'OPOFFERING' - JOHANNES 12:1-8
30 MAART 2020
Opening
Op hierdie dag wat ons begin met ons Paasfees tuisgeloof Bybelstudie wil ons vir ‘n oomblik verby die skare, verby die donkievul, selfs verby al die Palmtakke wat voor Jesus gelê word kyk om Maria se opoffering raak te sien.
Gaan sit dus vir ‘n oomblik op die grond, as jy kan.
Neem ‘n oomblik diep asem.
Maak jou hart rustig van alles wat daarin aangaan.
Sit stil en rustig.
Wees nederig voor God.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God. ** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met gebed.
Ysbreker
# Wat sal jy koop as jy vandag die Lotto moes wen?
# Kyk na hierdie prentjie en gesels daaroor:
Lofprysing en aanbidding
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedjies. Jy kan dit luister of saamsing.
As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing:
- Flam 34 – Daarom (https://www.youtube.com/watch?v=Mjqy72buvis)
- 10 000 redes (https://www.youtube.com/watch?v=kuYADka6EgE)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister
Aanbidding
- Retief Burger – Alles vir my (https://www.youtube.com/watch?v=pYKXiHxE9qo)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing
LB 276 Leer ons om in eie oë
LB 157 Here, Jesus ons is saam
Aanbidding
LB 528 Leer my U wil Heer
Teks:
* Lees Johannes 12:1-8 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Johannes 12:1-8 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
Boodskap:
In vanoggend se teks, Johannes 12:1-8, lees ons hoe Maria van Betanië (nie Jesus se ma Maria nie) baie duur nardusolie oor Jesus se voete uitgiet. Direk daarna lees ons ook van Judas Iskariot, Jesus se dissipel en verraaier, se skerp antwoord op Maria se aksies.
Maar kom ons kyk eers na Maria.
Maria gebruik in hierdie verhaal ‘n groot hoeveelheid van die duur nardusolie om oor Jesus se voete uit te gooi. Die waarde van hierdie olie was omtrent ‘n hele jaar se salaris! Dit was verskriklik waardevol en niemand sou daaran dink om dit op iemand se voete uit te gooi nie. Miskien nog om Jesus se kop te salf – maar Sy voete? Nee, dit was vreemd.
Maar vir Maria was dit nie vreemd nie. Sy het Jesus gesien en was oorweldig deur haar emosies. En in ‘n handeling van ongelooflike nederigheid, het sy die olie oor sy voete gegooi. En toe gebuk by Jesus en die olie met haar hare afgedroog. Die hele huis het geruik soos olie en net soos wat die reuk versprei, sou die storie van wat Maria gedoen het, ook versprei.
Maar sy het nie gedink daaraan nie – sy het net een beeld gesien en dit was Jesus. Sy het die nederige posisie van ‘n slaaf aangeneem, voor Hom gekniel en die olie uitgegiet.
Maar Judas het haar bevraagteken.
Hoekom het sy nie eerder die baie duur olie verkoop en die geld vir die armes gegee nie? As sy dit mos net op die vloer wou uitgooi? Dit sou baie beter kon vaar by die versorging van die armes.
En vir meeste van ons, sal dit ‘n skok wees om te besef dat ons ook waarskynlik soos Judas sou gedink het. Judas was ‘n dissipel, hy het gesien hoe Jesus optree en handel in die wêreld. En ek dink vir myself dat hy dalk hierdie as die geleentheid gesien het om vir Maria te se: maar dis nie eintlik wat ons as gelowiges doen nie. Ons gooi nie die duur olie uit nie. Ons verkoop dit en gee die geld vir die armes.
Maar wat is die groot verskil tussen Maria en Judas: gesindheid. Die een het die gesindheid van nederigheid, ‘n slaaf, die ander die gesindheid van iemand in beheer. En ons weet ook later dat Judas se gesindheid van mag en geld hom onderkry en hy verraai vir Jesus.
