Gebruik hierdie oomblik om rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.
Eien die woorde van die teks toe en herhaal so drie keer. Vervang ons met my.
Christus is ons vrede
(Efesiërs 2:14a)
Lydenstyd het geduur van Aswoensdag af vir 40 dae (Sondae uitgesluit). Ons het ‘n
geloofsgewoonte gekies (vas, bid, gee). Op Opstanding Sondag het ons die
Opstanding van die Here gevier! Ons lewe nou in die tyd na Paasfees. Daarom is die
tyd van lyding verby en gaan ons nou die tyd van afwagting binne. Ons wag op die
Here. Maar ons is nie alleen nie, want Pinkster is naby.
Oorwinning lei tot vrede
LEES: Efesiërs 2:11-18 (veral vers 14)
DINK:
Om sonder Christus en sonder hoop te leef is seker die ergste wat mens kan oorkom.
Tog leef baie mense so. Hulle vul net die leë vakuum met ander dinge wat Christus
se plek moet inneem. Wie sonder Christus as Koning van Sy of haar hart leef,leef
egter as vyand van God. Romeine 5:10 sê dat die Christen met God versoen is toe hy
of sy nog vyand van God was.” Dit is dus nie so dat die mens ’n edele barbaar is nie.
Jy is van nature dood in jou sonde en vyand van God. Christus het Sy lewe op Golgota
kom gee vir sondaars en jou met God te versoen. God steek op Goeie Vrydag en
Paassondag Sy hand van liefde uit na elke mens. Christus is ons Vrede.
Let egter op dat Paulus in ons teksvers in vers 14 nie sê dat Christus vrede bring nie,
maar dat Hy ons vrede is. As jy vrede wil hê moet jy by Hom wees, in Hom wees, met
Hom deur die geloof verenig soos die loot en die wynstok. Sonder Christus is daar
mure van vyandskap, mure van vyandskap tussen God en mens. Daardie verwydering
van God lei ook tot verwydering tussen mense.
Vrede met God bring egter nuwe verhoudings tot stand. Dit skep vrede in jou hart en
vrede tussen jou en ander mense. Die vrede in jou hart is nie soos die wêreld gee
nie, dis ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan en jou hart en gedagtes rig na bo
waar Christus aan God se regterhand sit. Dis ’n vrede wat die middelmuur van
skeiding tussen mense afbreek.
Die boodskap van vrede is vir die wat ver van God was sowel as die wat naby aan
God is, leer Paulus. Om ver van God af te wees was ’n tipiese Joodse uitdrukking om
die heidene te beskryf in hulle toestand ver van God af. Reeds in die Ou Testament al
word voorsien dat die Here die wat ver van Hom af is, sal nadertrek. “Vrede, vrede
vir die wat naby is en die wat vêr is, sê die Here. Ek sal hulle genees” (Jesaja 57:19).
Die Jode weer het geglo dat hulle naby aan God was deur die verbond met Abraham
en die tempel wat God se teenwoordigheid versimboliseer het. Maar in Christus word
Jood en heiden naby aan God gebring deur die bloed van Jesus Christus. Hierdie
nabyheid het nie te doen met geografiese of politiese of biologiese verwantskap nie.
Nee dit is ’n geestelike eenheid wat in Christus, in die verhouding met Christus te
vinde is.
Die groot oorsaak van onvrede in die wêreld, van onmin, twis, haat, bitterheid, oorlog,
afguns, verdeeldheid, is sonde. Dit is eie aan die sondige natuur van die mens. Dit
word ook in die Bybel die werke van die vlees genoem. Deur Sy bloed aan die kruis
het Christus egter ons vrede geword. Omdat die groot skeiding, sonde, by Golgota en
die oop graf oorwin is, kan enige ander skeiding of mure tussen mense nie meer
verdra word nie. Ons is almal een in Christus.
Wat is die implikasie daarvan dat God die middelmuur van skeiding tussen God en
ons en tussen ons en ons medemens afgebreek het? Natuurlik het ons almal nodig
om grense daar te stel tussen ons en ander. Gesonde grense is nodig. My buurman
kan nie elke dag by my huis inbars nie. Ek het ruimte nodig om aan my gesinsbande
te werk. Ek moet leer om soms nee te sê en nie heeltyd/die hele tyd vir alles ja te sê
nie.
In ’n sondige wêreld moet ons egter oppas om nie mure tussen ons en ander op te
rig nie. In die ou dae was daar mos ’n onder en bo dorp gewees in ’n groot
dorpsgebied. Waar is die onder en bo dorpe wat ons in standhou vandag? Of nie?
Watter mense hou ons op ’n afstand en watter trek ons nader? Nie net in ons
persoonlike lewe nie, maar familielewe, gemeente like lewe, ons gemeenskapslewe?
Die Een wat spesialiseer in mure afbreek is Christus. Daar het nou ’n nuwe eenheid
tussen mense wat in Christus glo ontstaan. Ons is familie van God. Die mure tussen
mense kom tot stand wanneer ons vergeet dat die muur van vyandskap tussen ons
en Christus afgebreek is uit genade. Die mure van vyandskap word afgebreek deur
Christus. Mag die Here ons by die kruis hou, want daar is ons sonde versoen, is vrede
met God verwerf, vir alle mense. Dis die vrug van Christus se lyding en opstanding.
BID: Dank die Here daar nou vrede tussen jou en God is deur die bloed van Christus.
Comentarios