top of page
Writer's pictureNG Margate

ONVOORWAARDELIKE LIEFDE

OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks


24 JUNIE 2020

LUKAS 10:25-37


ONS KOM VOOR GOD…

Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.

Fokus op jou liggaam waar jy nou sit. Haal rustig asem en beleef die oomblik

Wanneer jy reg is, bid tot die Here.


YSBREKER

# Mens voel soms net dadelik gemaklik in iemand se geselskap. Hoekom dink jy is dit so? Hoekom voel mense gemaklik / ongemaklik in jou geselskap?

# Soek gou ’n babafoto van iemand na aan jou, of jou eie foto as baba. Spesifiek ’n foto waar die baba in ma of ma se arms lê, as jy kan. Let op die gesigsuitdrukking. Wat val jou op? Hoe is dit dat (meeste van) ons, so graag uitreik na kinders?

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing

Kom ons loof die Here met die volgende liedere:

- My Pa is die Koning – Juanita (https://youtu.be/EoBNNmGZ9Sg)

- Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

Hoe groot is u liefde - Retief Burger

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 530 Praat ek mense, engletale!

TEKS

* Lees Lukas 10:25-37 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees Lukas 10:25-37 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

In ons Skrifgedeelte oor die Barmhartige Samaritaan het ons met mense te doen wat voorwaardelik en onvoorwaardelik lief het. ’n Man reis op ’n onherbergsame pad vanaf Jerusalem na Jerigo. Hy word deur struikrowers aangeval, wat al sy goed vat en hom halfdood langs die pad laat lê. Wie is daar wat na hom toe sal uitreik met onvoorwaardelik liefde?

Gelukkig was daar darem ook ander voete op daardie pad. Twee kerkmense, ’n priester en Leviet kom verby. Hulle sien die toneel maar loop ’n wye draai om die arme man.

Waarom loop hulle draaie? Het hulle dalk gedink aan hulle eie veiligheid? Miskien het hulle ’n druk program gehad? Was hulle harteloos? Daar was seker baie redes vir hul optrede.

Dalk was die man dood en hulle was met dringende sake op pad tempel toe. Daar was in elk geval reiniging voorskrifte wat hulle sou moes ondergaan, as jy aan so iemand sou raak, wat hul kerkbesoek en werk sou belemmer. Dalk was hulle net afgestomp deur die aanskoue van nog ’n misdaadtoneel? Dit het hulle nie meer geraak nie. Dalk was dit uitbranding? Hulle moes dalk baie mense in nood help. Hulle sien die man, maar reageer nie om hom te help nie. Hul liefde is voorwaardelik. Dit gaan maar vandag ook so of hoe? Ons sien die nood sonder om te sien.

Dan was daar ’n Samaritaan van wie die Jode niks goeds verwag het nie. Iemand van ’n ander kultuur, godsdiens en ras. Die Samaritaan gaan seker nog slegter daarvan afkom as die kerkmense, of hoe? Maar nee. Die Samaritaan sien ook die man en skort dadelik sy besige reisprogram op. Hy gaan uit sy pad uit op te help. Hy vra nie vrae nie, hy het miskien gekyk of dit nie ’n lokval was nie, maar nogtans gehelp. Die Samaritaan neem aksie. Hy het lief. Daar gebeur iets tussen sy oë en sy hart.

Die Samaritaan se liefde is onvoorwaardelik. Hy kry dit reg om sy vooroordele op te skort. In die samelewing van destyds het Jode aan Jode en Samaritane aan Samaritane goed gedoen. Die Samaritaan help en reik onvoorwaardelik uit. Dis hoe Jesus wil hê liefde moet werk. Daarom vra Jesus nie “Wie is my naaste nie, maar vir wie is ek ’n naaste?’ As ek vra wie is my naaste, hanteer ek my naaste as ’n objek van my liefde. Wanneer ek soos Jesus vra: Vir wie is ek ’n naaste, kom ekself, my liefde in die kollig. Die vraag is of ek onvoorwaardelik lief het?

Dis eers wanneer mens die liefde vir God en medemens vanuit Jesus se perspektief, vanuit die perspektief van die kruis sien, dat jy onvoorwaardelik kan liefhê. Dis eers as God jou geloofsoë open en jy Jesus se verdienstes aan die kruis omhels, dat jy vry word om lief te hê. Ja, natuurlik struikel ons baie kere en sal ons meermale ons liefdeloosheid moet erken en bely. Wanneer jy egter toelaat dat die Heilige Gees jou lewe beheer, verskeur jy nie meer nie, maar verbind, reik jy uit buite jou gemaksone, het jy lief soos Jesus lief het, onvoorwaardelik. Dan oorskry jou liefde die grense van taal, ras, afkoms, familie, stand, ensovoorts. Dan dring Christus se liefde jou. Het jy voorwaardelik of onvoorwaardelik lief? Amen


BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Gesels met mekaar oor wat onvoorwaardelike Jesus liefde sou beteken vir die konteks waarbinne ons vandag in Suid-Afrika leef.

# Wie dink jy verdien jou liefde die minste? Vra die Here om jou te help om juis daardie persoon onvoorwaardelik lief te hê.

# Lees 1 Korintiërs 13 deur en voeg jou naam in by die woordjies. .”die liefde is...sodat dit lui: “Ek is...”. Hoe help dit jou om onvoorwaardelik lief te hê?

# Dink jy dat onvoorwaardelik liefhê en verantwoordelik liefhê mekaar uitsluit of insluit? Gesels daaroor en vra maar gerus een van die dominees as jy daaroor wonder.

UITDAGING

Sluit vir ’n oomblik jou oë. Dink aan ’n persoon uit die verlede of hede, wat jou totaal veilig laat voel. Iemand wat jou lief het en aanvaar vir wie jy is, iemand wat die slegste van jou weet en jou steeds lief het en vergewe. Dink aan ’n ouer, lewensmaat, kollega. As jy so ’n verhouding beleef, onthou dat God jou oneindig meer lief het en om Christus wil aanvaar. Kyk nou weg van jouself en besef dat God se liefde almal insluit. Hy het met alles liefgehad, selfs Sy enigste Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgegee om almal te red. Dink hieroor na en antwoord die Here met jou lewe.


AFSLUITING

* Bid die gebed vir jouself en daarna vir die groep.

“Here, U wat hierdie mense liefhet wat ek nie wil verdra nie, U wat die harte ken van hulle wat ek nie kan verstaan nie, U wat die innerlike worsteling ken van hulle wat ek ignoreer, U wat die goeie motief sien in die houdings wat ek as skynheilig beskou: open my oë en my hart. U ken my beter as wat ek myself ken; u het my liewer as wat ek myself het … Here! Leer my liefhê met u liefde. Amen.”

37 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comments


bottom of page