
“Iskariot, jy kan jou kop laat hang. Uit spyt, daar in die hel waar jy nou woon” Jy, Judas, puik verraaier, jy's onttroon.”
- C. Louis Leipoldt
Dink jy die geregverdig om so van Judas te praat? Hoekom?
# Dink na aan iemand wat jou “verraai” het. Hoe voel jy nou oor die persoon?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing.
As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
- In die middel van die storm (https://www.youtube.com/watch?v=ka6zYgw2IUMysing)
Stilte
Word stil vir drie minute. Raak bewus van jou omgewing, van jou omgewing. Watter geluide hoor jy wat jy nie voorheen van bewus was nie? In die tyd van COVID-19 is die Here by jou. Luister na Joe Niemand.
Aanbidding
- Ek sal nie bang wees nie (https://www.youtube.com/watch?v=9p8Lef6IdoM)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing
LB 380 Jesus, Lam gely ter slagting
LB 393 Middelpunt van ons verlange
LB 396 Aanskou die Heiland
TEKS:
* Lees Matteus 26:20-25 twee keer biddend deur. Probeer jou inleef in die situasie daar aan die tafel saam met Jesus en Sy dissipels. Som die gebeure in een sin op vir jouself of ander by jou.
BOODSKAP:
Dit is tyd gewees vir die Paasmaaltyd. Verbeel jou jy is nou daar. Weer gaan daar gedink word aan die paaslam en die verlossing uit Egipte. Tog is die atmosfeer gelaai. Jesus het vroeër gesê dat die Seun van die mens oorgelewer gaan word om gekruisig te word, toe die bom bars. “Een van julle sal my verraai,” kondig Jesus aan. Die dissipels is almal onthuts. Let op die reaksie van die dissipels op Jesus se aankondiging. Een na die ander het Hom begin vra: “Is dit dalk ek, Here?” Matteus skets nie noodwendig net ’n slegte prentjie van Judas nie, maar toon dat die dissipels ook selfondersoek doen. Hy daag sy lesers uit om hand in eie boesem te steek. Is ek dalk die verraaier?
Judas is egter nie ontsteld nie. Hy noem vir Jesus nie Here nie, maar Rabbi, die term wat Matteus gewoonlik vir Jesus se teenstanders gebruik. Jesus het geweet van die verraad wat sou kom. Jesus ken die beweegredes van mense. Hy ken ook jou en my hart sowel as die bedoelinge van ons harte.
Jesus waarsku almal, Judas inkluis, dat verraad in elkeen van Sy volgelinge se harte skuil. Moet dus nie in die strik trap om net vir Judas uit te haal nie.
Die vraag is hoe reageer ons op hierdie waarskuwing van Jesus dat verraad in elke mens se hart skuil? Jesus roep Sy volgelinge op saam met Hom te vertoef op die kruisweg. Steeds is dit Hy, die Paaslam, die Een wat lief het tot die uiterste toe, wat roep: “Keer jou na My!” Ons sien ook in hierdie Skrifgedeelte die verwoestende effek wat sonde op mense het. Laat ons ons voor die Here verootmoedig in hierdie Lydenstyd. Laat ons erken dat dit ek en jy is, wat Jesus kan verraai. Die sagte manier waarop Jesus vir Judas antwoord, laat die moontlikheid vir omkeer tot op die laaste vir Judas oop. Ook vir jou en my is daar hoop, al het jy jou lewe, kanse en tyd verspeel.
Amen.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Jy is deel van die groep dissipels by die Paasmaaltyd. Wat gaan deur jou gedagtes as jy Jesus se woorde hoor? Deel dit met mekaar.
# Kan jy insidente waar Judas se naam in die vier evangelies voorkom, herroep? Wat vertel dit vir ons van Judas? (Bv. Johannes 12:3-7)
# Is jy al ooit deur iemand wat jy vertrou het, verraai of in die steek gelaat? Deel dit met mekaar.
# Het jy al ooit gevoel dat jy die Here in die steek gelaat het? Deel met iemand Hoe dit jou laat voel.
# Het jy al ooit gevoel dat die Here jou in die steek gelaat het? Hoe het dit jou laat voel?
# Is daar in jou lewe iets wat jou “gebreek” het en maak dat jy dink omdraaikans is vir jou verby? Is hierdie Bybelstudie nie dalk die Here se manier op met jou te praat nie en jou te herstel nie? Gee genoeg geleentheid vir stilgebed en toekeer na die Here.
# Lees nou vir jouself of as jy in ’n groep is gesamentlik, Liedboek 239:1-4 voor as jou / jul gebed en respons vooraan die Here.
UITDAGING:
Dink vir so twee minute na oor die volgende aanhaling van C. S. Lewis en herverbind jouself vandag opnuut om God en jou naaste met alles lief te hê.
“For you will certainly carry out God’s purpose, however you act, but it makes a difference to you whether you serve like Judas or John.”
(Johannes was mos die apostel van die liefde en Judas die verraaier.)
AFSLUITING:
Eien die volgende seënbede vir jou toe met die versekering van die woorde:
“Vandag skep die Here vir my ’n tweede kans.”
Lees dit dan as groep saam.
“God die Vader sal jou altyd liefhê. God die Seun sal jou altyd genadig wees. God die Heilige Gees sal jou altyd vertroos en jou in Sy waarheid lei.”
Amen.
コメント