‘N TUISGELOOF PINKSTERREEKS
25 MEI 2020
WELKOM!
# Kom ons neem ‘n oomblik om rustig in die teenwoordigheid van God te word. Vra die Heilige Gees om jou te vervul. Sê dan dankie dat God jou gebed verhoor het.
# Word vir ’n paar oomblikke bewus van jou eie hartklop en die lewe wat in jou is. Jy kan ook jou vinger teen jou pols druk en voel hoe klop die bloed deur jou are. Doen ’n stilgebed waar jy dankie sê vir die lewe wat God jou geskenk het.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met ‘n opregte gebed tot God.
YSBREKER
In ons kerk se Belydenisskrifte (Nederlandse Geloofsbelydenis Art 33), word gesê dat die doop ’n teken is van God se goedheid en genade teenoor ons. ’n Trouring is ’n teken van twee mense se trou aan mekaar en dat hulle aan mekaar behoort. Die doop is soos die trouring, ’n teken en pand van God se goedheid en genade teenoor ons. Ons is Syne.
# Gesels bietjie oor die gedagte: “Die doop is God se ring aan ons.”
“NO HANDS, HANDSHAKE”
Vandag leer ons die tweede beweging van ons “no hands, handshake”:
1. Ons begin deur 1 meter weg van mekaar te staan.
2. Strek nou jou regterhand na die ander persoon sonder om aan hulle te raak!
3. Raak nou met jou linkerhand aan jou oor.
Draai jou hande om mekaar in sirkels asof jy jou hande was.
Volgende keer leer ons nog ‘n beweging!
LOFPRYSING & AANBIDDING
Gebruik hierdie skakels om die Here te loof en te aanbid:
Lofprysing
God van die Skepping (https://youtu.be/Pk72WguFSkc?list=PL03j8ikrWZdSWA2uE2GlKWHBOQJqDNDPG)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
Ek slaan my oë op (https://youtu.be/h6WI-bQlT0o)
Alternatiewe musiek:
Liedboek:
Liedboek 184: Lofsing die Here.
KOM ONS WONDER SAAM
* Lees Psalm 24 en onderstreep die gedeeltes wat vir jou uitstaan.
** Lees Psalm 24 en onderstreep die gedeeltes wat vir julle uitstaan. Gesels oor julle gedeeltes.
BOODSKAP.
Die Korona virus is hoogs aansteeklik. Ek hoef dit nie vir jou te sê nie. Dis een van die redes waarom ons maskers dra en ons hande so gereeld reinig. In die Bybel word die sonde ook as ’n hoogs aansteeklike virus beskryf. Romeine 5:12 sê die volgende: “… deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.” As Koning Dawid dink aan sy eie oortredinge, dan smeek hy die Here in Psalm 51:4: “Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde.”
Psalm 24, ons gelese Psalm, is ’n Nuwejaarspsalm wat in oud Israel gesing is. Drie dae voor die einde van die jaar is alle voorwerpe in die tempel uit die tempel geneem en buite die stad geplaas. Die volk moes dan voor die Oujaarsdag hulleself ondersoek. Hulle moes vra: Wat het ons in hierdie jaar gedoen? Wat veral belangrik was, was die vraag of hulle die Here gedien het en volgens sy wil en woord geleef het.
Dit gaan dus in die Psalm oor selfondersoek. Pinkster is ’n tyd van selfondersoek. Ons word tog in die Bybel opgeroep om onder heerskappy van die Gees te lewe. Hier word vrae gevra oor ons “commitment” en toewyding aan die Here. Dien ek die Here met ’n suiwer hart en rein hande? Alles behoort aan die Here, leer die Psalm ons. Alles is aan Hom onderworpe. Staan my lewe elke dag onder Sy heerskappy?
Het jy al ooit gevoel dat jy in ’n doodloopstraat beland het sover dit jou verhouding met die Here betref? Dalk loop jy rond met skuldgevoelens. Dalk eggo die vraag van die Psalmis in die derde vers van Psalm 24 jou eie magteloosheid. “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in Sy heiligdom gaan staan? Die een wie se hande rein is en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.” Hoe kan ek dit dan maak?
