top of page
Writer's pictureNG Margate

PAASFEES TUISGELOOF BYBELSTUDIE - DAG 10

Updated: May 23, 2020

'GOD SE HEILIGHEID. - JESAJA 6:1-7; LEVITIKUS 19:1-16

8 APRIL 2020



INGENOOI DEUR GOD:

Lees die volgende teksgedeelte (Jesaja 6:1-3) keer hardop deur:

“In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op 'n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Die serafs het mekaar telkens toegeroep: "Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid."

Word vir twee minute stil. Lees die teks weer in stilte deur. Probeer jou inleef in die visioen van Jesaja. Herhaal die woorde van die serafs en maak dit jou gebed aan die Here.


YSBREKER

# As jy moet dink aan ’n “heilige mens” hoe sou jy so iemand beskryf?

# Ons hoor soms dat mense bid: “Here, hier waar ons u troon nou nader.. Wat verstaan jy onder die begrip, “Om tot God se troon te nader?”

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.


Lofprysing

You are holy – Hillsong


Aanbidding

Heilig, heilig, heilig- Heer God Almagtig

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 171 heilig, heilig, heilig

LB 175 Majesteit

LB 176 Halleluja, U is Koning

TEKS:

SKRIFLESING: JESAJA 6:1-7; LEVITIKUS 19:1-16

BOODSKAP:

Die profeet Jesaja sien in Jesaja 6 die Here in ’n visioen. Hy bevind hom in die tempel. Om net in die tempel te kon wees destyds was vir die gelowige van ouds ’n grootse ervaring. Hy beleef die heilige teenwoordigheid van God. God is groot, magtig en heilig. Al wat hy kan dien is die soom van God se kleed. Die soom vul die tempel want God is groter as die tempel. God bly vir Jesaja egter ’n misterie.

Die hemelwesens dien God eerbiedig. God is uniek. Die hemelwesens is bewus van God se andersheid en heiligheid en bedek hulle gesigte. Drie keer roep hulle, heilig, heilig, heilig. Die woord heilig beteken letterlik afgesonderd en toegewyd. God is egter anders as alles wat Hy geskep het. Daarom is daar van goddeloosheid, ongeregtigheid of onreinheid geen sprake by Hom nie. Omdat Hy heilig is, maak Hy alles heilig waarmee Hy in aanraking kom.


In die Nuwe Testament word gelowiges heilig genoem. Nie op grond van ’n inherente kwaliteit waaroor hulle beskik nie, maar as ’n kwalifikasie wat aan hulle toegeken word. Daarom sê Levitikus 19:2 ook: “Wees heilig, want ek die Here julle God is heilig.” Die lewe van ’n gelowige Israeliet moes die sigbare stempel dra van sy of haar heilige status voor God. Die heiliging van Israel sluit nie net haar godsdienstige lewe in nie, maar ook haar sosiale, seksuele en politieke lewe—letterlik die ganse lewe tot elke onderdeel daarvan, moes die tekens vertoon van ’n volk wat nie aan homself of die wêreld nie, maar aan God behoort.


Die Heilige Gees maak die hart van die mens nuut, en die nuutgemaakte mens maak alles in hom en om hom ook nuut. Daarom kan Petrus dan ook sê: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word” (1 Petr. 1:15). God wil nie net in die binneste van die mens woon nie, Hy wil ook woon in alles wat deur die Seun en die Gees aan Hom onderwerp word.


Die gesig van God se Almag, majesteit en heiligheid ontlok ’n skuldbelydenis by Jesaja. ’n Sondaar wat onder die indruk van God se majesteit gekom het, kan nie anders nie, as om uit te roep: “Dit is klaar met my!” Elke woord oor my lippe is onrein. Die wonderlike van genade is dat God ’n sondaar reinig en in sy diens gebruik. ’n Mens gestroop van hebsug, beginselloosheid en eie belang wat deur God begenadig is, is juis geskik vir diens in God se koninkryk. Een van die serafs raak Jesaja se mond aan met ’n gloeiende kool. Dit is simbolies van die reinigende en vergewende krag van God. Nou is jou oortredinge vergewe, jou sondes versoen, hoor Jesaja. ’n Mens wie se sonde weggeneem is, kan in diens van God en sy naaste gebruik word. En as Christene, weet ons dat die bloed van Jesus ons reinig van elke sonde (1 Johannes 1:7).

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Jesaja was intens bewus van sy eie onreinheid en onwaardigheid daar voor God se troon. Wat laat jou onwaardig voel? Begin jou antwoord so: “Ek voel onwaardig, want...”

# Hoe bedroef God se kinders Hom in hul alledaagse lewens? (Kyk ook Efesiërs 4:30-32)

# Wat beteken dit om eerbied vir God te hê?

# Kyk na die aantekeninge in die boodskap en omskryf heiligheid in jou eie woorde op so ’n wyse dat ’n kind dit sal verstaan.

# Dikwels hoor mens die aanklag dat kerkmense ‘skynheilig’ is. Dink jy dis geregverdig?

# Die Here roep in Levitikus 19 Sy volk, Sy mense op om heilig te wees soos Hy is. Hoe beantwoord Christene en die kerk se daaglikse optrede, aan die opdrag van die Here, “Wees heilig want Ek is heilig?”

# Het God die reg om vir Hom alleen aanbidding en verering op te eis? Waarom sê jy so?

# Christene hoef op grond van Jesus Christus se Paasoffer nie meer vir God “bang” te wees nie. Hoe kan ons Hom steeds in ’n gees van eerbied en ontsag nader?

UITDAGING:

Maak ’n lys van die sake in Levitikus 19 en dink daaraan hoe jy en ons gemeente na die tyd van inperking “heilige lewens” in die gees van Levitikus 19 kan leef. Stel ’n aksieplan/plan van optrede op.


AFSLUITING:

Bid die volgende gebed alleen of saam met ander: “ Mag die Here ons/my seën met genoeg dwaasheid om te glo dat ek/ons ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat ek/ons die dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.

Amen.

112 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comments


bottom of page