top of page
Writer's pictureNG Margate

OORWINNING DEUR VERTROUE



Gebruik hierdie oomblik om rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.


Haal diep asem.

Voel jou voete op die grond.

Herhaal die woorde in gebed:


Die Here, my Heer, is my krag

Hy maak my voete soos wildsbokke

op hoë plekke laat Hy my loop

Amen.

(Habakuk 3:19)


Lydenstyd begin van Aswoensdag af en duur vir 40 dae (Sondae uitgesluit). Daarna

vier ons Paasfees.


Kies een van hierdie geloofsgewoontes gedurende hierdie 40 dae van Lydenstyd te

oefen:


VAS: Party mense kies om iets waaraan hulle geheg is, op te gee om sodoende iets

van Jesus se opoffering te verstaan. Wat wil jy vas in hierdie tyd?


BID: Hierdie 40 dae is ook ‘n geloofs- en gebedsreis. Hoe wil God jou

geloofsvorming in hierdie tyd vernuwe en verskerp? Hoe kan jy meer luister na God

en meer lewe in die Gees?


GEE: Lydenstyd is ook ‘n tyd om bewus te word van hoe ons in hierdie lewe omgaan.

Klou ons vas aan ons besittings en ideologieë? Of is ons vrygewig?


Oorwinning deur vertroue


LEES: Habakuk 3:17-19


DINK:

Alhoewel...nogtans. Alhoewel ek vandag af voel is ek nogtans dankbaar vir al

my seëninge. Alhoewel ek twyfel, sal ek jou woord daarvoor neem. Alhoewel die gety

teen my gedraai het, sal ek steeds bly glo. Alhoewel ek ver voel van die Here vandag

sal ek steeds op Hom wag. So praat ons maar almal soms. Ook die profeet Habakuk

het so gepraat. Alhoewel die Here my teleurstel, sal ek nogtans nie my rug op Hom fraai nie. Dit is vertrouenstaal. Hierdie taal word egter nie so maklik gepraat nie. Dit neem moed om dit te sê as jy gestroop is van al jou sekerhede, as die mat onder jou voete uitgeruk is, soos ook in hierdie Covid tye gebeur.


Daar is mense wat sukkel om God en ander te vertrou. Sielkundiges reken dat hierdie

wantroue dikwels in die vroeë kinderjare ontstaan. Dit hou dalk verband met die

gebrek aan binding aan ’n betekenisvolle persoon in jou lewe. Wantroue kan ook die

gevolge/nawerking/nadraai wees van trauma in jou lewe. Hoe ook al, ons hoef as

kinders van God nie slagoffers te bly van ons verlede nie. Daar is genesing by

Christus.


By die kruis van Jesus Christus is die mat letterlik en figuurlik onder Sy voete

uitgeruk. Hy hang daar tussen hemel en aarde. Vir ’n tyd het Hy selfs ervaar dat Hy

van God en mense verlate was. Dit het Hom, die Seun van die mens laat huiwer. “My God waarom het u my verlaat, roep Hy van die kruis af.” Hy sterf egter met ’n

vertrouenslied wat so lui: “Vader, in U hande gee ek my Gees oor.”


Sukkel jy met vertroue? Het mense jou teleurgestel en worstel jy om ander te

vertrou. Selfs die sterkste gelowiges sukkel soms om God te vertrou. In Psalm 73

lees ons van die digter wat amper Sy Godsvertroue verloor toe Hy Sy perspektief

verloor het. Hy sê daar en lees gerus die hele Psalm dat sy voetstappe amper gegly

het en dat sy tree wankelrig was. Dit was ’n worsteltyd van genesing en groei in insig.

As vertroue geskend word, neem dit tyd om te herstel. Wees geduldig met jouself,

met God en ander mense. Tog bely die Psalmis dat die Here nog altyd by hom was en het God sy regterhand vasgehou. Dis ook ’n alhoewel, nogtans belydenis. Die Here is ons anker. Ja, ons blydskap is geleë in ’n persoon, in God self.


Dit is die dat die ou geloofsvaders gejubel het in die belydenis dat hul enigste troos

in lewe en sterwe is dat hulle aan God behoort. Geen haar kan sonder ons God van ons koppe val nie. Sukkel jy om te vertrou? Erken dit aan jouself en wees bereid om hulp te soek. Deel jou worsteling met ander en met God. God verstaan en iemand met empatie sal ook na jou luister.

Om jou is alles donker. Net die Here sal jou deur die donker oomblikke dra. Net Hy

kan jou krag gee om te bly vertrou. Met God langs my en in my is die steiltes en

kranse nie te hoog nie. Ja, ek staar my nie meer blind daarteen nie. Elke berg word

’n uitdaging wat ek in Sy krag kan oorwin. So groei mens van wanhoop na vertroue.

Moet net nie die leuens glo dat God jou verlaat het nie. God het Sy Seun op Golgota

verlaat sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie. Die Here maak jou voete soos

die van ’n ribbok, Op hoë plekke laat Hy jou veilig loop. Jy mag dit maar glo.


BID: Herhaal die woorde twee keer saggies: In stil wees en vertroue hê, lê my krag.




34 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page