top of page
Writer's pictureNG Margate

ONTMOETING 5: “OP DIE HANDE DRA…”

‘N TUISGELOOF PINKSTERREEKS

27 MEI 2020


WELKOM!

# Kom ons neem ‘n oomblik om rustig in die teenwoordigheid van God te word. Vra die Heilige Gees om jou te vervul. Sê dan dankie dat God jou gebed verhoor het.

# Word vir ’n paar oomblikke bewus van jou eie hartklop en die lewe wat in jou is.’n stilgebed waar jy dankie sê dat Hy jou gemaak het en jou vertrou om Sy verteenwoordiger te wees.

* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.

** Vra iemand om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met ‘n opregte gebed tot God.


YSBREKER

# Kyk of jy ten minste twee gesegdes oor hande vat in die Bybel kan identifiseer. Jy kan gebruik maak van die YOU VERSION BIBLE TOEP op jou selfoon of gaan google. Ek gee jou ’n wenk: Die volgende kom uit die Ou Testament: “Twee vaar beter as een.... ‘n driedubbele tou breek nie maklik nie.” Soek die teks op. (Dis gedeeltes uit twee teks verse).

“NO HANDS, HANDSHAKE”

Vandag leer ons die sesde beweging van ons “no hands, handshake”:

1. Ons begin deur 1 meter weg van mekaar te staan.

2. Strek jou hand uit.

3. Raak aan jou oor.

4. Draai jou hande om mekaar.

5. Maak vuiste en slaan dit op mekaar

Bons jou hande in die lig met plat hande asof jy iets moet dra.

Volgende keer leer ons nog ‘n beweging!

LOFPRYSING & AANBIDDING

Gebruik hierdie skakels om die Here te loof en te aanbid:

Lofprysing

- Alle volke klap julle hande. Willie Joubert (https://youtu.be/pXcnb6Kg-WI?list=PLw4KppEXtR5xfG3vRj4ce6M_WT8pi-BDD)

- I lift my hands to the coming King (https://youtu.be/hOcpIKa0JTk)

Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

- Neem my hande. Piet Smit (https://youtu.be/M72t2_ydjjE)

Alternatiewe musiek:

Liedboek: Liedboek 509: Op berge en in dale

KOM ONS WONDER SAAM

* Lees Psalm 91 en onderstreep die gedeeltes wat vir jou uitstaan.

** Lees Psalm 91 en onderstreep die gedeeltes wat vir julle uitstaan. Gesels oor julle gedeeltes.


BOODSKAP.

Die Belydenisklas op Margate het vroeër jare die boekie, “die spel van die lewe” behandel met hul Belydeniskamp. Daar was ’n oefening waar jy geblinddoek word en iemand (jou gids) jou na ’n boom toe lei. Jy moet dan aan die boom voel. As jy terug is by die begin word die blinddoek afgehaal. Dan moet jy jou boom uitken. Die terugvoer oor hoe dit voel om geblinddoek te wees en hoe dit voel om jou “gids” te vertrou was altyd ’n hoogtepunt. Een van die opmerkings was dat jy jou gids ten volle moes vertrou want meesal is jy langs rowwe en ongelyke terrein gelei. Psalm 91 roep ons op tot Godsvertroue. Hy is in ons om ons te vul, langs ons om ons raad te gee as ons nie antwoorde het nie.


Om te weet jy kan iemand vertrou is ’n kosbare wete. Vertroue wat eenmaal geskend is, kan herstel word, maar neem tyd. Party vind dit moeiliker as ander om te vertrou. Sommige is meer skepties as anders. Dalk gaan jy vandag deur ’n vertrouenskrisis.


Daar is vandag wêreldwyd ’n gebrek aan vertroue in mense en instansies. Dit loop deur van gesinsvlak tot in die parlement. In hierdie onseker tye van die COVID 19 pandemie is daar ’n gebrek aan vertroue in die ekonomie en politici. Mense weet nie altyd meer of hulle op mense of instansies kan peiltrek nie. Jy moet deesdae bewys dat jy betroubaar is. Wat maak dat jy sukkel om ander, self God te vertrou? Het jy dalk teleurstelling ervaar? Het jy fopnuus geglo oor die kerk, oor ander, oor God, dat jy so voel? Het jy dalk seergekry in ’n verhouding?


