“SOLAS”
16 APRIL 2020
INGENOOI DEUR GOD:
· Raak bewus van hoe geseënd jy is, al is dit nou moeilike tye. Dank die Here vir die seëninge in jou lewe.
· Jy betree nou God se wêreld. Is daar iets in jou omgewing wat jou aan God herinner? Fokus daarop vir ’n paar oomblikke en gee aan Hom die eer.
· Herhaal die woorde van Liedboek 278 drie keer saggies: “Hoor ons bid o Heer, Hoor ons bid o Heer / Verhoor tog ons gebed en gee ons vrede.”
YSBREKER
# Dalk ly jy ook nou ook al aan “Cabin Fever.” As jy kan uitstap na ’n blom of boom, raak bewus daarvan. Wat voel jy of ruik jy of sien jy? Hoe herinner dit jou aan God?
# Watter blom of plant se geur ruik vir jou die lekkerste? Dink na hoe jou lewe ’n aangename geur vir God kan wees. Deel dit met iemand.
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Feesklere. Louis Britz (https://youtu.be/HP7hcz1_DbE)
Aanbidding:
Die oorwinningslied. Piet Smit (https://youtu.be/PL6WW82kXrI)
Alternatiewe musiek:
Liedboek 490
Liedboek 514
TEKS:
Vandag se Bybelstudie handel oor die vyf ‘solas’. Sola beteken slegs, of alleen...Vyf prente met bypassende teksgedeeltes word aan u gegee. Bestudeer eers elke prent en maak ’n kort nota wat jou opval in die prent. Lees daarna die teks en skryf dan in een sin wat jou tref in die teks. Vergelyk eers jou opmerking by die prent en dan jou opmerking oor die die teks met mekaar. Deel jou indrukke met iemand. (Die prent onder die teks is die prent wat by die teks pas)
· Sola Scriptura- Die Bybel / Skrif alleen. 2 Timoteus 3:16,17
· Sola Gratia- genade alleen. Lukas 15: 11- 32. Dis ’n skildery van die verlore seun. Hy kniel, sy pa omhels hom en die oudste broer wat die Fariseërs verteenwoordig, kyk krities toe.
· Sola fide. Geloof alleen. Hebreërs 11:1.
· Sola Christus. Christus alleen. Johannes 14:6
· Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer. Openbaring 5:13
BOODSKAP:
Die vyf solas hieronder help ons verstaan wat dit beteken om ’n Protestant te wees? Terloops, die NG kerk is ’n Protestantse kerk. Dit kom uit die tyd toe hervormers soos Luther en Calvyn hulle teen vergrype in die kerk van destyds uitgespreek het. Vergrype wat nie god nie, maar die mens in die middelpunt geplaas het.
· Sola Scriptura – die Skrif alleen. Die Bybel is die enigste maatstaf waarmee ons ons lewe meet. Die Bybel is nie ’n teksboek oor die wetenskap of geografie of politiek nie. Dis God se Woord in mensetaal en is genoegsaam. Ons het nie stemme uit die hemel nodig nie. Die Bybel bevat alles wat ons nodig het om God en ons naaste en onsself lief te hê.
Sola gratia – genade alleen. Genade is ’n onverwagse geskenk van God wat ons nie kan koop, bewerkstellig of verdien nie. Ons glo in ’n genadige God wat ons met onvoorwaardelike liefde aanvaar en dat ons redding ook ’n geskenk van die Here is.
Sola fide – geloof alleen. Geloof is die leë hand waarmee ons God se genade aanvaar. Geloof is nie iets wat jy bereik nie. Dit is ook nie vroomheid nie. Dit is ’n geskenk van die Heilige Gees wat jou in staat stel om op reis te wees met God en God op Sy Woord te neem.
Sola Christus – Christus alleen. Nog gebede nog geween kan my red, net Christus alleen. Jesus is nie net ons Redder en vriend nie. Hy is die Een aan wie alle mag en eer behoort. Hy is die Middelpunt van ons verlange. Net Hy bring rus on ons gemoed.
Soli Deo gloria – aan God alleen die heerlikheid. Ons redding ons ganse bestaan is aan God se vrye guns en liefde te danke. Daar is niks wat ons het wat ons nie van Hom ontvang het nie. Ons lewensdoel is om God te aanbid en eer te gee deur alles wat ons is, dink, doen en sê. Aanbidding beteken om God al die eer te gee deur hoe ons ons daaglikse lewe inrig en hoe ons God se koninkryk vestig. God roep ons om die wêreld te help genees.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
Hier kan u veral na die boodskap hierbo kyk vir leiding.
# Dink jy die boodskap van die Bybel is genoegsaam om Christene kompas en lig vir die pad te wees? Waarom sê jy so?
# Kan ek enigsins God se genade koop met goeie, of selfs godsdienstige werke, soos my dankoffers, my wyse van doop, my gebede? Waarom sê jy so?
# Geloof is die enigste voorwaarde vir lidmaatskap van die kerk. Stem jy saam? Motiveer jou antwoord.
# Is Jesus Christus jou enigste troos in lewe en sterwe? Waarom sê jy so?
# Hoe bring jou lewe aan God die eer? Hoe wil jy graag as gemeentelid betrokke raak by die groei van ons gemeente dat God so die eer kry?
UITDAGING:
Jy moet vir iemand aan die hand van die “Vyf Solas” hierbo verduidelik wat dit beteken om ’n Protestant te wees. Probeer om dit in vyf sinne te doen. Sommige sal dit dalk in een sin kan doen. Dis nie belangrik hoe mooi jy kan formuleer nie. Solank jy net verstaan wat elkeen van die Solas beteken.
AFSLUITING:
Bid saam met die apostel Paulus die volgende gebed as gebed van jou hart en as oorgawe van jou hele lewe aan die Here: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele. Hoe onnaspeurlik Sy weë. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in alle ewigheid.” Romeine 11:33,36.
Amen.
Comments