'LIEFDE. - 1 JOHANNES 4:7-12
14 APRIL 2020
INGENOOI DEUR GOD
Raak bewus van jou diepste vrae en vrese en gee dit aan God oor.
Jy betree nou God se wêreld. Sê vir Hom dat jy Hom lief het.
Vra die Heilige Gees om jou te vertroos met ’n kort gebed wat jy ’n paar keer mag herhaal: “ Trooster Gees, Heilige Gees wat van die Vader en die Seun uitgaan, vertroos my nou.”
YSBREKER
# Lees 1 Korintiërs 13:4-7 in stilte of as jy saam met iemand anders is, lees dit hardop saam. Lees dit nou in stilte deur en vervang die woorde, “die liefde is,” met die woorde, “ek is.” Lees dit weer deur en vervang die woorde “die liefde is,” met die woorde, “Jesus is”. Byvoorbeeld: Ek is vriendelik / Jesus is vriendelik.
# Hoe het dit jou laat voel om elke keer die woorde “die liefde is, “te vervang, met “ek is” en “Jesus is?” Wat het dit elke keer anders gemaak?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
God is liefde- Retief Burger (https://www.youtube.com/watch?v=CPJeDvM1-90)
Aanbidding
Wonderful love- Chris Tomlin (https://www.youtube.com/watch?v=EwoCbcSXlSM)
Alternatiewe musiek:
Liedboek 530
Liedboek 532
TEKS:
SKRIFLESING: 1 JOHANNES 4:7-12
BOODSKAP:
Oor die liefde is daar nou al baie geskryf, maar steeds kry ons nie klaar nie. Dis asof dit ’n onderwerp is wat mense vasgevang hou. Met reg ook, want sê ons Skrifgedeelte dan nie dat die Een wat die wêreld omspan met Sy ewige arms liefde is nie.
Ons almal ken ook die welbekende Johannes 3:16 wat vertel hoe lief God die wêreld gehad het dat Hy Sy Seun gestuur het. God se liefde was daadliefde, offerliefde, dienende liefde.
Gelowiges beleef hulle sekerheid dat hulle die ewige lewe besit deur hulle intieme persoonlike verhouding met God, deur hulle kindskap en deur hulle liefde. In elke geval is God self die Bron, is Jesus Christus die Model en is die Heilige Gees die gelowige se Begeleier om dit te ervaar deur te glo en mekaar / andere lief te hê.
In hierdie dae van die Corona pandemie, kan die vraag maklik by mense opkom: “As God liefde is, hoe kan Hy hierdie ellende op die wêreld toelaat? Iemand wat liefde is, kan tog nie so optree nie?” Die probleem met die vraag is dat die skuld vir al die ellende in die wêreld dan op God se skouers gelaai word. Terwyl die kruis van Jesus juis wys dat God teen onreg, pyn en lyding en die gevolge van die sondeval in opstand kom.
Ferdinand Deist help ons om die taal van die geloof, soos sy boekie dit stel, te praat. Hy sê dat ons nie die vraag moet vra of ’n God van liefde “so iets” (Soos Corona pandemie: my eie kursivering) aan ons kan doen nie. Ons moet eerder vra: Wat sou iemand wat my lief het in die omstandighede vir my gedoen het?” En die antwoord is eenvoudig. Iemand wat my lief het, sou my help as ek in die nood is, troos as ek hartseer is, medelye met my hê as ek pyn verduur. “God is soos iemand wat verlief is op jou.”
“ Al is jy ’n kerkmens soos die wetgeleerde Nikodemus of kerklos soos die prostituut, Maria Magdalena; al is jy voortvarend soos Petrus of so skuldig soos die owerspelige vrou; al is jy so skepties soos die vrou by die put van Sigar of toegewyd soos die vrome Simeon-God is verlief op jou. Kyk, Hy gee selfs Sy Seun prys om jou van Sy liefde te oortuig.” Ferdinand Deist.
God se kinders se liefde word konkreet in dade van liefde en omgee soos hul hemelse vader, want dit kan nie anders nie. Ware liefde kom egter nie vanself nie. God maak die liefde in ons wakker. So word God se inwoning in ons lewens sigbaar. Dan het Sy liefde Sy doel volkome bereik.
As jy regtig lief is vir iemand, sal jy nie jaloers wees op daardie persoon nie, sal jy alles van hom of haar verdra, nie boekhou van die kwaad nie, net die beste van hom of haar glo, saam met hom of haar lag en huil.
Onthou Jakobus se woorde in Jakobus 2:26: ’n Geloof wat nie tot dade kom nie, is dood.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Hoe laat dit jou voel dat God verlief is op jou? Dink daaroor na en deel dit met iemand na aan jou.
# Is jy al ooit deur iemand na aan jou seergemaak? Hoe het dit jou laat voel?
# Wat is jou liefdestaal? Daar is vyf ‘tale’ nl. Woorde, dade van omgee, geskenke, liefdevolle aanraking, kwaliteit tyd.” Liefdestaal is dit wat jy graag wil hê ander aan jou moet doen.
# Wat is jou maat se liefdestaal? “Praat” jy sy of haar liefdestaal? As jy nie getroud is nie, wat is jou kind/ers of kleinkind se liefdestaal? Vind bietjie uit.
# As jy na die vyf liefdestale hierbo kyk, dink jy God praat jou liefdestaal? Vertel.....of skryf neer hoekom jy so dink
# Het jy jouself lief” Hoekom, of hoekom nie?
# God se liefde is offerliefde, daadliefde, dienende liefde. Hoe het hierdie onderskeie aspekte van Sy liefde hierdie Lydenstyd vir jou waar geword? Vertel of skryf neer.
# Wat gaan jy prakties doen om in ons gemeente ’n lewende voorbeeld te word van iemand wat God en sy / haar mede gelowiges in die gemeente lief het?
# Is jy bereid om deel te wees van ’n gemeentelike aksie waar God se liefde hande en voete te kry in die gemeenskap? Bid daaroor en dalk kan jy êrens inskakel of ’n nuwe bediening in die gemeente op die been help kry.
UITDAGING:
Lees nou 1 Korintiërs 13 volledig deur. As daar een praktiese liefdesbewys is wat jy kan gaan doen na jy die gedeelte gelees het, wat sou dit wees? Gaan doen dit sodra jy kan. Moenie uitstel nie. Dalk moet jy iemand bel of vir iemand ’n Epos stuur, of dalk ’n geldjie in ’n rekening inbetaal.
AFSLUITING:
Bid die volgende gebed alleen of saam met ander: “Laat, Heer, U vrede deur my vloei. Waar haat is, laat ek daar u liefde bring. Laat ek in pyn en smart vertroostend wees en krag gee deur geloof in u o Heer. O Heer, help my om altyd so te leef, om ander bo myself te ag. Ja, om lief te hê ander bo myself en ook eerder te gee as te verwag.” Liedboek 284.
Amen.
Comments