top of page
Writer's pictureNG Margate

OORWINNING DEUR HOOP


Gebruik hierdie oomblik om rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.

Haal diep asem.

LYDENSTYD Herhaal die woorde in gebed:

Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here, want God het oorwin!

(Ps.98)


Lydenstyd begin van Aswoensdag af en duur vir 40 dae (Sondae uitgesluit). Daarna vier ons Paasfees.

Kies een van hierdie geloofsgewoontes om gedurende hierdie 40 dae van Lydenstyd te oefen:


VAS: Party mense kies om iets waaraan hulle geheg is, op te gee om sodoende iets van Jesus se opoffering te verstaan. Wat wil jy vas in hierdie tyd?


BID: Hierdie 40 dae is ook ‘n geloofs- en gebedsreis. Hoe wil God jou geloofsvorming in hierdie tyd vernuwe en verskerp? Hoe kan jy meer luister na God en meer lewe in die Gees?


GEE: Lydenstyd is ook ‘n tyd om bewus te word van hoe ons in hierdie lewe omgaan. Klou ons vas aan ons besittings en ideologieë? Of is ons vrygewig?


Oorwinning deur hoop

LEES: Romeine 8:37


DINK:

Hierdie Lydenstyd dink ons saam aan die oorwinning wat daar vir ons is deur die oorwinning wat Christus behaal het aan die kruis. Maar die kruis bly steeds ‘n vreemde teken van hoop. Dink ‘n bietjie daaroor: ons vind ons ewige hoop in ‘n teken van gebrokenheid en wreedheid – die kruis.


Maar die kruis sê baie oor God. Dit sê vir ons dat ons nie ‘n wrede God dien nie, selfs al leef ons soms in ‘n wêreld vol wreedheid. Dit veterel vir ons dat God ons nie red deur die vergieting van ons bloed nie, maar deur God se eie bloed. Die kruis is die totale verandering van die diskoers.


‘n Diskoers is ‘n ander naam vir ‘n storie. En ons leef almal binne een-of-ander lewensstorie, ‘n diskoers. Tot nou toe het ons in hierdie Bybelstudies gedink aan sommige diskoerse: versoekings, dood, siekte, sonde, skuldgevoelens en vrees. Maar die kruis keer al hierdie diskoerse op hul kop en bring vir ons ‘n nuwe diskoers: ons is oorwinnaars.


En ons is ook méér as oorwinnaars. Want God verander nie net die diskoers nie, nee, God kom gee aan ons ‘n nuwe diskoers: ons is verhale van hoop.


Hoop is ‘n ongelooflike ding, want mens kan nie tegelyke tyd vol hoop én vol wanhoop wees nie. Hoop kom vul jou lewe en verander jou in totaliteit. Dit maak jou ‘n verhaal van God se hoop. En dit is hierdie verhaal van hoop wat ons moet uitleef, sodat almal deur ons ook die oorwinning kan sien wat hierdeur behaal word.

BID: Is daar sekere verhale wat jou vul met wanhoop? Bring dit na die Here sodat God jou hart kan vul met die hoop wat daar vir jou is in Jesus Christus.


50 views0 comments

Recent Posts

See All

Kommentarer


bottom of page