Dit laat my wonder oor ons houding, ons gesindheid teenoor mekaar, God en die wêreld in hierdie tyd van sosiale distansiëring. Het ons steeds die houding dat ons met ons uncpaped wifi, ons groot tuine, ons yskaste vol kos onaangeraak uit hierdie situasie gaan kom? Of moet ons toelaat da tons ook getransformeer word deur Maria se gesindheid!
Want Maria se houding van nederigheid en afhanklikheid kom spreek on sook aan:
- Maria se aksie konfroneteer ons met die besef da tons, waarskynlik, nie so maklik ons nardusolie oor Jesus se voete sou uitgooi nie. Ons hou steeds te krampagtig vas aan ons goed. Ons is te bang om ted eel, want net nou het ons nie genoeg vir onsself nie.
- Maria se aksie konfronteer ons ook met ons eie trots, ons eie volmaaktheid.
En dit is hoekom ons in hierdie tyd voor Paasfees dink aan opofferinge.
Want Maria het nie net haar nardusolie opgeoffer nie, sy het haar totale idee van die wêreld opgeoffer. Sy het die wêreldbeeld opgeoffer wat sê dat nardusolie slegs vir spesiale geleenthede is. Miskien moet ons ook ons beeld van wêreldse sukses en sekuriteit opoffer en bewus word van ons eie nietigheid. Miskien moet ons ook opnuut by die Here se voete sit, en Sy voete afdroog met ons hare.
Nie omdat ons enige iets daardeur kan bereik nie.
Maar omdat God ons so baie gee – meer as wat ons ooit kan verdien.
En miskien dan sal ‘n gesindheid van nederigheid en afhanklikheid soos reukolie die wereld vol strek. Dan sal almal kan weet dat net God in beheer is.
Amen.
Bespreking van die boodskap:
# Kan jy onthou wie Lasarus, Marta en Maria was?
Maria en Marta was ongelukkig daaroor dat Jesus eers nadat Lasarus oorlede is, daar aangekom het. Jesus het self ook, toe Hy sien Lasarus is dood, oor Lasarus gehuil (Joh. 11:35). Maar Jesus het Lasarus uit die dood opgewek. Daarna het hulle aangesit by die tafel.
# Watter gesprekke dink jy het hulle om hierdie tafel gehad?
# Hoekom dink julle het Maria besluit om die olie oor Jesus se voete te gooi?
# Hoe voel jy daaroor dat die Paasverhaal begin met Maria se opoffering van die nardusolie?
# Watter goed is daar wat ons as meer waardevol ag en wat ons nooit so sal “vermors” soos wat Maria die olie vrylik uitgegooi het nie?
# Hoe dink jy sal die wereld lyk as almal die gesindheid van Judas het?
# Hoe dink jy sal die wereld lyk as almal die gesindheid van Maria het?
# Wat is die een ding wat jy wil opoffer in hierdie tyd (tot Paasfees)?
# As jy in een sin die boodskap van hierdie teks vir iemand moet gee – wat sal dit wees?
Uitdaging:
In hierdie tyd van sosiale distansiëring is dit vir ons baie moeilik om met die regte gesindheid na mekaar te kyk. Maar die uitdaging van hierdie teks is om met ‘n gesindheid van nederigheid en afhanklikheid die Here te nader. As elkeen van ons dit doen, is dit soos ‘n vlammetjie wat orals opkom en wat sal vesprei. Dít is hoe ons hoop in die wêreld bring. Ons nooi jou dan nooi uit om ook die volgende uitdaging aan te gryp:
# Soek ‘n prentjie van ‘n kers op die Internet. Skryf by die prentjie die boodskap wat jy in vandag se Bybelstudie geskryf het. Stuur dit aan Lerisa (082 525 3664) sodat sy ‘n groot collage daarvan kan maak.
# Jy kan ook, as jy wil, ‘n video neem van hoe jy ‘n regte kers aansteek en jou een-sin-boodskap vir ons vertel.
Afsluiting:
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Ontvang dan nou die seën van God.
Mag God julle gesindheid kom vernuwe.
Mag God julle toevlug wees.
Mag God julle beskerm.
Amen.
Comments