‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
MY SOEKE NA BEHEER…
3 JUNIE 2020
EKSODUS 3-4:17
WELKOM BY ONS NUWE REEKS
Selfs in ‘n wêreld waar dinge so vinnig en maklik verander, is daar baie druk op ons om vinnig aan te pas. Hierdie oorweldigende gevoelens kan ons baie bang en onrustig maak. Daarom is dit soms makliker om weg te skram vir verandering, want ons probeer onsself so beskerm. Maar is dit ware beskerming? Of is dit net ‘n reaksie op vrees? Daarom wil ons in hierdie Bybelstudie kyk na hoe ons in hierdie tyd kan groei op maniere wat ons nie oorweldig en bang maak nie. Ons gaan mekaar in hierdie Byelstudie-reeks dus uitdaag om ‘n groot stuk self-refleksie te doen. Ons hoop dat julle saam met ons hierdie pad van groei sal stap.
Groete,
Dr Mike Heaney & Ds Lerisa Meyer
ONS KOM VOOR GOD…
Ons gaan elke ontmoeting open met ‘n examen. ‘n Examen is ‘n gebed waarin ons reflekteer oor hoe ons ons lewens ervaar. Dit is nie baie anders as wat ons tot dusver elke keer gedoen het nie. Die examen het vyf stappe en ons nooi jou uit om die stappe op jou eie tyd te doen.
- Stilte
Word rustig in die teenwoordigheid van die Here. Haal diep asem en ervaar die teenwoordigheid van God by jou. Wanneer jy gereed is herhaal die volgende woorde: “Spreek Heer, spreek Heer, want U dienaar luister.”
- Gebed van dankbaarheid
Bedank die Here vir die dinge, mense en ervarings in jou lewe.
- Refleksie
Gesels met die Here oor wat in jou lewe tans gebeur.
- Gebed van behoeftes
Bid tot die Here oor die tekortkominge wat jy in jou lewe mag ervaar.
- Gebed vir die toekoms
Waar het jy God nodig in die tyd wat voorlê? Gesels met die Here daaroor.
Amen.
YSBREKER
# Wat beteken die woorde: “Wat daarvan as…” vir jou?
# Hoe laat hierdie prentjie jou voel:
# Hoekom dink jy kan ons maklik bang voel as ons die woorde “Wat daarvan as…” hoor?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
- What a Beautiful Name it is (https://www.youtube.com/watch?v=r5L6QlAH3L4)
- Ek is wie U sê ek is (https://www.youtube.com/watch?v=wOmuGypH6uo&t=230s)
- God of wonders (https://www.youtube.com/watch?v=1CBNE25rtnE)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- Nearer my God to thee (https://www.youtube.com/watch?v=WyxXGdG3-Io)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 271 Heilige Jesus wat my lewe
LB 306 U, Christus is my lewe,LB 543 Here Jesus, ek is klein
TEKS
* Lees Eksodus 3-4:17 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Eksodus 3-4:17 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
“Wat daarvan as…” is ‘n vraag wat ek al so baie keer gevra het, gewoonlik vir my Ma. Ek vra dit wanneer ek worstel met ‘n besluit en ek probeer om al die opsies en moontlikhede te bespreek. Hierdie gesprekke het gewoonlik in middernagtelike ure in die kombuis plaasgevind. Teen die einde van die gesprek het ons mekaar meer getroos en moed in gepraat as wat ons ‘n besluit oor iets geneem het. Want dit is wat “Wat daarvan as” beteken: dit is asof ek elke deur van die toekoms wil oopmaak om te kyk hoe dit sal lyk. Maar so dikwels laat “wat daarvan as” ons met meer onsekerheid as klaarheid. Want miskien kyk ons verkeerd na die toekoms. Ons wil elke moontlikheid raaksien sodat ons in beheer van ons lewens kan voel.
