'DIENSBAARHEID' - JOHANNES 13:1-17
1 APRIL 2020
Wat gaan jy benodig voordat jy met hierdie Bybelstudie begin:
- ‘n Bakkie water en ‘n handdoek.
OPENING
Sit saam, of alleen, op ‘n stil plek en haal rustig asem.
Probeer fokus op die stilte.
Konsentreer op die tyd wat julle/jy nou ervaar.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met gebed.
Luister die volgende lied saam of lees die woorde:
Will you let me be your servant Let me be as Christ to you Pray that I might have the grace To let you be my servant too
We are pilgrims on the journey We are travellers on the road We are here to help each other Walk the mile and bear the load
I will hold the Christ light for you In the night time of your fear I will hold my hand out to you Speak the the peace you long to hear.
I will weep when you are weeping When you laugh, I'll laugh with you I will share your joy and sorrow Till we've seen this journey through
Will you let me be your servant Let me be as Christ to you Pray that I might have the grace To let you be my servant too
YSBREKER
# Gebruik die bakkie water om stadig jou hande te was terwyl jy die volgende woorde drie keer hardop lees*.
# Gebruik die bakkie water en maak beurte om mekaar se hande te was terwyl julle die volgende woorde vir mekaar toesê*.
* Lees eers die woorde en probeer dit memoriseer
Die Here is by jou/my.
Jy/ek is nie alleen nie.
Jy/ek is geliefd.
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing.
As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing:
- We will go (https://www.youtube.com/watch?v=tCEGDkdXOcM)
- Here, Jesus, U skyn oor almal (https://www.youtube.com/watch?v=Ia6pDLVmpCE)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister
Aanbidding
- Soos ‘n wildsbok (https://www.youtube.com/watch?v=eopGg4IxxzM)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing
LB 438 Gees van God, o Gees van God
LB 207 Eer aan die Vader
Aanbidding
LB 308 Neem my lewe laat dit Heer
TEKS:
* Lees Johannes 13:1-17 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Johannes 13:1-17 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP:
In vers een van hierdie aangrypende verhaal, lees ons dat Jesus Sy eie mense wat in die wêreld was, baie lief gehad het. Dit is baie belangrik dat hierdie gedeelte met die verklaring van liefde begin, want sonder liefde sal ons niks van Jesus se optredes kan verstaan nie. Vanuit liefde vloei alles wat Jesus is en wat Jesus doen.
So wanneer ons dan kom by die gedeelte in vers vyf waar Jesus die dissipels se voete was, onthou ons die diepe liefde van Jesus. Maar wie is dit wat tussen hierdie dissipels is? Judas Iskariot – Jesus se verraier. Ook Judas se voete word gewas. Is dit nie ongelooflik dat Jesus se liefde so diep gaan dat Hy selfs voor Sy eie verraaier sou kon kniel om ook sy voete te was nie?
Hierdie gedeelte werp vir ons lig op die tema van diensbaarheid. Jesus se handeling van voete-was was natuurlik meer as net skoon voete. Jesus het die werk van ‘n slaaf – iemand met geen waarde – aangeneem deur die dissipels se voete te was. Daarom reageer Petrus in vers agt so skerp daarop. Tog het Jesus geweet dat diensbaarheid dikwels beteken dat jy soos iemand met min waarde hanteer word. Dink maar aan hoe party mense met kelners, tuinwerkers en kassiere praat.
Dit is maklik wanneer ons aan diensbaarheid dink, om aan die mense naby ons te dink. Maar wat van diegene wat so ver van ons af is, soos Judas van Jesus was? Sou ons Judas se voete kon was?
Jesus se verduideliking van diensbaarheid sê dat ons sal moet. Om diensbaar te wees beteken nie net om goeie en oulike dinge te doen vir dié mense waarvan ons hou nie.
Diensbaarheid is weereens ‘n Koninkryks-gesindheid. Dit is ‘n manier van lewe. ‘n Manier van wees. Daar is mos immers die bekende aanhaling: “You are what you love.”
Jesus se manier van wees dui op diensbaarheid wat vanuit die Goddelike liefde vloei. Diensbaarheid wat verby grense van haat en sonde kan kyk. Diensbaarheid wat deur dit alles steeds gefokus op die liefde bly.
Jesus se hele lewe getuig van hierdie nederige diensbaarheid, oftwel “servant leadership”. Hy is gebore in ‘n stal; verwerp deur die samelewing; bespot en gekruisig – en deur dit alles was Hy net diensbaar. Want deur hierdie vernederende diensbaarheid, het Jesus iets vir die mensdom gedoen wat selfs die rykste en magtigste koning nie sal kan doen nie: Jesus het hulle deel van Homself gemaak (vs.8).
Amen.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Wat beteken liefde vir jou? Hoe voel dit? Hoe lyk dit?
# Wat is diensbaarheid vir jou? Hoe voel dit? Hoe lyk dit?
# Is daar ‘n verskil tussen die twee bg. vrae?
# Wat dink jy keer ons om diensbaar te wees teenoor mekaar?
# Dink jy dat ons soms diensbaarheid sien as iets wat aan ons gedoen moet word, voordat ons self kies om dit te doen?
# Hoe verskil die bg. vraag van Jesus se manier van diensbaarheid?
# Jesus se diensbaarheid vloei vanuit Jesus wat liefde IS. Jesus maak ons ook deel van Homself, m.a.w. deel van die liefde. Hoe beїnvloed dit ons verstaan van diensbaarheid?
# Hoe voel jy daaroor dat Jesus, ‘n paar dae voor Paasfees (kruisiging) steeds gefokus was, nie op Homself nie, maar op die mense?
# Hoe dink jy moet ons ons lewens verander om beter Jesus se voorbeeld uit te beeld.
# Hoe dink jy kan ons as “servant leaders” optree in die tyd van Covid – 19?
UITDAGING:
In hierdie tyd van Covid-19 is diensbaarheid opnuut ‘n groot uitdaging. Kom ons probeer om hierdie uitdaging aan te gryp deur die volgende te doen:
AS JY ALLEEN IS:
Dink aan iemand met wie jy baie lank terug gepraat het. Stuur vir daardie persoon ‘n mooi boodskap en vra hoe dit met hulle gaan. Probeer om met mekaar te gesels.
AS JY IN ‘N GROEP IS:
Ons het almal sekere rolle in ‘n huishouding bv iemand wat kos maak; iemand wat vee ens. Probeer om iemand anders se ‘taak’ vir hulle te doen.
AFSLUITING:
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Ontvang dan nou die seën van God.
Mag ons vir mekaar tot seën wees.
Mag ons mekaar koester en liefhê.
Mag ons God se diensbaarheid as voorbeeld ag en ook so leef.
Amen.
Comentários