top of page
Writer's pictureNG Margate

OORWINNING OOR SIEKTE


Gebruik hierdie oomblik om rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.

Herhaal die woorde in gebed:

U, Here, laat my lamp helder skyn.

My God gee lig as dit donker is om my

Amen.

Psalm 18:29


Lydenstyd begin van Aswoensdag af en duur vir 40 dae (Sondae uitgesluit). Daarna vier ons Paasfees. Kies een van hierdie geloofsgewoontes om gedurende hierdie 40 dae van Lydenstyd te oefen:


VAS: Party mense kies om iets waaraan hulle geheg is, op te gee om sodoende iets van Jesus se opoffering te verstaan. Wat wil jy vas in hierdie tyd?


BID: Hierdie 40 dae is ook ‘n geloofs- en gebedsreis. Hoe wil God jou geloofsvorming in hierdie tyd vernuwe en verskerp? Hoe kan jy meer luister na God en meer lewe in die Gees?


GEE: Lydenstyd is ook ‘n tyd om bewus te word van hoe ons in hierdie lewe omgaan. Klou ons vas aan ons besittings en ideologieë? Of is ons vrygewig?


Oorwinning oor siekte


LEES: Jakobus 5:13-20


DINK:

Hoe rym siekte en oorwinning met mekaar? Alhoewel almal tog die een of ander tyd sterf, al sou dit wees vanweë ouderdom of siekte, bly genesing iets waarna almal smag. Hier in Jakobus se brief (Jak 5) hanteer hy die saak van siekte en hoe die vroeë gemeente aan wie hy skryf, dit hanteer het. Dis handige riglyne, maar nie voorskrifte wat ons as gemeente noodwendig net so hoef te volg nie. Die beginsels wat hy deurgee is egter belangrik. Hy sê dat as iemand siek is, hulle die ouderlinge van die gemeente moet laat kom om vir hom of haar te bid. Jakobus noem dit dat siekte die hele gemeente raak. Destyds het die ouderlinge ’n baie sterk toesig rol in die gemeente vervul. Wat ook belangrik is, is dat deur vir ander te bid, ons ons afhanklikheid van God toon. Die gebed om genesing sluit nie die raadpleeg van ’n dokter uit nie. Die gebruik van olie by so ’n gebed seremonie, het ook gesinspeel op die helende eienskappe van olyfolie. Bv. die Barmhartige Samaritaan wat die beseerde man langs die pad se wonde verbind met olyfolie-Luk. 10:34). Dit kan ook gesien word as ’n teken van genesing.


Daar kan ’n verband wees tussen ’n bepaalde sonde en genesing. As so ’n sonde die oorsaak van die siekte is, kan die genees word, sê Jakobus 5:16. Tog is nie alle siekte die gevolg van sonde nie. (Sien Johannes 9:1 en die blindgeborene). Ander kere is dit die algemene gevolg van die sondeval (Romeine 8:20). Dan hou siekte ook verband met genetiese faktore. VANDAG SE BYBELSTUDIEDokters en psigiaters sal ook vertel van psigosomatiese faktore soos dat opgekropte woede of angs of skuld, allerlei psigiese of fisiese simptome in die liggaam kan veroorsaak. Medisyne daarvoor voorgeskryf soos anti depressante of kortisoon of antibiotika is tog nie van die duiwel nie. Ook nie berading nie.


Paulus in die Bybel het byvoorbeeld vir mense gebid dat hulle gesond word. Op ander plekke laat hy dit oop dat mense siek kan wees, al is hulle gelowiges. (2 Timoteus 4:20) Hyself het siek gebly na hy hoeveel keer by God om genesing gesmeek het. (2 Korintiërs 12: 8,9). Jesus het ook nie almal gesond gemaak toe hy op aarde was nie. Genesing gebeur soms dramaties en ander kere word mense siek tot die dood toe, maar siekte beteken nie gelowiges is verloorders nie, maar in Christus meer as oorwinnaars. (Romeine 8: 36-39)


Die saak van siekte en genesing is kompleks, maar as ons wil praat oor oorwinning en siekte, dan moet ons sê dat in Christus verhoudings nuut word, wat psigosomatiese siektes seker minder laat manifesteer. Werk aan jou verhoudings met andere, met God en met jouself. Bid vir mediese deurbrake en vir jou dokter. Hy of sy is God se instrument tot genesing. Almal sterf. Het jy vrede met God, deur Christus, met jouself en met andere, sovêr dit van jou afhang? Uiteindelik roep Paulus in Romeine 8 uit: ‘Hiervan is ek oortuig: Geen siekte of dood of lewe of enigiets anders in die skepping kan ons skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie!’ Hoe gaan dit met jou, jou verhouding met ander? Watter wrokke of pyn dra jy saam uit die verlede? Gaan sien iemand professioneel wat jy vertrou en gesels dit deur. En ja, wanneer laas was jy jou dokter vir ’n algemene ondersoek, soos bloedtoetse ensovoorts? En oefen jy gereeld, eet jy gesond? Dis ook nie ’n skande om ’n berader te sien nie. Maak tyd om te bid. In die daaglikse omgang met God is daar genesing.


BID: Dank die Here dat Sy genade vir jou genoeg is vir vandag.

17 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page