top of page
Writer's pictureNG Margate

OORWINNING OOR VREES


Gebruik hierdie oomblik om rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.

Haal diep asem.

Herhaal die woorde in gebed:

Ek het die vrede van die Here, die Here laat vir my vrede na,

Ek het die vrede van die Here, die Here laat vir my vrede na,

Ek het die vrede van die Here, die Here laat vir my vrede na,

Amen.


Lydenstyd begin van Aswoensdag af en duur vir 40 dae (Sondae uitgesluit). Daarna vier ons Paasfees.

Kies een van hierdie geloofsgewoontes om gedurende hierdie 40 dae van Lydenstyd te oefen:


VAS: Party mense kies om iets waaraan hulle geheg is, op te gee om sodoende iets van Jesus se opoffering te verstaan. Wat wil jy vas in hierdie tyd?


BID: Hierdie 40 dae is ook ‘n geloofs- en gebedsreis. Hoe wil God jou geloofsvorming in hierdie tyd vernuwe en verskerp? Hoe kan jy meer luister na God en meer lewe in die Gees?

VANDAG SE BYBELSTUDIE GEE: Lydenstyd is ook ‘n tyd om bewus te word van hoe ons in hierdie lewe omgaan. Klou ons vas aan ons besittings en ideologieë? Of is ons vrygewig?


Oorwinning oor vrees

LEES: 1 Johannes 4:18-19


DINK:

Daar is so baie dinge in ons lewens en in ons wêreld wat maak dat ons oorweldig word deur ‘n sterk emosie van vrees: geliefdes wat sterf a.g.v. die pandemie; gemeenskappe wat totaal verander word; besighede wat verlore gaan en nog baie meer. En dit is maklik om meegevoer te word deur hierdie strome van vreesaanjaende gebeurtenisse. Soms kan dit ook vir ons voel asof ons leef in ‘n wêreld wat ons nie meer ken of verstaan nie. Die onbekende maak ons bang.


Wanneer ons in Lydenstyd dink aan die pad na die kruis wat Jesus gestap het, kan ons nie anders as om te onthou dat Jesus in die tuin van Getsemane ook oorweldig was deur ‘n doodsangs nie. Jesus was bang. Jesus het gevrees.


Ons vergeet dit dikwels, want ons voel soms so alleen en vasgekeer in ons oorweldigende emosies.


En daarom wanneer ons so oorweldig word deur vrees, probeer ons dikwels ontvlug. Ons skakel al die media af en besluit om eerder oningelig die wêreld aan te durf. Dit is egter nie die oplossing nie.

Maar dan is daar ook dié van ons wat so opgesweep raak in die vrees-emosie dat ons paniek saai. Ons probeer cope met ons ervaring van vrees deur ander ook te laat vrees, want dan voel ons nie alleen nie.


Maar Jesus het nie gevlug nie.

En Jesus het nie paniek gesaai nie.


Jesus het gebid.


Jesus Christus het steeds die kruis gekies om vir ons sondes te sterf en sodoende het Christus aan ons volmaakte liefde bewys. En die krag van hierdie liefde het al die slegte dinge van die wêreld, insluitende vrees, oorwin. As dissipels van die Here word ons dus uitgenooi om deel te neem aan hierdie oorwinning. Daar is niks wat ons van die liefde van God kan skei nie. God het oorwin oor vrees.


Maar dit is steeds baie moeilik vir ons om hierdie vrees deel van ons lewens, harte en denke te maak. Miskien omdat ons so besig is. Ons maak nie tyd vir stil word, nadenke of gebed nie. Ons is ook soms so bang om ons klein en sagte harte oop te maak vir mekaar, dat ons soms ook vergeet om ons harte oop te maak vir God. Maar as ons nie lief het nie, gaan ons ook nie die oorwinning wat Christus behaal het, ervaar nie. Ons moet ons harte oopmaak en liefhê, want daardeur oorwin ons ook vrees, deur die krag wat God ons gee.


Daarom kan ons in hierdie 40 dae van Lydenstyd ‘n doelbewuste keuse maak: ons kan kies om die oorwinnende krag van God se liefde te ontvang en daarin te wandel. Kom ons kies om elke keer wanneer ons bang word, in plaas daarvan dat ons onsself meer isoleer, terug te baklei, te vlug of paniek te saai… kom ons kies om eerder ‘n liefdesaksie uit te voer. Want daardeur sal ons tekens van God se oorwinningskrag wees.

Amen.


BID: Bid tot die Here en vra vir insig en wysheid rakende hoe jy in jou lewe meer kan fokus op die liefde van God wat vrees oorwin.

54 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page