top of page
Writer's pictureNG Margate

PAASFEES TUISGELOOF BYBELSTUDIE – DAG 15

Updated: May 23, 2020

‘GEMEENSKAP’ – 2 KORINTIËRS 13:13

15 APRIL 2020



OPENING

Kom ons word vir ‘n oomblik rustig.

Sit op ‘n gemaklike plek. Haal diep asem. Probeer jou gedagtes laat fokus net op jou asemhaling.

Herhaal hierdie woorde met elke asemhaling:

“Spreek Heer, U dienaar luister.”

Voel die teenwoordigheid van God. Rus daarin.

YSBREKER

# Wat beteken die woord “gemeenskap” vir jou?

# Wat beteken “gemeenskap van gelowiges?”

# Wat beteken die “gemeenskap van die Gees?”

# Hoe voel jy daaroor dat ‘n hele gemeenskap van mense hierdie Bybelstudie saam met jou doen?

* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.

** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met gebed.

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing

Aanbidding

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 159 God is hier teenwoordig

LB 164 Ons is almal hier tesaam

LB 177 Jesus groot bo almal

LB 184 Lofsing die Here

TEKS:

* Lees 2 Korintiërs 13:13 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees 2 Korintiërs 13:13 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP:

‘Gemeenskap’ is ‘n moeilike ding om te beskryf, want dit beteken nie dieselfde vir almal nie. ‘n ‘Gemeenskap’ is dalk nie vir jou ‘n groot groep mense nie, maar slegs ‘n handjievol vertrouelinge. Of ‘gemeenskap’ is dalk vir jou ‘n groot en onsigbare konsep waaroor jy nooit regtig dink nie. Of miskien is ‘gemeenskap’ die ding waarna jy die meeste verlang.

Miskien is dit hoekom dit so moeilik is om te verstaan waaroor die ‘gemeenskap van die Heilige Gees’ gaan? Want as die konsep van ‘gemeenskap’ so breedvoerig is – wat sê dit oor die aard van die Heilige Gees?


Kom ons maak dit vir ‘n oomblik baie eenvoudig.

Kom ons gebruik ons twee wysvingers en twee duime en hou dit teen mekaar om ‘n driehoek te vorm. Vir nou is dit al wat ons nodig het om ‘gemeenskap’ te verstaan. Want die toppunt van die driehoek simboliseer “GOD”, die linkerkanste hoek simboliseer die “EK” en die regterkantste hoek simboliseer “ENIGE IEMAND ANDERS”. Dít is gemeenskap.

So wat is dit wat die gemeenskap aan mekaar vashou? Ek sou raai dat dit verhoudings is. Verhoudings wat in twee rigtings gaan: van God na my; van my na God ens. As ons ons driehoek sou breek op een van die plekke, dan sou ons nie ‘n holistiese (heel) persoon kon wees nie. Ons streef daarna om ‘n volledige driehoek te hê – om God ook meer “holisties” te kan ervaar. Want ons kan God nie sonder ander mense ervaar nie.


Ons kort die “gemeenskap”. Daarom skryf Paulus dat hy vir ons die genade van Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Gees toewens. Paulus wens vir ons ‘n volledige-driehoek-lewe toe. Maar hoekom kort ons die gemeenskap om God meer “holisties” te ervaar?

Want God het ons elkeen geskep in die Beeld van God die Imago Dei. Dit beteken dat God my net so lief het as vir iemand anders, en vice versa. Dit beteken outomaties dat ek die ander net so lief soos myself moet hê. As ons gemeenskappe kan bou op die liefde wat vloei vanaf God – dink net aan die verandering wat ons teweeg sou kon bring! As ons glo in ‘n gemeenskap van gelowiges dan glo ons dat elke persoon in die gemeenskap van die Gees lewe. Want waar God is, is die Gees. Die Heilige Gees se gemeenskapsband met ons help ons dus om nie ons driehoek te breek nie. God as Gees lei ons, rig ons, troos ons en help ons, sodat ons in daardie voorbeeld ook so met mekaar kan leef.

Amen.

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Hierdie is nou alles goed en wel, maar hoe ervaar mens ‘gemeenskap’ wanneer jy alleen is?

# Hoe dink jy gaan Covid-19 ons verstaan van gemeenskap beïnvloed?

# As ons dink dat ons gemeenskapsbande deur verhoudings (soos die bene van die driehoek) vasgehou word – watter goed doen ons om dit te breek?

# Hoe dink jy pas die metafoor van hierdie driehoek in by die nadenke oor God as Drie-Enig?

UITDAGING:

Kom ons skryf die woord ‘gemeenskap’ as ‘n akroniem en probeer dit op kreatiewe maniere uitbeeld bv.:

G – Gee om vir die mense om my (ek neem ‘n foto van myself waar ek iemand ‘n drukkie gee)

Deel gerus enige foto’s en uitbeeldings met Lerisa en Mike en ander gemeentelede, ons sal dit graag wil sien :)

AFSLUITING:

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Ontvang dan nou die seën van God:

Mag die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van ons God en die gemeenskap van die Heilige Gees by jou wees en bly. En mag jy in my ook ‘n gemeenskapsband vind.

Amen.

85 views1 comment

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

1 Comment


Theuns Steenkamp
Theuns Steenkamp
Apr 15, 2020

Baie dankie Here,dankie dat U ons leraars as instrumente gebruik om ons as gemeenskap te versterk en te bemoedig

Like
bottom of page