OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS
‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
13 JULIE 2020
Johannes 21:15-19
ONS KOM VOOR GOD…
Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.
Fokus op jou liggaam waar jy nou sit. Voel die stoel waarin jy sit en jou voete op die grond. Haal rustig asem en beleef die oomblik
YSBREKER
# Lees die volgende verhaal en reflekteer daaroor. Wat sê die verhaal vir jou van hierdie Protestantse voorvader van ons, se liefde vir Jesus?
“ In 1567, is Guido de Bres predikant in Valencienne. As hierdie stad na 'n beleg deur Filips II ingeneem word, kan Guido de Bres aanvanklik saam met sy kollegas wegvlug. Maar reeds 'n dag later word hulle tog gevange geneem en in Valencienne se gevangenis aangehou. Toe Guido de Bres hoor dat hy opgehang sal word omdat hy nie die Pous wil volg nie, maar slegs Christus, skryf hy 'n afskeidsbrief aan sy vrou. Sy sal met vyf jong kinders agterbly. Hy troos haar en herinner haar om getrou aan die Here te bly. En om Hom tot die einde toe te volg.
En dan sê hy: "Liewe vrou en suster, ek is uitgenooi na die bruilof van my Heer en mag al spoedig ingaan." Guido de Bres getuig van sy geloof-blydskap waarmee Hy sy Heer en Heiland volg. Selfs tot op die oomblik dat die leer van die galg onder hom uitgetrek word en sy liggaam na benede val.”
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
Jesus ons loof U. Retief Burger
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
Net soos ek is- Oscar Ehrensperger
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 175 Majesteit
TEKS
* Lees Johannes 21:15-19 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Johannes 21:15-19 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Om lief te hê soos Jesus is om Jesus lief te hê. Hierdie is die laaste in die reeks: Om lief te hê soos Jesus. Jesus se indringende vraagstelling aan Petrus of hy Sy Meester lief het, daag ons uit om te antwoord op die hele reeks sovêr.
Heelnag was die dissipels uit op die see, besig om vis te vang, sonder sukses. Dan verskyn Jesus aan hulle. Op sy bevel gooi hulle weer die nette uit en vang ’n groot klomp vis. Toe hulle aan land kom sien hulle Jesus wat vis braai op ’n vuurtjie op die strand. Hy nooi hulle om te kom eet.
Daar was nie lank voor hierdie episode nie ’n ander vuurtjie in die binnehof van die Hoëpriester se woning. Die een waar Petrus sy hande warm gevryf het toe hy Jesus verloën het. Nou is daar weer so ’n vuur.
Hierdie keer kry Petrus weer die geleentheid om oor sy verhouding met die Here Jesus te besin. Drie maal verloën, drie maal kom die kans tot hertoewyding. “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hulle hier? En meer as al hierdie dinge – die skuit en die see en die nette? Meer as jou beroep?” Is jy bereid om al hierdie dinge prys te gee om my te volg?
“Ja, Here, U weet dat ek U lief het.” “Laat my lammers wei.” “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here, U weet dat ek U lief het.” “Pas my skape op.” “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” En Petrus het hartseer geword. Na ‘n drie-tal verloëning was die drie-tal herstel te veel vir sy emosies om te hanteer. “Here, U weet alles. U weet dat ek U lief het.” “Laat my skape wei.”
Jesus se vrae aan Petrus oor sy liefde vir Hom is ’n vraag waarmee ons almal gekonfronteer word. Jesus verwag egter nie meer van Petrus as wat hy kan gee nie. Jesus is terdeë daarvan bewus dat ons, Sy dissipels, maar broos en feilbaar is. Petrus is vir ’n oomblik net die seun van Johannes, nie die rots nie. Petrus het gedink dat Sy liefde vir Jesus groter as die van die ander dissipels was. Nou dink hy nie meer so nie. Daar het ’n besef van sy eie gebrokenheid by Petrus gegroei. Jesus gee Petrus kans om die verhouding tussen hulle twee weer op vaste voet te bring. Jesus se liefde begin altyd voor met ons.
Elke keer wat Petrus gekonfronteer word met sy liefde vir Jesus word hy ook vertrou met ’n opdrag om Jesus se kudde te versorg. Liefde vir Jesus is nie maar net leë woorde nie. Jesus se liefde stel ons in staat om Hom daadwerklik en ten spyte van lief te hê. Ja, ook om te sterf vir ons Here, soos die martelaarsdood wat Petrus ook later sou sterf. Jesus liefde vra opoffering. Dit beteken om jou kruis op te neem en Jesus te volg. Soos ons ook in die hele reeks probeer uitwys het, as ons Jesus lief het, het ons ook ons medegelowiges en ander buite die kring van die gemeente lief. Die groot gebod koppel mos liefde vir God en jou naaste aan mekaar. Het jy Jesus lief, meer as...?
Ons is swak en feilbaar maar die Here is genadig. Ons struikel baie keer, maar dit neem niks weg daarvan dat ons steeds geroep word om Jesus met hart en siel, met al ons krag lief te hê nie. Onthou dat jy Hom volg op die kruisweg. Dit is op die weg waar die erns van ons liefde getoets sal word. Weer het ons die versekering: Niks, nie eens ons gebrekkige liefde, kan die band tussen ons en Hom verbreek nie. Sy liefde wek by ons wederliefde en Sy liefde dra ons. Daarom kan ons Hom liefhê.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Stel jouself in Petrus se plek. Hoe sal jy antwoord as Jesus jou sou vra: “Het jy my waarlik lief?
# Ons sê soms dat ons ons harte vir die Here gegee het. Wat gebeur as mens nèt jou hart vir die Here gee, maar nie ook jou hande en voete en mond en lewe nie?
# Dalk voel jy dat jy die Here gefaal het. Kom nou na Hom toe en sê opnuut vir Hom: “Ek het U hartlik lief, o Heer.”
UITDAGING
Lees gerus weer die verhaal van Guido de Bres wat in die “Ysbreker” hierbo verskyn het. As die verhaal van jou toewyding aan Jesus vertel sou word, wat sou jy graag wou hê moes mense van jou onthou?”
AFSLUITING
* Bid die gebed vir jouself en daarna vir die groep.
Liedboek 505:1. “ Jesus, U gaan voor, ons volg in U spoor. U. ken alle lewenspaaie, al die hoogtes dieptes, draaie. Kom en vat ons hand, na die Vaderland.”
Σχόλια