Die verwysing na rein hande verwys na die gelowige se optrede van elke dag. Dit gaan oor jou verhoudings en of jy in liefde lewe. Die hart dui op die gesindheid van die gelowige. Op ’n ander plek in Psalm 51 bid Dawid dat die Here vir hom ’n rein hart sal skep. As ons onsself eerlik ondersoek, dan besef ons dat ons ver tekortskiet aan hierdie vereistes waarvan ons in hierdie Psalm lees. Dit is dan dat die twyfel ons bekruip. Ons voel onrein en het nodig om ons hande te was en ons harte te reinig.
Dan kan ons aan ons voorkoppe vat en onthou, ons is gedoop in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Die water is ’n teken van die afwassing van ons sonde deur die bloed van Jesus. Die God aan wie die aarde en alles daarop behoort, het Hom in Sy liefde en trou aan ons verbind. Ons sekerheid is buite onsself in Christus te vind. Ons bou nie ons geloof op hoe ons soms voel oor onsself nie, maar op Christus en Sy verlossingswerk. Of ek glo, het iemand geskryf, dit weet ek niè, maar ek weet in wie ek glo.
Selfondersoek is nodig, ook in hierdie Pinkstertyd. Ons kan egter niè daar vassteek nie. God skenk aan ons in Christus elke keer ’n silwerskoon, nuwe bladsy. Psalm 24 eindig met ’n hertoewydingseremonie as die tempelgoed teruggedra word en die volk weer vreugdeliedere sing en hul aan die Koning van alle Konings onderwerp om my wil te doen. Hulle ontvang ’n silwerskoon, nuwe bladsy.
Skoon hande en rein harte? Wie glo in Jesus Christus ontvang dit alles uit genade. Ons het egter ’n verantwoordelikheid om elke dag te streef na skoon hande en rein harte. Ons het nodig om te leef soos gedooptes. Uit genade is ons gered, maar ons staan steeds in die teenwoordigheid van God. Ons moet eerbied en liefde vir God hê, en dit moet blyk uit ons lewensgesindheid, ons woorde en lewenswandel. Laat die Gees dan ons gedrag bepaal. Kom ons reining ons hande en ons harte voor die Here. Laat ons lewe soos gedooptes, mense wat “God se ring dra.”
KOM ONS WEES SAAM
# Weet jy waar en op watter dag jy gedoop is? Probeer uitvind as jy nie weet nie.
# Wat beteken dit vir jou dat jy as gedoopte “God se ring” dra? Kyk weer na die opmerkings by die ysbreker hierbo or ‘God se ring.”
# Soms voel ons oor onsself, soos wat iemand dit eendag gestel het, dat die see ons nie kan afwas nie. Lees Jesaja 1:16-18. Purper is ’n stof uit slakke se doppe en as ’n kledingstuk gekleur was, was dit permanent. Jesus se bloed wis enige sondevlek uit. Glo jy dit? Hoekom?
# Gesels bietjie oor hoe ons as gemeente nog in hierdie jaar ’n hertoewydingsfees aan die Here kan inrig. Wat sou dit vir ons as gemeente beteken om ons opnuut aan die Here toe te wy?
TOT ONS MEKAAR WEER SIEN
Dit is vir elke Christen nodig om selfondersoek te doen. In 2 Korintiërs 13:5 sê Paulus: “Ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.” Genade is nie lisensie vir sonde nie. Ons moet egter wegkyk van onsself en na die kruis kyk. Wanneer jy so in selfondersoek oop en bloot voor die Here staan, onthou dat jy gedoop is. God het Hom aan jou in Sy troue liefde verbind toe jy hulpeloos daar by die doopvont was. Niemand kan jou uit Sy hand ruk nie. Eien vir jouself dan die belofte in 1 Johannes 1:7 toe: “Die bloed van Jesus reinig ons ‘voortdurend” van elke sonde.
Julle kan ook saam met die kinders van die gemeente die volgende doopherinnering doen:
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus is nie.” Romeine 8:1
Comments