top of page
Writer's pictureNG Margate

OORWINNING DEUR VERTROOSTING


Gebruik hierdie oomblik om rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.

Haal diep asem.

Herhaal die woorde in gebed:


Net by God vind ek rus, want op U vertrou ek.

Net by God vind ek rus, van U kom my redding

(Ps.62:2,6)


Lydenstyd begin van Aswoensdag af en duur vir 40 dae (Sondae uitgesluit). Daarna

vier ons Paasfees.


Kies een van hierdie geloofsgewoontes om gedurende hierdie 40 dae van Lydenstyd

te oefen:


VAS: Party mense kies om iets waaraan hulle geheg is, op te gee om sodoende iets

van Jesus se opoffering te verstaan. Wat wil jy vas in hierdie tyd?


BID: Hierdie 40 dae is ook ‘n geloofs- en gebedsreis. Hoe wil God jou

geloofsvorming in hierdie tyd vernuwe en verskerp? Hoe kan jy meer luister na God

en meer lewe in die Gees?


GEE: Lydenstyd is ook ‘n tyd om bewus te word van hoe ons in hierdie lewe omgaan.

Klou ons vas aan ons besittings en ideologieë? Of is ons vrygewig?


Oorwinning deur vertroosting


LEES: Psalm 23


DINK:

Daar is baie dinge in hierdie wêreld wat vir ons sleg is. Soms is daar slegte dinge

wat met ons gebeur. En soms word ons oorweldig deur die seer wat met ander

gebeur.


Omdat dit vir ons so oorweldigend kan wees, wil ons dikwels ons oë en ore toedruk

sodat ons nie daarvan bewus kan wees nie. Maar die Bybel vertel vir ons dat ons

bewus moet wees van mekaar se seer en lyding.


En ons moet dit nie probeer ‘n “quick fix” gee nie.


Het dit al met u gebeur? Dat u besig is om u verhaal van pyn en lyding te deel en

dan val die ander persoon u in die rede met ‘n poging tot ‘n vinnige oplossing? “Jy

het iewers ‘n fout gemaak en daarom gebeur dit. Jy moes nie dit gedoen het nie…” ; “Jy moet net beter wees…” ; “Miskien moet jy eerder probeer om…”

Ons is geneig om te reageer in plaas daarvan om te luister. Job se vriende was ook so. Hulle het allerhande vroom antwoorde gegee vir hoekom Job pyn en lyding beleef. Maar aan die einde kom ons agter dat dit glad nie is hoe God is nie. God is nie die God wat straf nie. En dan antwoord Job met die woorde: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.” (Job 42:5-6).


Dit was nog altyd vir my aangrypend hoe Job tot die besef kom dat dit okay is om in

sak en as te sit. Want daar is geen “quick fix” vir ons probleme of ons pyn of ons

lyding nie. En miskien moet ons dit nie so vinnig probeer regmaak nie. Want dit is

juis in die sak en as waar God ons ontmoet. En dit is hier waar God sáám met ons

uit die sak en as uitstap.


Ons kan mekaar ook troos met slegs ons teenwoordigheid. Om net dáár te wees vir

mekaar. Werklik daar. Om werlik te luister, nie met die bedoeling om te antwoord

en dit beter te maak nie, maar net om te luister. Want soms suck dinge net – maar

saam met mekaar ervaar ons ook iets van God.


Want dit is hoe die Imago Dei (beeld van God) werk – ons is geskep in die beeld van

‘n Verhoudingsgod en daarom is ons ook verhoudingswesens. Hoe sal die wêreld

lyk as ons vir mekaar die beeld van God uitstraal? Ek dink ons sal meer luister,

meer troos, meer liefhê, meer vergewe, meer geduldig wees en nader aan mekaar

lewe.


En dit is hoe oorwinning deur vertroosting behaal sal word.


BID: Spandeer jou gebedstyd vandag net in stilte. Probeer om net die stilte en die

Teenwoordigheid van God te geniet.

51 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários


bottom of page