Gebruik hierdie oomblik om rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.
Haal diep asem.
Herhaal die woorde in gebed:
In U hande gee ek my lewe oor, want Here, troue God, U het my vrygemaakLYDENSTYD In U hande gee ek my lewe oor, want Here, troue God, U het my vrygemaak
In U hande gee ek my lewe oor, want Here, troue God, U het my vrygemaak
Amen.
Lydenstyd begin van Aswoensdag af en duur vir 40 dae (Sondae uitgesluit). Daarna vier ons Paasfees.
Kies een van hierdie geloofsgewoontes om gedurende hierdie 40 dae van Lydenstyd te oefen:
VAS: Party mense kies om iets waaraan hulle geheg is, op te gee om sodoende iets van Jesus se opoffering te verstaan. Wat wil jy vas in hierdie tyd?
BID: Hierdie 40 dae is ook ‘n geloofs- en gebedsreis. Hoe wil God jou geloofsvorming in hierdie tyd vernuwe en verskerp? Hoe kan jy meer luister na God en meer lewe in die Gees?
GEE: Lydenstyd is ook ‘n tyd om bewus te word van hoe ons in hierdie lewe omgaan. Klou ons vas aan ons besittings en ideologieë? Of is ons vrygewig?
Oorwinning oor versoeking
LEES: Galasiërs 5:22-23
DINK:
Lydenstyd is seker die mees gepaste tyd om na te dink oor versoekings. Maar wat is versoekings? Sommiges van ons sal aanvoer dat dit daardie fluistering van die duiwel in die oor is. Vir ander is ‘n versoeking die koek terywl jy op ‘n dieet is. Of miskien is versoekings dinge soos pornografie en onsedelikheid?
Die punt is: ons almal ken die woord – “versoeking”.
Maar miskien gebruik ons hierdie woord om die verkeerde goed te beskryf en dan weet ons naderhand nie meer wat is die versoeking wat weerstaan moet word nie? Die Bybel sê immers nie dat ons nie mag koek eet of wyn drink of die lewe geniet nie. Wat versoekings dan?
Sou ons terugblaai na Adam en Eva sou ons duidelik sien dat die versoeking nie die vrug was nie, maar eerder die begeerte om na iets anders as God te luister. Die versoeking het ontstaan toe twee mense soos God wou word. Maar waarom sou ons soos God wil wees? Vir mag? Aansien? Krag? Wysheid?
Vir my is ‘n versoeking dus dit wat ons naby bring aan die teenoorgestelde van God. As God lewe is, is versoeking die dood. As God goed is, is versoeking die slegte. As God die Een Almagtige is, dan is versoeking die begeerte om meer magtig te wees. Versoeking is dus die afwesigheid van dit wat God vir ons leer, m,a,w, dit wat Goddelike-geïnspireerd is.
En dan besef ons die diepte van versoekings. Versoekings is die begeerte om ongeskik te wees; woede-uitbarstings en geweld; onvriendelikheid; onbedagsaamheid; rassisme; leuns; liefdeloosheid… Versoekings is die teenoorgestelde van ‘n lewe geïnspireer deur die Gees van God. Versoekings is daardie dinge wat ons lei op ‘n eensame en verlate pad en ‘n boodskap verkondig dat dit maar okay is om dit te doen.
In die Kinderkerk het ons ‘n demonstrasie gedoen om hierdie te verwoord en miskien wil u dit vandag saam doen. Ons steek ‘n kers aan as simbool van al hierdie versoekings in die lewe. Dan blaas ons ‘n ballon op as simbool van onsself. As ons die ballon naby aan die vlam bring, bars dit.
Versoekins bring ons op ‘n pad wat uitloop op die dood.
Maar wanneer ons die ballon vul met water en dit dan oor die vlam hou – dan bars die ballon nie.
Deur die genadegawe van God deur Jesus Christus word ons gevul met die Heilige Gees. Liefde, selfbeheersing, genade, vriendelikheid, barmhartigheid, sagmoedigheid – dit vul ons hele wese en dit lei ons op die pad van lig en lewe…’n Ewige Lewe.
Danksy hierdie wonderlike doopverbond van God dra ons die teken van hierdie water wat ons skoonwas. Daarom moet ons daaraan vashou. Daarom moet ons onsself daagliks herinner aan die lewe wat ons as dissipels moet leef. Nie leë lewens nie, maar vol, Gees-vervulde lewens wat God se teenwoordigheid in hierdie wêreld vir ander ook sigbaar maak.
BID: Bid tot die Here en bring die versoekings wat jy op jou pad ervaar voor God. Miskien word jy gou kwaad. Miskien breek jy verhoudings af. Bid tot die Here. En ontvang dan die Here se Gees in jou hart. Jy is skoon gewas. Jy is nuut. Jy is vry.
Comments