Gebruik hierdie oomblik om rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.
Haal diep asem.
Herhaal die woorde in gebed:
Soos die Here my liefhet, so het ek ander lief
(Joh.13:34)
Lydenstyd het geduur van Aswoensdag af vir 40 dae (Sondae uitgesluit). Ons het ‘n geloofsgewoonte gekies (vas, bid, gee). Op Opstanding Sondag het ons die Opstanding van die Here gevier! Ons lewe nou in die tyd na Paasfees.
Daarom is die tyd van lyding verby en gaan ons nou die tyd van afwagting binne. Onwag op die Here. Maar ons is nie alleen nie, want Pinkster is naby.
Oorwinning lei tot gemeenskap
LEES: Psalm 22
DINK:
Dit is ‘n vreemde Psalm om te kies as ons oor gemeenskap wil gesels né. Dit is ‘n baie droewige Psalm en niks in die Psalm laat ons dink aan gemeenskap nie. Die skryfstyl is duidelik in die eerstepersoon en daar is geen aanduiding dat die individu in ‘n groep is nie.
En tog is Psalm 22 ‘n lied wat waarskynlik as ‘n groep gesing is.
So hoe sal die woorde van Psalm 22 dan klink, dink u, as ‘n hele groep mense dit saam sing?
“2My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? 3My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.”
Miskien sou dit vir baie van ons maar ‘n baie somber erediens wees.
Maar hierdie Psalm wys ons tog iets van die gemeenskap uit. Die bekende woorde van vers 2 en 3 wat ook later as Jesus se kruiswoorde vir ons geskryf word, bring ons in vereenselwiging met die Here. En hierdie woorde bring ons by ‘n plek van lyding. Die skrywer van die Psalmis is op ‘n punt van lyding. ‘n Laagtepunt. So laag dat hy/sy verlate voel. Selfs Godsverlate. Die skrywer voel so verstoot. Asof God almal anders sal help, maar hierdie individu is laag, so laag soos ‘n wurm. Nie die moeite werd nie.
Wie van ons was nie al daar nie?
En daarom is hierdie Psalm belangrik, want die individu kom in eerlikheid oor sy/haar emosies voor die Here. Die individu weet wat in sy/haar binnewêreld aangaan. Daar is geen fake vriendelikheid nie; geen oneerlike vroomheid nie… Nee, daar is ontblote pyn en lyding en eerlikheid. Die Psalmis is as individu kwesbaar in die groep. Tussen gelowiges sing die Psalmis eerlik oor sy/haar pyn. Selfs al klink dit sleg. Selfs al is dit donker en somber.
En terwyl die inidivu hierdie eerlike emosies by die tempel van die Here sing, gebeur daar ‘n oomblik van katarsis. Katarsis is die Griekse woord vir “uit giet”. Die Psalmis giet al hierdie eerlike emosies uit.
En wat gebeur dan?
Die Psalm verander. Amper soos in ‘n oogwink. Want die een gedeelte van vers 22 is nog somber en dan die volgende oomblik roep die Psalmis uit: “U het my gebed verhoor!” En dit is interessant, want nêrens in die Psalm het die Here eintlik ingetree en “iets gedoen” nie. Altans niks wat ons kan sien nie…
Maar katarsis beteken dat ons die slegte uitgiet om ruimte te maak vir skoon en beter dinge. Soos die Psalmis sy/haar eensaamheid, pyn, lyding, smarte voor die Here uitgiet, verander sy/haar hart in ‘n hart wat die Here se Teenwoordigheid weer kan ervaar. Katarsis maak jou skoon.
Maar katarsis gebeur hier nie net alleen in die individu se studeerkamer nie. Nee, hierdie somber lied wat gesing word, verander nou in ‘n lied van hoop. ‘n Lied wat weer die Teenwoordigheid en Koninklikheid van God beklemtoon. Maar die belangrike ding om te weet van hierdie lied is dat beide die katarsis en die hoop in die gemeenskap plaasvind.
En dit is hoekom gemeenskap belangrik is. Want dit is deur ander mense dat ons God ervaar. Ander mense wat ook in die beeld van God (die Imago Dei) geskep is, help ons om God te ervaar. En daarom moet ons eerlik en opreg in ons gemeenskappe wees. Nie met fakeness en onopregte verhoudings nie, maar eerlik… of ons nou in die put is en of ons op arendsvlerke sweef, want God is Teenwoordig in beide. En daarom moet ons ook vir mekaar teenwoordig wees….in beide.
Die oorwinning van die Opstanding is die Goeie Nuus wat ons katarsis aan die gang sit en ons uit die put bring en laat wandel in die Lig. Maar hierdie oorwinning is nie net iets wat ons vir onsself kan hou nie. Ons deel dit met die gemeenskap. Ons verkondig die oorwinning en so bring God mense bymekaar. En dan kan ons daar wees vir mekaar soos wat God daar is vir ons.
Want die Oorwinning is die Katarsis vir ons gemeenskappe. Die Oorwinning kom transformeer ons gemeenskappe van ‘n plek waar ons bloot per toeval bymekaar is na ‘n plek waar ons as gelowiges saam in die oorwinning leef. Die Oorwinning-katarsis maak ons gemeenskappe skoon; dit genees ons – dit bring weer nuwe hoop. En dan sing ons as gemeente saam:
“31Die nageslag sal Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag. 32Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossingsdaad getuig: die Here het dit gedoen.”
Amen.
BID: Bid tot die Here en hê ‘n katarsis-oomblik, maar vra ook die Here hoe God jou kan help om meer deel te neem aan jou gemeenskap. Hoe kan jy aan die oorwinning-katarsis van die gemeenskap deelneem?
Comments