Psalm 91 sê dat jy op die Here kan peil trek. Dis ’n Psalm wat sê dat jou lewe nèt veilig kan wees as jy op die Allerhoogste, Koning van alle konings kan vertrou. Elke oomblik, in die nag of oordag, is jy onder God se bewaring. Jy hoef niks te vrees nie: nie die gevare van die nag of die aanvalle oordag nie; nie siekte of pes nie; nie oorlog of goddeloses se haat nie. God sal Sy kinders op die hande dra. Jy mag egter nie onverskillig wees oor iets soos hande was en maskers dra, onverantwoordelik optree, en dan sê God sal jou beskerm nie. So ‘n houding klink demonies.

As jy nou skrik oor my opmerking, dis presies wat die duiwel met Jesus gedoen het toe hy Hom in die woestyn versoek het. Hy het mos Psalm 91:11 aangehaal toe hy vir Jesus uitgedaag het om van die tempel se dak af te spring. “God se engele sal jou op die hande dra sodat jy nie jou voet teen n klip sal stamp nie,” was sy listige versoeking. Lees gerus van Jesus se versoeking in Matteus 4. Jesus het Satan met ‘n ander teks verwysing (Deuteronomium 6:16) geantwoord wat lui: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” God sal jou op die hande dra. Moet egter nie buite Sy wil beweeg nie. Jy kan dalk seerkry.


Waar soek ons skuiling? Waarin soek ons sekuriteit? In wie stel jy jou vertroue? Ons probeer so dikwels onsself beveilig. Nou wil ek nie sê dat ons dit nie moet doen nie. Maar wat wel belangrik is, is dat al ons veiligheidsmaatreëls sonder God vergeefs is. As ons nie saam met die Psalmis bely: Here, U is my toevlug en my veilige vesting, my God op Wie ek vertrou, nie, dan is al ons poging futiel en kan ons nie werklik veilig en geborge wees nie.


Sukkel jy met vertroue? Neem dit na die troon van die Here. Is jy bang vir wat voorlê? Dalk oor jou toekoms in hierdie land, oor jou studies, werk, pensioen, gesondheid? Die Here dra jou op die hande. Sy regterhand ondersteun jou. Sy ewige arms is onder jou.


As jy te doen kry met ’n vyand wat sterker is as jy, sal God wat die Almagtige is, steeds jou beskerming bly, aan alle kante, leer Psalm 91.

· As die Bose of bose mense vir jou ’n net span en regkry om jou daarmee te vang, sal God wat alreeds jou Redder is, jou wéér daaruit bevry.

· As die vyand jou op slinkse maniere verneder, sal Hy wat nog altyd die saak van die hulpelose behartig het, jou naam in ere herstel.

· En as die vyand dink dat hy jou uiteindelik met sy “leeus” en sy “adders”—die dood en die graf—finaal uit die weg geruim het, sal God self vir jou “’n lang lewe” teruggee. Hy sal jou in veiligheid by Hom laat woon. In Sy koninkryk. Vir ewig! God sal jou deurdra, op die hande dra. Pinkster herinner ons ook dat die Heilige Gees ons Helper is. Sy hulp is ’n geskenk van God waarop ons kan reken. In enige situasie waar ons bystand nodig het. In konflik. In uitdagings. In hartseer. In moeilikheid. Die Here is ons toevlug. Stel in God jou vertroue, vandag.

KOM ONS WEES SAAM

# Probeer om in jou eie woorde ’n definisie van vertroue te gee. Probeer dit uit die oog van ’n kind stel. Hoe sou jy vir jou kind of kleinkind die konsep van “vertroue hê” beskryf?

# Was jy al ooit teleurgestel in God? Deel dit met iemand. Hoe is die vertroue herstel?

# Was jy al ooit in ’n situasie waar jy gevoel het jy moet “geblinddoek” daar ingaan? Hoe het dit jou laat voel? Wie het jou deur daardie moeilike tyd gedra?

# Probeer die boodskap van Psalm 91 in jou eie woorde aan ’n jongmense van 14 jaar oordra, in nie meer as vyf sinne nie. As jy self nog in jou tienerfase is, gesels met jou ouers oor die betekenis van die konsep, “vertroue.”

TOT ONS MEKAAR WEER SIEN

Besluit van vandag af om nie so hardop op jouself en ander te wees nie. As jy weer ’n fout maak, of iets verkeerds sê, luister na die stem in jou kop. As jy vir jouself hoor sê: “Ek is nie goed genoeg nie,” vervang dit met: “Almal maak foute.” Probeer die oefening ook as iemand jou teleurstel of jou vertroue geskend het. Sê vir jouself: “Almal maak foute en ons is almal voete van klei.” Wees genadig teenoor jouself an andere.

AFSLUITING

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Lees Psalm 121 rustig deur en eien dit toe as ’n geloofsbelydenis vir jou eie lewe.


70 views0 comments

Recent Posts

See All

Opmerkingen


bottom of page