‘N TUISGELOOF PINKSTERREEKS
26 MEI 2020
WELKOM!
Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.
Haal diep asem: in en uit. Doen dit so drie keer.
Voel hoe jou spiere ontspan en jou gedagtes verhelder.
Dink aan drie dinge wat vir jou mooi is en waarvoor jy dankbaar is.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met ‘n opregte gebed tot God.
YSBREKER
# Wat beteken “handewerk” vir jou?
# Is ‘n “handewerk” iets wat vinnig gebeur of iets wat met moeite en sorg gemaak word?
# Hoe sal jy daaroor voel as iemand jou “handewerk” breek of verniel?
“NO HANDS, HANDSHAKE”
1. Ons begin deur 1 meter weg van mekaar te staan.
2. Strek nou jou regterhand na die ander persoon sonder om aan hulle te raak!
3. Raak nou met jou linkerhand aan jou oor.
4. Draai jou hande om mekaar in sirkels asof jy jou hande was.
Maak jou hande vuiste en slaan dit op mekaar – dit lyk amper soos ‘n hamer wat ‘n spyker slaan.
Volgende keer leer ons nog ‘n beweging!
LOFPRYSING & AANBIDDING
Gebruik hierdie skakels om die Here te loof en te aanbid:
Lofprysing
Majesteit (https://www.youtube.com/watch?v=sg5GlXGcOKs)
Here I am to worship (https://www.youtube.com/watch?v=5Pj2P8Bn5WI)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
As ek voor U voete val (https://www.youtube.com/watch?v=E2LSuRtYZVU)
Great I am (https://www.youtube.com/watch?v=w2Yh4exnBU0)
Alternatiewe musiek:
Youtube:
You raise me up (https://www.youtube.com/watch?v=aJxrX42WcjQ)
Liedboek:
LB 464 O Heer my God
KOM ONS WONDER SAAM
* Lees Psalm 8 en onderstreep die gedeeltes wat vir jou uitstaan.
** Lees Psalm 8 en onderstreep die gedeeltes wat vir julle uitstaan. Gesels oor julle gedeeltes.
BOODSKAP.
Ek het nog altyd gewens ek kan mooi skilder of teken, want dit is vir my so mooi wanneer iemand se gedagtes op ‘n papier vasgepen word. Dit is besonders om te dink: ek het dit geskep.
Wanneer ons Psalm 8 lees, prys ons die Here oor die beeldskone handewerk van die skepping. Want die skepping is vir ons besonders mooi. Ons het darem maar ‘n pragtige aardse tuiste. Maar dit gebeur ook dat wanneer ons na die prag en grootheid van die Skepping kyk, dat ons van ons eie nietigheid bewus word. Ons word opnuut bewus van hoe klein ons eintlik is teenoor die heelal. Daarom is die vraag wat die Psalmis vra, ‘n vraag wat ek dink elke gelowige op ‘n stadium vra: “…wat is die mens dan dat U aan hom/haar dink, die mensekind dat U na hom/haar omsien?” Hoekom sal ‘n God wat so groot is, kyk na ons kleine mense en besorgd wees oor ons? Dit is ook nie asof ons dit verdien nie.
Maar dan beantwoord die Psalmis ook sy eie vraag deur te skryf: “U het die mens net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en die mens met aansien en eer gekroon, 7U laat die mens heers oor die werk van u hande, U het alles aan die mens onderwerp…” Die kern van hierdie antwoord is dat ons, net soos die skepping, deel is van God se handewerk. Ons is deel van die Skepping wat God so goed geskep het. Tog wil ons dikwels hierdie verse gebruik as bevestiging dat ons beter is as die skepping.
Maar dit is onwaar. Die Psalmis begin immers deur eerstens deur God se krag wat sienbaar in die Skepping is, te prys. Dit is vanuit die prys vir die Skepping dat die Psalmis besef dat die mens ook hiervan deel is. Maar omdat die mens in die beeld van God geskape is, is daar ‘n verskil tussen die mens en die res van die Skepping. Die mens het ook die verantwoordelikheid om om te gee oor die Skepping. Hoekom? Want God gee om oor die Skepping. Omdat ons in die beeld van God – ‘n God wat omgee – geskep is, moet ons ook omgee.
Psalm 8 is dus nie ‘n verheffing van die mens nie, maar eerder die beklemtoning dat ons ‘n roeping het. Ons moet strewe daarna om na die Skepping – die hele Skepping – om te sien soos wat God daarvoor omsien. Die Skepping en alles daarin (ons ingesluit) is God se handewerk. Ons moet nie God se handewerk verniel nie. Ons moet God se handewerk nie as minderwaardig en gering ag nie. Ons moet dit versorg en koester.
Want God is besorgd oor ons.
En God koester ons.
Amen.
KOM ONS WEES SAAM
# Hoe dink jy kom ons die Skepping te na?
# Hoekom dink jy sê baie mense dat die mensdom belangriker is as sekere ander dele van die Skepping?
# Hoe dink jy beїnvloed Psalm 8 en die eenheid van die Skepping ons idees oor goed soos rassisme, seksisme en ander vorme van mag?
# Hoe dink jy kan ons in hierdie tyd van inperking beter sorg vir ons aardste tuiste?
TOT ONS MEKAAR WEER SIEN
Ons het elke jaar ‘n Earth Day. Hierdie jaar s’n is al verby. Maar dit beteken nie dat ons nie nog een kan hê nie. Elke dag moet eintlik Earth Day wees. So kom ons kies vandag ‘n tyd waar ons al ons elektroniese toerusting en energiebronne gaan afsit. Kom ons gebruik dan ook hierdie tyd om die Skepping te waardeer.
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Mag die God van hemel en aarde en die groot heelal se Teenwoordigheid tasbaar in jou lewe wees. Mag jy weet God is by jou. Mag jy weet dat God jou koester. En mag jy God se Handwerk versorg. Amen.
Comments