top of page
Writer's pictureNG Margate

OORWINNING DEUR VERHOUDINGS


Gebruik hierdie oomblik om rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.


Herhaal die woorde in gebed:


Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis

En dit blywend weggeneem, toe Hy dit

aan die kruis vasgespyker het.

Kollossense 2:14


Lydenstyd begin van Aswoensdag af en duur vir 40 dae (Sondae uitgesluit). Daarna

vier ons Paasfees.


Kies een van hierdie geloofsgewoontes om gedurende hierdie 40 dae van Lydenstyd

te oefen:


VAS: Party mense kies om iets waaraan hulle geheg is, op te gee om sodoende iets

van Jesus se opoffering te verstaan. Wat wil jy vas in hierdie tyd?


BID: Hierdie 40 dae is ook ‘n geloofs- en gebedsreis. Hoe wil God jou

geloofsvorming in hierdie tyd vernuwe en verskerp? Hoe kan jy meer luister na God

en meer lewe in die Gees?


GEE: Lydenstyd is ook ‘n tyd om bewus te word van hoe ons in hierdie lewe omgaan.

Klou ons vas aan ons besittings en ideologieë? Of is ons vrygewig?


Oorwinning deur verhoudings


LEES: Matteus 5:21-26


DINK:

In Lydenstyd word ons herinner daaraan dat Jesus sy lewe gee vir sondaars, vir

mense wat nie Sy liefde verdien nie. Helder weerklink daar van die kruis af hierdie

deurslaggewende woorde vir verhoudings: “Vader, vergewe hulle want hulle weet nie

wat hulle doen nie.” In ons teks praat Jesus oor versuurde en herstelde verhoudings.

Eintlik is hier sprake van ’n dood geloopte verhouding. Dit gaan daaroor om iemand

dood te maak, vir goed uit die weg te ruim, dalk omdat die persoon in jou pad staan of

omdat jy dink dit sal al jou probleme oplos.


Jesus bring ’n ander dimensie na vore wat die geleerdes van sy dag gerieflikheidshalwe misgekyk het. Dit is dat moord nie net fisiese moord is nie, maar

dat moord reeds in jou hart sy oorsprong het. Jy kan ’n moordenaar wees sonde rom

iemand fisies dood te slaan. Die vraag is watter gedagtes ons aan dink en hoe ons

dink oor mense, veral mense wat ons verontreg het. Soos die mens in sy hart bedink, so is hy, leer die Bybel ons. Wees veral versigtig met wat in jou hart aangaan, want dit bepaal jou hele lewe (Spreuke 4:23). Dink bietjie na watter gedagtes jy in jou hart vertroetel. As dit nie positief is nie, moet daaraan nie plek gee nie. Negatiewe denke vergiftig jou. Dit is nie lank nie of die wrok wat jy in jou hart saamdra word wrewel en die wrewel lei tot aktiewe of passiewe vorme van aggressie.


Wat Jesus wel uitlig, is dat moord en doodslag wat in die hart gebeur op dieselfde vlak lê as sou dit met ’n mes of vuurwapen of die vuiste geskied. Dit was nuut en verrassend, maar dis juis wat Jesus sê. Om ’n afkeer aan iemand te hê, om iemand te minag, om op iemand neer te sien, belemmer gesonde verhoudings en is

moorddadig. Mens kan selfs deur kwaad te bly vir iemand en nie die saak uit te maak

met die persoon nie, plek gee aan die duiwel wat jou onbeheersd laat optree. Moenie die duiwel vatkans gee nie (Efesiërs 4:27). Onthou, bitterheid kweek bitterheid.


Hoe bou mens dan gesonde verhoudings volgens die riglyne in Matteus 5: 21-26?

Jesus verwys na ’n gebruik in sy dag om jou offer na die altaar toe te bring. Gewoonlik het die gebruik saamgegaan met skuldbelydenis en ’n bereidheid om jou met God te versoen.


Jesus herinner Sy hoorders dat versoening met God onlosmaaklik verbonde is met

versoening met jou medemens. Dus, los jou godsdienstige handeling en gaan maak

eers vrede met jou medemens. Terloops, die Bybel sê dat ons in vrede met alle mense moet saamleef, in soverre dit van ons afhang (Romeine 12:18). Dit beteken dat jy jou beste sal doen om ’n goeie verhouding met ander te handhaaf t.w.v. jou verhouding met die Here. Wanneer mense egter die hand van versoening wegklap, kan jy weer probeer, maar uiteindelik is jy nie verantwoordelik vir hul besluit om nie vrede te handhaaf nie.


Paulus spel dit uit in Romeine 12:9-21: Die kwaad kan oorwin word deur die goeie. Die

wapen waarmee die oorwinning behaal kan word, is die liefde. Die liefde waarvan Paulus praat, is 'n geskenk van God. Dit is 'n gawe wat God aan jou en my gee om nie na 'n situasie en mense te kyk deur die oë van die wêreld nie, maar deur die lens van Christus liefde. Die liefde van God is geopenbaar in Jesus se lewe van liefde in hierdie wêreld. Hulle het Hom beledig, gespot, gemartel, en gekruisig, maar Hy het Homself en elkeen oorgegee aan God wat alleenlik regverdig oordeel en handel.


Goeie verhoudinge vra werk. Dit vra opoffering. Dit kom nie vanself nie. Dit vra van jou en my om die tweede myl met ander te loop, dit vra nederigheid, dit vra

sensitiwiteit, dit vra om jou in ander se skoene te stel, kortom, om jou kruis op te neem en Jesus te volg op die kruisweg. Sal jy jou gawe eers by die altaar laat en Jesus in hierdie Lydenstyd op die kruisweg volg? Wie is daar in jou lewe met wie jy jou moet

versoen? Gaan en stel die saak reg, sonder versuim.


BID: Dank die Here dat jy in Christus met God versoen is en bid dan dat die Here vir

jou ’n deur oopmaak om met jou naaste te versoen.



6 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page