Maar die feit is dat ons nie 100% in beheer van ons eie lewens is nie. Ja, ons kan kies wat ons vir ontbyt wil eet. Of ons kan kies om oor die rooi verkeerslig te ry. Maar oor dinge soos siekte, dood, onbeplande vreugde en verrassings het ons nie beheer nie – en dit kan ons bang maak. So wat is ons geneig om te doen as ons bang word? Ons is geneig om dan eerder al die deure toe te sluit. Ons probeer so hard om onsself te beskerm van al die slegte goed, dat ons ook in die proses onsself van die goeie goed weerhou.
Moses is vir ons ‘n uitstekende voorbeeld in hierdie teksgedeeltes. God kom na Moses en gee aan hom ‘n ongelooflike toekoms – die kans om ‘n klomp mense uit slawerny te red. Maar steeds haak Moses vas by “wat daarvan as…”: Wat daarvan as die Israeliete nie na my luister nie? Wat daarvan as ek nie goed genoeg praat nie? Wat daarvan as ek dit nie reg kry nie.
Is dit nie dikwels hoe baie van ons gesprekke met God ook gaan nie? “Here, ek gaan ‘n ouer word, maar wat daarvan as ek dit nie reg kry nie?” “Here, ek het die geleentheid om ‘n bevordering by my werk te kry, maar wat daarvan as ek dit nie reg kry nie?” “Here, my kinders wil hê dat ek in ‘n aftreeoord moet bly, maar, Here, wat daarvan as ek ongelukkig is?”
Tog is die Here se antwoord op elkeen van Moses se “wat daarvan as”-se die beklemtoning dat God by Moses is. Eksodus is immers die boek in die Ou Testament waar ons ‘n nuwe Naam vir God hoor. Tot nou toe het ons in Genesis gelees van El – die God wat skep. Tog sê God vir Moses in Eksodus dat God se Naam ook Jaweh is, wat in Hebreeus beteken: “God naby ons”. God is nie net die Skeppergod van die kosmos nie, maar God is ook die God wat in verhouding met die mens is. So vir elke wat as antwoord God: “EK, Jaweh, is by jou.”
Ons wil so graag ‘n klinkklare antwoord vir ons lewens hê. Ons wil weet wat reg en verkeerd, goed en sleg, wit en swart is. Maar die magtigheid van God lê daarin dat God ‘n God van diversiteit is. God is die groot “Wat As” – want in God lê die moontlikheid vir alles wat bestaan en al bestaan het en nog sal bestaan. Daarom is die enigste Een wat eintlik beheer oor lewe het, God. Ja, ons as mens het ook skeppingskrag, maar God is die Een wat laat groei.
So wat daarvan as ons met elke nuwe uitdaging van die lewe, nie vra oor hoe ons dit kan beheer of daarvoor kan wegkruip nie, maar hoe God ons kan laat groei?
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Hoe kan God ons en die gemeente leer groei in die uitdagende tyd van Covid-19?
# Hoe sal ons lewens lyk as ons nie net uit gewoonte by die bekende bly nie, maar God se groei in die uitdagende “wat asse” wil raaksien?
# Watter van jou denke / motiverings dink jy kort ‘n bietjie verandering?
# N.a.v. die gebeure in Amerika – watter denke en motiverings van die wêreld dink jy kort vernuwing?
UITDAGING
In hierdie Bybelstudie wil ons graag emosioneel en geestelik groei. Daarom gaan ons gedurende die “uitdaging”-tyd werk aan ons emosionele boompie. Teken vir jouself hierdie boom af. Na elke ontmoeting, spandeer tyd daaraan om jou boompie “te versorg” deur blare op te teken. Vir elke blaar wat jy teken, moet jy ‘n gedagte van die Bybesltudie neerskryf.
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Mag God wat hemel en aarde geskep het, by jou wees. Mag jy leef in die teenwoordigheid van die Here. En mag jy in die skaduwee van ons God floreer, soos ‘n boom wat by strome van lewende water geplant is. Amen.
Comments